
Paddaboudjies en Kalasjnikofs deur Bruno Andries (uitgegee deur NS. Skrywershuis, 2023)
Bruno Andries is ’n vertaler, skrywer en liedjieskrywer van Sedgefield. Sy boek Paddaboudjies en Kalasjnikofs het onlangs by NS. Skrywershuis verskyn.
Anne Marais, ’n onafhanklike joernalis, kommunikasiekonsultant, teksredakteur en vertaler, het met hom gesels.
Waaroor handel Paddaboudjies en Kalasjnikofs?
Dit is gebaseer op my wedervaringe as vertaler en tolk in Afrika, hoofsaaklik Mali en Madagaskar. Dit bevat ook agtergrondinligting oor korrupsie en belangrike gebeurtenisse in Afrika en die wêreld. Daar is aksietonele, ’n paar noue ontkomings, eksotiese plekke en vreemde kos, Russiese huursoldate, korrupte politici en ’n Learjet met ’n beeldskone vroulike medevlieënier wat sorg vir ’n vleugie romanse.
Vanwaar die titel?
Die “Kalasjnikofs” was vanuit die staanspoor redelik voor die hand liggend, aangesien die Kalasjnikof onlosmaaklik deel is van baie probleme in Afrika en ook ’n belangrike deel is van die storielyn. Ek wou ’n titel kies wat die verbeelding van die lesers sou aangryp en toe besluit ek om paddaboudjies, wat deel vorm van die humoristiese ondertoon van die verhaal, te kombineer met die meer dramatiese “Kalasjnikofs”. Toe word dit Paddaboudjies en Kalasjnikofs.
Wat was jou motivering om die boek te skryf?
Ek soek altyd ’n nuwe uitdaging. In my loopbaan as vertaler en tolk wat strek oor vier dekades, was ek onder andere die redaksionele bestuurder van die Eskom-woordeboek. Ek het ’n paar jaar gelede ’n reeks van 13 insetsels gedoen vir RSG se Musiek sonder grense oor die Europese oorsprong van Afrikaanse treffers. ’n Stuk of vyftien van my lirieke is opgeneem in Afrikaans, Engels, Frans en Spaans deur kunstenaars soos Karen Zoid, Helena Hettema, Lizanne Barnard, Die Jaloersbokkies, Maritza en Fransisca Liebenberg. ’n Hele paar van my gedigte is gepubliseer in verskeie bundels en bloemlesings. Ek het gedigte vertaal uit omtrent 15 tale. Ek het ’n paar jaar gelede Le Petit Prince in Afrikaans vertaal en ’n paar van my kortverhale is gepubliseer.
........
Ek het besluit om my wedervaringe as vertaler en tolk as hooftema te gebruik omdat dit my oor die jare toegang gegee het tot baie interessante feite en gebeure.
........
Ek het toe besluit om myself uit te daag om die volgende projek aan te pak: die skryf van ’n boek. Dit was ’n logiese keuse. Ek het besluit om my wedervaringe as vertaler en tolk as hooftema te gebruik omdat dit my oor die jare toegang gegee het tot baie interessante feite en gebeure.
Hoe het jy die skryfproses ervaar?
Ek het redelik fluks weggespring en gouer as wat ek verwag het aan die einde gekom. Toe het ek egter besef dat die storie te min om die lyf gehad het en daarom het ek op sekere aspekte begin uitbrei. Ek het ook terugflitse na my jeug en loopbaan ingesluit om dit meer persoonlik te maak. Ek was in ’n stadium onseker of dit gaan werk en het die manuskrip uitgetoets op jou (Anne Marais) en Carla van der Spuy wat daarvan gehou het en my aangemoedig het om deur te druk en voort te gaan met publikasie. Dit verg ’n spanpoging om ’n boek te druk en uit te gee en daar is ’n hele paar mense betrokke agter die skerms.
Wat is die bron van jou kreatiwiteit?
Soos ek in my boek sê, het ek ’n assosiatiewe brein wat ’n kreatiewe idee vinnig laat ontwikkel. As ek iets raaksien of raaklees wat in iets kan ontwikkel, maak ek ’n nota en spring soms onmiddellik aan die werk of bêre die idee vir later. Die “iets” kan ’n gedig of lied wees, of in hierdie geval ’n boek. Daarvandaan groei dit organies. Dit beteken ek skryf soms ’n kreatiewe idee neer in die middel van die nag. Daarom hou ek altyd ’n stuk papier en pen byderhand op my bedkassie.
Wie het die boek se voorblad geïllustreer?
Ek het eers self daarmee rondgespeel en ’n paar idees vir die uitgewer voorgelê en Nico Schamrel het dit verder ontwikkel en daarop verbeter. My ou klasmaat uit België, Jan de Zutter, ’n baie veelsydige skrywer, voormalige joernalis en kunstenaar, het die skets van die mooi agterstewe en Kalasjnikof gemaak wat ons toe by Nico se grafiese ontwerp ingesluit het. Die boudjies is ’n speelse verwysing na die paddaboudjies, maar verwys eintlik na Lisa, die mooi medevlieënier van die Learjet, wat een van die hoofkarakters is.
Hoe het jy op ’n illustreerder besluit?
My ou klasmaat Jan de Zutter het destyds, voor ek die boek geskryf het, gesê hy sal graag ’n illustrasie vir my doen as ek eendag ’n boek skryf. Toe ek hom nader om te laat weet ek het uiteindelik die boek geskryf, het hy onmiddellik aan die werk gespring. Die res het vanself gebeur. Toe ek my aanvanklike sketse vir Nico stuur saam met Jan se skets het Nico die afrondingswerk gedoen.
Hoe en hoekom het jy op die uitgewer besluit?
Ek was onseker en het Carla van der Spuy genader vir advies. Carla het die uitgewer (NS. Skrywershuis) aanbeveel. Ek het Nico Schamrel gekontak en hy en sy span het my vanuit die staanspoor met raad en daad bygestaan en ondersteun. Dit was ’n goeie besluit en keuse.
Die boek is ’n vermenging van feite en fiksie. Hoeveel daarvan is feite en hoeveel is fiksie?
Al wat ek kan sê, is dat die agtergrondinligting oor die politieke gebeure en my loopbaan baie waarheidsgetrou is. Ek het besluit om dit hier en daar bietjie aan te dik met ’n paar gebeurtenisse wat nie noodwendig fiksie is nie, maar dalk ook nie die reine waarheid is nie. Die hallusinasies as gevolg van malariamedikasie en die benoude oomblikke in die Learjet is alles 100% waar. Ek het party van die karakters se name behou, ander se name verander en ’n paar name weggelaat weens die sensitiewe aard van wat hulle aangevang het. Ek het al die BBP’s ontmoet waarna ek verwys en al die vreemde kosse geëet wat ek noem. My destydse werkgewer het dit werklik oorweeg om my Frankryk toe te stuur onder die dekmantel van ’n boekwinkeltjie in Parys om die destydse sanksies te probeer fnuik. As ek moet raai, sou ek sê dat meer as driekwart van die verhaal op feite gebaseer is, met hier en daar ’n stertjie of twee wat aangelas is vir dramatiese effek. Hopelik het ek dit reggekry om die leser aan die raai te hou oor watter dele dalk nie heeltemal waar is nie.
Jou boek eindig met ’n romantiese toneel. Dink jy mans benader die skryf van romantiese tonele anders as vroue?
Ek is nie ’n skrywer van romantiese fiksie nie en het nie probeer om een te wees nie. Ek het eerder probeer om die romantiese dele so natuurlik moontlik te hou, sonder om te beskrywend te raak maar met ’n goeie dosis humor daarby. Die romanse is deel van die verhaal, maar ek wou geen grafiese tonele probeer beskryf nie. Ek wou nie alles wys en vertel nie; die lesers moet hulle verbeelding inspan. Ek vermoed ’n vroulike skrywer sou die liefdestonele en romanse heel anders benader en beskryf het.
Het die boek aan jou verwagtinge voldoen?
Die skryfproses, vanaf die aanvanklike konsep, was baie uitdagend maar ook aangenaam en leersaam. Ek is tevrede met die eindproduk en dink dit het goed uitgekom vir my debuut as skrywer. Dis egter baie moeilik om as onbekende skrywer die leserspubliek se aandag te trek. Daar is dalk ’n stuk of tien Afrikaanse skrywers wat die mark oorheers en dis moeilik om met hulle mee te ding. Daar is ’n paar skrywers van speur- en misdaadverhale en ’n paar skrywers van romantiese fiksie wat baie produktief en suksesvol is. Boonop moet mens meeding met bekende persoonlikhede wat ook baie blootstelling kry wanneer hulle ’n boek skryf.
Waarmee is jy tans alles besig?
Ek werk nog voltyds as vryskut-beëdigde vertaler vir Frans, Afrikaans, Nederlands en Duits. Ek hoop om my Afrikaanse vertaling van Le Petit Prince, wat tans slegs as e-boek beskikbaar is, ook in gedrukte vorm te laat verskyn. Verder hoop ek om later vanjaar my eerste Nederlandse lirieke te laat toonset en opneem deur ’n bekende Afrikaanse kunstenaar wat ook in Nederlands en Frans sing.
Wat beplan jy vir die toekoms?
Ek soek altyd nuwe uitdagings om gestalte te gee aan my kreatiewe idees. Ek wil graag een of meer van die 13 kinderverhale wat ’n paar jaar gelede op RSG voorgelees is, in een of ander vorm laat publiseer, hopelik met illustrasies. Ek skryf nog gereeld gedigte, kortverhale en lirieke en hoop om eendag ’n radiodrama of musiekblyspel te skryf. Ek het ’n paar jaar gelede ’n rol as figurant gekry in die nuwe weergawe van Fiela se kind, maar moes op die laaste nippertjie onttrek weens persoonlike omstandighede. Daarom sal ek graag ’n rolletjie speel in ’n televisiereeks, fliek of musiekvideo.
Lees ook:
Bruno Andries se Naledi-vertaling van Die klein prinsie: ’n onderhoud
Kommentaar
Hoop regtig Bruno Andries se boek Paddaboutjies en (daai groot woord!) verkoop so flink dat dit in 173 herdrukke kan gaan en hy sy eie Lear Jet kan koop en Lisa permanent kan "aanstel" as sy vlieënier. Dit is n verrassende, vars, intelligente boek met n goeie skeut humor tussen die tand knersend gedeeltes. 'n Heerlike lees! Dankie Bruno en Nico vir die publikasie.