Vertaalkompetisie: Supermark in Hillbrow

  • 0

Ek dink aan jou vannag, Eugène Marais, terwyl ek deur die strate stap onder die bome met hoofpyn en selfbewus loer na die volmaan.

In my honger moegheid, van winkel tot winkel lopend op soek na beelde, het ek by die neon-vrugtesupermark ingestap, dromend van jou opsommings!

Kyk al die perskes en die halfskaduwees! Hele families wat snags inkopies doen! Gange vol mans! Vrouens in die avokado’s, babas in die tamaties! En jy, C Louis Leipoldt, wat het jy gemaak daar onder by die waatlemoene?

Ek het jou gesien, Eugène Marais, kinderlose, eensame ou ghrop, hoe jy rondvroetel tussen die vleis in die koelkas terwyl jy na die groentejongens loer. Ek het gehoor hoe jy vir hulle vra: Wie het die varktjops doodgemaak? Hoeveel kos die piesangs? Is jy my Skoppensboer? Ek dool rond tussen die blink stapels blikkies agter jou aan, en ek word in my geestesoog deur die veiligheidswag agtervolg. Ons het lang treë gegee deur die oop gange saam in ons eensame lus, ons het artisjokke geproe, elke gevriesde delikatesse besit, sonder om ’n sent te betaal.

Waarheen is ons op pad, Eugène Marais? Die deure maak oor ’n uur toe. In watter rigting wys die punt van jou baard vannag?

(Ek raak aan jou boek en droom van ons Odussee in die supermark en voel absurd.)

Gaan ons die hele nag deur eensame strate loop? Die bome oorskadu die skadu, die ligte is uit in die huise, ons sal al twee eensaam wees.

Gaan ons slenter en droom van die ou Suid-Afrika van liefde verby blou karre in opritte, huis toe na ons stil kothuis?

Ag, liewe vader, grysbaard, eensame ou koerasieleermeester, watter Suid-Afrika het jy gehad toe Kharon opgehou het om sy veerboot met sy paal vooruit te stoot en jy uitgeklim het op ’n smeulende oewer en toegekyk het hoe die boot verdwyn op die swart waters van Lethe?

 

[Vertaal deur Bruno Andries. Oorspronklike gedig deur Allen Ginsberg.]
 

Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top