
Die klein prinsie (e-boek) vertaal deur Bruno FA Andries is hier beskikbaar.
Die klein prinsie
Antoine de Saint-Exupéry
vertaal deur Bruno FA Andries
Uitgewer: Naledi (2023)
ASIN: B0BK5537L5
Naomi Meyer praat met Bruno Andries oor Bruno se vertaling van die teks, wat onlangs as e-boek by Naledi verskyn het.
Bruno, ek hoor jy het Die klein prinsie in Afrikaans vertaal. Die boek het in 1946 in sy oorspronklike taal, Frans, verskyn en is vantevore deur André P Brink in Afrikaans vertaal. Die toneelstuk was ook op die planke in 2017 (by die Vrystaatse Kunstefees; Naomi Mòrgan se vertaling). Vertel my van jou persoonlike reis met die boek en storie?
Ek het laas jaar op ’n volkleurweergawe van Le Petit Prince in ’n liefdadigheidswinkel afgekom en het dit onmiddellik gekoop. Skaars ’n week later kom ek in dieselfde winkel op ’n CD af met ’n voorlesing deur die Franse akteur Pierre Arditi en 11 komediante. Ek is nie bygelowig nie, maar soms moet mens na oënskynlike toeval luister. Dit het my laat terugdink aan my eie weergawe wat ek op hoërskool in België gelees het, en wat ek toe tussen my honderde ander boeke en woordeboeke opgespoor het. My navorsing het gewys dat dit nog nie as e-boek in Afrikaans beskikbaar was nie, wat my laat besluit het om dit te hervertaal. Ek was eers huiwerig om dit te vertaal weens Brink se vertaling, maar het toe besef dat sy vertaling ook al redelik oud is.
Om ’n boek te vertaal, beteken dat jy die skrywer se taal en segswyses moet verstaan en getrou daaraan moet bly. Het jy al vantevore boeke vertaal, en waarom toe juis Die klein prinsie?
Ek het in 2011 ’n kinderverhaal vir Fantasi uit Frans vertaal, en vertaal ook gereeld gedigte en lirieke. Ek vertaal vir ’n lewe, en hoewel mens nie juis geld maak uit literêre vertalings nie, is dit baie bevredigend. Die klein prinsie het na al die jare weer oor my pad gekom en was ’n goeie keuse, aangesien die kopiereg verstryk het. Kopiereg en vertaalregte maak die meeste vertalings baie duur en dikwels onlewensvatbaar.
.........
Met literêre vertalings is die skrywer belangriker as die vertaler. Die vertaler se enigste rol is om die skrywer se werk in ’n ander taal vir anderstalige lesers te ontsluit. Mens moet die brontaal en doeltaal uiteraard albei goed beheers en die idiomatiese uitdrukkings en fyner nuanses kan weergee in die doeltaal sonder om dinge weg te laat of by te voeg.
.........
Met literêre vertalings is die skrywer belangriker as die vertaler. Die vertaler se enigste rol is om die skrywer se werk in ’n ander taal vir anderstalige lesers te ontsluit. Mens moet die brontaal en doeltaal uiteraard albei goed beheers en die idiomatiese uitdrukkings en fyner nuanses kan weergee in die doeltaal sonder om dinge weg te laat of by te voeg. Die vertaler is die tussenpersoon tussen die skrywer en die leser. My doel was om Le Petit Prince so te vertaal soos Antoine de Saint-Exupéry dit sou geskryf het indien hy Afrikaans magtig was.
Waarom wou jy die boek in Afrikaans vertaal?
Ek het gereeld gehoor mense hou nog steeds van Die klein prinsie en wou dit weer eens onder die wye publiek se aandag bring en dit as e-boek binne almal se bereik plaas, ook vir Afrikaanssprekendes oorsee. Dis bekostigbaar en in ’n oogwink beskikbaar op enige plek in die wêreld.
Hoe verskil jou vertaling van André P Brink s'n, dink jy? Waarom is daar veranderinge, en wat is dieselfde?
Die eerlike antwoord is: Ek weet nie. Ek kon nie Brink se vertaling lees voor ek self die boek vertaal het nie, omdat dit my vertaling sou kon beïnvloed. Ek het ook nog nie Brink se vertaling gelees na ek my vertaling voltooi het nie. Ek sal dit dalk eendag lees en met my vertaling vergelyk. As ek moet raai, sou ek dink Brink het moontlik sy eie stempel as skrywer meer op die vertaling afgedruk as wat ek gedoen het. Ek het probeer om so naby as moontlik aan die oorspronklike te bly, dit in idiomatiese Afrikaans vertaal en effens moderner gemaak.
Wat het jy van hierdie bekende verhaal ontdek toe jy dit vertaal het?
..........
Die tydloosheid van die verhaal het uitgestaan. Die fyn spot van Saint-Exupéry met mense wat dink hulle doen belangrike dinge is vandag geldiger as ooit. Die mallemeule van die daaglikse bestaan laat mense vergeet wat regtig belangrik is in die lewe. Dis ook duidelik dat dit nie eintlik ’n kinderverhaal is nie. Kinders en volwassenes kan dit lees en op verskillende vlakke waardeer.
.........
Die tydloosheid van die verhaal het uitgestaan. Die fyn spot van Saint-Exupéry met mense wat dink hulle doen belangrike dinge is vandag geldiger as ooit. Die mallemeule van die daaglikse bestaan laat mense vergeet wat regtig belangrik is in die lewe. Dis ook duidelik dat dit nie eintlik ’n kinderverhaal is nie. Kinders en volwassenes kan dit lees en op verskillende vlakke waardeer. In daardie opsig kan mens dit dalk vergelyk met Asterix. Die grootmense, soos Saint-Exupéry hulle noem, kan baie by die prinsie leer.
Vertel ook van jou en jou eie agtergrond – wat is jou ander belangstellings? Jy skryf ook in ander tale, soos musiek.
Ek is ’n beëdigde vertaler vir Frans, Nederlands, Afrikaans en Duits, maar hou ook baie van kreatiewe skryfwerk. ’n Paar jaar gelede het Christel van Tonder 13 kinderverhale wat ek geskryf het, op RSG voorgelees. My lirieke in Afrikaans, Frans, Engels en Spaans is opgeneem deur oa Helena Hettema, Karen Zoid, die Jaloersbokkies, Lizanne Barnard, Fransisca Liebenberg en Maritza.
Ek skryf ook kortverhale en poësie en ’n paar van my kortverhale en gedigte is in verskeie bloemlesings gepubliseer.
Ek het hierdie jaar ook my eerste novelle geskryf, wat deur NS Skrywershuis uitgegee is. Die naam is Paddaboudjies en Kalasjnikofs en dit is gebaseer op my ervarings as tolk in Afrika. Dis ’n vermenging van feite en fiksie.
Jy is van 'n ander land afkomstig. Hoeveel tale is jy magtig? En hoe ondervind jy, as Belg, die verhouding tussen Vlaams en Frans? Hoe lyk sake vir jou wat wrywing tussen tale betref hier in Suid-Afrika?
Ek het op hoërskool in België saam met my ander vakke Latyn, Grieks, Nederlands, Frans, Engels en Duits studeer tot in matriek. Ek het ook Russies deur Unisa studeer, maar amper alles vergeet.
Ek is effens uit voeling met die taalkwessies in België, maar dit lyk asof kleinlike politiek die kloof tussen Vlaams en Frans al hoe wyer maak, wat vreeslik jammer is. Dit het selfs gelei tot federale regerings in België, wat ’n onbekostigbare speletjie is. Dit lyk asof al hoe minder kinders Nederlands en Frans leer, maar eerder Engels of Spaans as tweede of derde taal verkies.
Taal behoort as kultuurgoed beskou te word, maar raak alte dikwels ’n politieke speelbal. In Suid-Afrika is die kloof tussen die tale dalk kleiner, omdat daar so baie tale betrokke is. Ek kry die gevoel dat ’n betreklik klein minderheid Afrikaanssprekendes anti-Engels is agv die geskiedenis. Dis goed om meertalig te wees, maar dit help ook nie om ’n taal aan te leer wat mens nie gereeld gebruik nie. Taal moet ’n kommunikasiemiddel wees, nie ’n politieke speelbal nie.
Waar kan mense jou Prinsie-boek koop?
Die klein prinsie is as e-boek beskikbaar by Naledi. Ek hoop om dit ook in gedrukte vorm te laat uitgee, maar die drukkoste was te hoog agv die volkleurillustrasies, en die lewensvatbaarheid moet nog verder ondersoek word.
Lees ook:
Kommentaar
Ek het die kommentaar van Bruno baie geniet en as Vlaming stem ek saam met hom dat meerdere tale 'n rykdom is, ook deur die kennismaking met die kultuur. Dis ook my ervaring met Afrikaans soos ook met Frans, Duits, Italiaans en Spaans. Ek het ook die klassieke tale as Grieks en Latyn studeer dis hoekom ek altyd vir my kinders en studente vertel: ‘Zeg me hoeveel talen je spreekt en ik zal je zeggen hoe rijk je bent’.
Mense wat net Engels as monokultur koester is arm. Skuus vir my VL-Afrikaans.
Laat weet Bruno wanneer jou boek oor ‘Die klein prinsie’ in boekvorm verskyn dan kan ek dit koop vir my kleinkinders
Daar word aannames oor Brink (waarskynlik een van ons beste vertalers) se weergawe gemaak sonder dat die skrywer hierbo dit ooit gelees het, trouens, hy gee voor hy het dit doelbewus nie gelees nie. In 'n vertaalprojek van hierdie aard is dit juis belangrik om alle weergawes te lees.
Ek merk ook nie melding van Naòmi Morgan se 2017-vertaling nie.
Dit sou verbasend wees as daar 'n noodsaak is vir nog 'n vertaling nadat beide bogenoemde deskundiges dit reeds met onderskeiding gedoen het.
Daar is verskeie befondsingsopsies, sou die boek oor die nodige meriete beskik.
Die man het darem 'n hoë dink van homself as hy dink hy verbeter op Andre P Brink se werk en dit terwyl hy nog nie Brink s'n gelees het nie. En die verwaandheid: "As ek moet raai, sou ek dink Brink het moontlik sy eie stempel as skrywer meer op die vertaling afgedruk as wat ek gedoen het. Ek het probeer om so naby as moontlik aan die oorspronklike te bly, dit in idiomatiese Afrikaans vertaal en effens moderner gemaak" .
Geluk Bruno! Mag die prinsie vlerke kry…! Voorspoed 🌱