Hennie van Deventer

Jakob Hendrik (Hennie) van Deventer (80) was sy lewe lank koerantmens. Hy was met sy uittrede in 1998 uitvoerende hoof: Koerante van Naspers. Van 1980 tot 1992 was hy redakteur van Die Volksblad (nou Volksblad) in Bloemfontein. Naspers het in 1997 sy hoogste eerbewys, die Phil Weber-medalje, aan hom toegeken vir “die nalatenskap wat hy in elke fase van sy loopbaan van 35 jaar gelos het”.

Ander eerbewyse: Van die Hoër Volkskool, Potchefstroom, by die skool se 75ste verjaardag die erepenning vir ’n oud-Volkie wat op nasionale en/of internasionale vlak presteer het (1997). Van die Universiteit van Pretoria: Laureatus-kleure ter erkenning van buitengewone prestasie (1988). Van die Bloemfonteinse stadsraad: ’n oorkonde as stigter van Die Volksblad se Kunsmark (1981). Van die Bloemfonteinse Publisiteitsvereniging: ’n medalje vir gemeenskapsbetrokkenheid (1989). Van die Universiteit van die Vrystaat: ’n Eeufeesmedalje vir sy rol as raadslid en redakteur van Die Volksblad (2004).

Direksies en rade: Hy het gedien in die direksies van Nasionale Media Bpk (die eerste dienende redakteur van Die Volksblad in die direksie), Rapport-Uitgewers Bpk, Worcester Standard Electric Press Ltd, die Suid-Afrikaanse Persvereniging (Sapa) en die Drukmedia-Assosiasie van Suid-Afrika. Hy was lid van die uitvoerende rade van die Wêreldvereniging van Koerante (WAN), die Afrikaner-Broederbond, die UOVS, die Technikon OVS en die Bond van Oudstudente van UP.

Voorsitterskappe: Hy was voorsitter van onder meer die Nuusblad-Assosiasie van Suid-Afrika (voorheen NPU), die SA Vereniging van Nieman Fellows, die Vrystaatse tak van die Bond van Oud-Studente van UP, die Bloemfonteinse Junior Rapportryerskorps en die direksie van Worcester Standard Electric Press Ltd.

Genootskappe: In 1976/77 verwerf hy die gesogte Nieman Fellowship vir joernaliste vir ’n jaar se studie aan die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts, VSA. Deur Drukmedia SA word hy in 1998 as een van die eerste lewenslange Genote ("Fellows") aangewys.

Boeke: Hy is die skrywer van 22 boeke, onder meer Scoops en skandes (Tafelberg, 1993), Flaters en kraters (Tafelberg, 1996), Oos, wes – Reismoles (Human & Rousseau, 1998), Kroniek van ’n koerantman (Tarlehoet, 1998), ’n Vriend vir altyd (Human & Rousseau, 2000), In kamera (Protea Boekhuis, 2003), Byl in my bos (Griffel, 2010), Praat-praat in Tamatiestraat (Griffel, 2010), Bure van nature (Protea, 2021) en Koerantkamerade (Naledi, 2021).

Organisasies: Hy is lid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Afrikanerbond, die FAK, die Erfenisstigting, die Vriende van die Voortrekkermonument en die Probusklub van Bloubergstrand, waarvan hy twee termyne president was.

Koerantloopbaan: Hy was onder meer parlementêre verslaggewer, hoofsubredakteur en nuusredakteur van Die Volksblad, asook die eerste nuusredakteur en die adjunkredakteur van Beeld. In 1980, op ouderdom 39, is hy aangestel as redakteur van Die Volksblad.

Hennie het as redakteur internasionale konferensies oor die perswese en oor die politiek bygewoon in die VSA, Europa, Brittanje en Australië, ook as referent. Artikels uit sy pen het onder meer in die boek Joernalistiek vandag en die vaktydskrifte Nieman Reports (VSA) en Ecquid Novi (SA) verskyn. Hy was ’n beoordelaar in die Frewin-kompetisie vir koerante. Hy was ’n stigterslid van die Afrikaanse Studente-Persunie en die skolekoerantkompetisie van die Junior Rapportryers.

Borgskappe: Hennie is die alleenborg van die woord koerant by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Hy is ook ’n borg van die woord joernalis.

Voor 1962: Hy is op 3 Januarie 1941 op Dundee gebore. Hy slaag matriek in die eerste klas (met onderskeidings in Afrikaans en Engels) in 1957, en behaal die graad BA in 1960. Hy slaag al die vakke in die eerste jaar van die graad LLB in 1962. Hy was as student redakteur van die studentekoerant Die Perdeby, en primarius van Kollege-tehuis. Dux-erekleure van UP is in 1961 aan hom toegeken.

Gesin: Hennie is getroud met Tokkie van Deventer van Bultfontein; goue bruilof was op 31 Desember 2016. Kinders is Johan en Marisa. Vier kleinkinders: Jacob en Thomas en Christopher Claassens en Migael van Deventer.

Ruilduiwel, babers en die burgemeester se bodem

Hennie van Deventer SêNet-briewe 2022-12-13

"’n Fris vroulike tennisspeler slaan af dat haar rokkie hoog opwip. Die onderskrif maak lesers wys sy is mev So-en-So wat by die naweek se hengelkompetisie die prys vir die grootste baber gewen het."

Tyd het aangebreek vir die jaarlikse bulletin uit Melkbosstrand

Hennie van Deventer Blogs 2022-12-06

"Stilletjies het nog ’n Desember – Hennie se 81ste, Tokkie se 76ste en ons twee se 55ste saam – op ons afgekom. Hier is die einde van die jaar op ons. Tyd het aangebreek vir die jaarlikse bulletin uit Melkbosstrand."

Elders gesien: Stem van rede raak stil

Hennie van Deventer Elders gesien 2022-10-20

"Die heengaan van skrywer-joernalis Leopold Scholtz, voorste historikus en politieke denker, op 74 is nie heeltemal onverwags nie. Tog tref die finaliteit ’n mens hard."

Elders gesien: "Wel, Goothbaai, Salie"

Hennie van Deventer Elders gesien 2022-09-28

Hennie van Deventer bring in sy LitNet-blog hulde aan Salie de Swardt: "Van Salie sou ek by sy skielike heengaan in ’n hotel in Londen hope anekdotes kon uitryg. Hy was by al sy gravitas iemand met ’n onblusbare humorsin. Waar hy was, was luimigheid nooit ver nie."

Perspoësie en joernalisgedigte

Hennie van Deventer Menings 2022-02-08

"’n Mooi meisie en ’n moord. Dis die resep vir ’n geslaagde koerant volgens ’n digterlike siening van buite. Boesem vrees in by die lesers, dan koop hulle koerante. Dis ’n poëtiese insig van binne."

Die pers, die Broederbond en FW se besluit

Hennie van Deventer, Izak de Vries Onderhoude 2021-11-17

"Ek was in die omgewing toe president George Bush vir De Klerk uit die Withuis bel. Dit was maar een bewys van die internasionale impak. ’n Beter bewys as die Nobelprys kan daar seker ook nie wees nie."

Koerant deur Hennie van Deventer: ’n lesersindruk en gesprek

Sarel Venter, Hennie van Deventer Skrywersonderhoude 2020-12-22

"My groot passie en eerste liefde: die koerant in al sy dinamiese fasette."

COVID-19: Maskermoeg?

Hennie van Deventer Menings 2020-10-08

"Hoe reageer jy as ’n dierbare vriendin, soos haar pikante Swartlandse manier is, jou gesig in haar hande toeskulp en jou met ’n klapsoen groet? Of as ’n goeie buurman onaangekondig jou voordeurklokkie lui sonder ’n masker op die gesig?"

’n Verstrengelde pad

Hennie van Deventer Menings 2020-08-24

"Dat soveel lojale Volksblad-lesers nie meer die voorreg het nie, verteer ek bitter swaar. Hoe my lewe met daardie geliefde koerant verstrengel was, is nie iets wat jy sommer soos ’n ou kleed van jou afwerp en vergeet nie."

Hennie van Deventer onthou een van Volksblad se groot stories

Hennie van Deventer Menings 2020-08-03

"Die 'grootste' koerantstorie van my loopbaan? Ongetwyfeld die sluipmoord op HF Verwoerd op Dinsdag 6 September 1966. Ek was toe hoofsubredakteur."

Skrywersonderhoud: Hennie van Deventer oor Kroniek van ’n koerantman

Naomi Meyer, Hennie van Deventer Skrywersonderhoude 2020-06-29

"Niks stel jou in staat om so sinryk in ’n bepaalde omgewing te funksioneer soos ’n goeie koerant nie. Dit sal ek glo tot my laaste asemteug."

Elders gesien: Korona-bewusmakingsveldtog

Hennie van Deventer Elders gesien 2020-06-01

"Dalk moet die regering liewer die geld wat hy op sy vervelige, verbeeldinglose en nuttelose SMS-kampanje mors, steek in ’n professionele bewusmakingsveldtog met reuse foto’s soos hierdie oral in sekere 'brandpunte'."

50 Blertse blou deur Blouwillem: ’n resensie

Hennie van Deventer Resensies 2019-06-11

"Oor die vraag of sy eie 50 Blertsies die eerbiedwaardige ouma Tinkie se voorkeurlys van verdienstelike pennevrugte sou gehaal het, laat ek my liefs nie uit nie. Die boek is nou nie lelik of banaal of so nie, maar plek-plek … wel … tog stouterig."

’n Kanniedood-koerantman: ’n onderhoud met Hennie van Deventer

Herman Lategan, Hennie van Deventer Onderhoude 2018-02-08

"Nietemin, die behoefte om in Afrikaans ingelig te word, gaan nie verdamp nie; dalk eerder versterk word deur die toenemende politieke inbreuk op die lewensruimte van ons taal. Vir Afrikaanse e-media voorsien ek dus stelselmatige groei namate rekenaargeletterdheid en -gebruik toeneem."

Onderhoud: Hennie van Deventer vertel van die geboorte van die Pendoring

Hennie van Deventer, Naomi Meyer Onderhoude 2016-10-19

"Koerante is in die jare ’80 soos nooit tevore nie in ‘n oorlewingstryd gedompel ... Die Afrikaanse koerant kon inderdaad al hoe dreigender stormwolke vir sy broodnodige advertensies sien aanrol. Iets sou gedoen moes word, maar wat?"

Top