Jan Vermeulen het pas LAPA se Jeugromankompetisie 2015 met Abbakind gewen. Hy beantwoord Naomi Meyer se drie vrae oor dié boek.
Hallo Jan, geluk met die bekroning van Abbakind. Jy is al dikwels vir jou skryfwerk bekroon en die koerante praat van jou as 'n skrywer-dominee. Vertel vir ons lesers iets meer van jou en hoe jou betrokkenheid as dominee jou skryfwerk beïnvloed, indien dit volgens jou 'n effek het.
My liefde vir skryf was ‘n baie vroeër ontdekking as my liefde vir die bediening. Ek het begin met tekenboekies in sub B. My eerste kortverhaal in die destydse jeugtydskrif Patrys is net na my 14de verjaardag gepubliseer: “Sneeuprins van Alaska”; en “toevallig” was die een hoofkarakter ook ‘n hond, soos in Abbakind. Daarna volg jare van droogte, hoewel ek elke dag van my lewe bly skryf het, net soos nou. Ek sou dus eerder sê dat my skryfwerk my betrokkenheid as dominee beïnvloed. Ek hou nie van ‘n gepreek nie, maar ek hou van stories vertel, iets soos gelykenisse; stories met stories agter die stories.
Waar het jy die idees vir jou storie gekry? Is enige van hierdie gebeure op die werklikheid gebaseer?
Abbakind is suiwer fiksie; elke karakter is negentig persent fiktief. Maar hulle verteenwoordig bekende mense en bekende intriges rondom ons. Vir jare was ek betrokke by jongmense (geestelike jeugkampe, jeugaksies, jeugberading). My eie kinders was mos ook eers kinders en hulle vriende was ook kinders. Een ding wat my by die idee vir die skryf van hierdie roman gebring het, was die besef dat jongmense te dikwels uitgelewer is aan ons grootmense se grille en geite en besluite en oordele (selfs wat hulle geestelike en spirituele lewe betref). En wat te dikwels dan verkeerd verstaan word.
Waarom vir jonger mense skryf? En het jy dalk enige ideale leser in gedagte as jy skryf?
Ek hoop nie dit klink verwaand nie, maar ek voel om in die bres te tree vir die jongelinge. En terselfdertyd vir hulle te laat glo in hoop en in hulleself. En om hulle lees te laat geniet. En miskien inspireer my geskryf weer ‘n paar jonges om ook te begin skryf.