50 Blertse blou deur Blouwillem: ’n resensie

  • 3

50 Blertse blou
Blouwillem
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485308607

Wederom en welkom in ons eie bewoë stukkie wêreld hier op die ondermaanse. Die polisie is so doeltreffend dat hulle 80% van die kere reeds op die toneel is voordat die publiek ’n misdaad kan aanmeld; vroue met spraakgebreke doen in Zoeloeryns afkondigings op lughawens; die hoofstad van Moordwes is ook as Thlokwestroom bekend, en alle kombi’s is ten behoewe van die land se piepols genasionaliseer. 

Danksy Blouwillem Theron en medewerkers deur dik en dun, soos Dik Daan, Boerewors Nel van Ceres, Oom Johnny en Neef Bartel (wat hopelik alger in die tantieme gaan deel) kry ons opnuut uit Tshwanetoria (Pretoria vir oningewydes) ’n insiggewende boek. ’n Eiesoortige kykie onder die deksel word aan die leser gebied na hoe die poerlament (danksy stewige hupstote van die Kroeptas, Moergabes an andere) sake bekook terwyl Eksdom ons letterlik en figuurlik in die duisternis hou.

Moenie skrik nie, swaarbelaste ou volkie. Hierdie is geen swaarwigtige politieke boek vol statistieke, projeksies en toekomskundige visies nie. Blouwillem Theron is so plus-minus almal se pel in die suiwerste verskyningsvorm van die betekenisvolle begrip. Die wye verskeidenheid onderwerpe wat hy en sy vriende aanroer, is die dinge waaroor pelle praat as die geselskap op dreef raak.

Min weet dit seker nie, maar Blouwillem is die man wat, ondanks sy kleurryke naam, Maandae vir duisende minder blou help maak met sy rubriek oor alles en nog wat in Beeld. Die Burger en Volksblad – stigtelike leesstof wat nie sommer in ligsinnige Vuisboekboodskappe, op Wat’sApe en in Twieters rondflenter nie (en vir seker ook nie te vinde is in die gratis Kroektakoerant wat vir elke lugpassasier verpligtend is nie). ’n Derde boek, 50 Blertsies Blou, met ’n keur uit die Maandagskrywes is pas deur Protea Boekhuis gepubliseer. Mooi skoot, Protea! 

Of dit tot my eer strek of tot die skrywer s’n, is nie vir my om oor te oordeel nie, maar ons twee glo albei sterk aan die krag van die geskrewe woord. As ons van boeke praat, praat ons nie van daai ding wat met knoppies werk en soos ’n klein laptop lyk nie. Ons praat van ’n ding wat op papier gedruk is en wat jy kan saamneem na die kleinste plek in die huis of in eensaamheid bed toe. 50 Blertsies Blou is vir sulke gewigtige alleenoomblikke (en ’n paar ander) uitgeknip.

Willem se liefde vir boeke is deur sy oorlede moedertjie (ouma Tinkie) ingegee. Haar veelseggende geskenkboeke vorm feitlik ’n opsomming van sy lewe, verklap hy: Vaaljas die eensame donkie, Enid Blyton se Knikkop-reeks, Trompie, Die Uile, Joof en sy maats, Swart Kat, Rooi Jan, Die Franse Vreemde Legioen, Doc Immelman, FA Venter, Wat elke seun moet weet, Te vinnig innig, 365 dinge wat elke man moet weet, Men in midlife crisis en Sorgvrye aftrede,

Oor die vraag of sy eie 50 Blertsies die eerbiedwaardige ouma Tinkie se voorkeurlys van verdienstelike pennevrugte sou gehaal het, laat ek my liefs nie uit nie. Die boek is nou nie lelik of banaal of so nie, maar plek-plek … wel … tog stouterig. Ek wonder so in my stilligheid hoe dames met ferme standpunte oor sulke sake soos die Amanda Gouwse van hierdie dag en dae van sekere Blouwillem-beklemtonings sal hou, soos sy ode aan die onthullende bikini op haar (?) 70ste en sy verwondering toe hy ontdek nie alle meisies het swart sterre op hul noordelike dele nie. Ons lees ook van die rondborstige studentnooi met die T-hemp wat lui “Alles is nie plat in Bloemfontein nie” en die tikster by die destydse Publikasieraad wat ’n briefie uitgestuur het met die edik oor ’n tydskrif (Speelseun, meen ek) wat met die banvloek getref is weens die verbode vertoning van piepie se hare!

Hoop nie Blouwillem neem my, aan die ander kant, kwalik as ek een van sy sappigste stories in geografiese besonderhede hier lug gee nie. Dit is na aanleiding van die berugte Schweizer-Reneke-plekkiekiekie en die stomme Margaret van Wyk se indiskresie in haar verstomde hokkieklub. Toemaar, Margaret, niks nuuts onder die son nie, troos ’n simpatieke Blouwillem haar. Hy vertel dan van Sannie wat vir Boetman op die grens ’n insgelykse intieme foto ter opbeuring gestuur het. Die bokskamera (sic) en afskeepwerk in die donkerkamer het nie vir die beste produk gesorg nie. Die ontvanger draai die kiekie in sy warm Ondangwatent so en weer so, hou sy presentjie teen die lig, maar gee op lange laas moed op oor wat dit kan wees. ’n Medetroep se hulp word ingeroep. Ná lang oorweging kom die antwoord: “Jy moet maar vir Korporaal ook vra maar vir my lyk dit soos Bainskloof daar van Wellington se kant af!”

Bouwillem Theron verdien lof vir vele aspekte van sy gevatte rubrieke. In die boekie van hierdie gereelde leser (vroegsoggens al saam met ’n eerste koppie koffie) is die aardse adviese aan dese en gene dalk die onskatbaarste bates van die man se relevante geskrifte. Van sy raad is so nommerpas dat dit amper jou geloofwaardigheid in die gedrang kan bring om dit oor te vertel.

Sal ek byvoorbeeld nie aan die vooraand van ’n hoge “swart-das”-feestelikheid wat swaar op die gemoed rus, aan die hand van die man se eie ervaring by hom die ridderlike raad kry om die broek van my veteraanaandpak met cable ties vas te maak, die strikdas met behulp van ’n ekstra pajamabroek se rek toe te rus ten einde ook die frilletjieshemp te help toehou en om die baadjie nonchalant oor die arm te dra nie! Dit het soos ’n bom gewerk. Hy het ook blink idees vir Kers- en Moedersdaggeskenke, asook annerlike eggenootlike en vaderlike pligte. Nader my gerus vir gratis bladsyverwysings.

Vir egpare en ander wat weens Eksdom se langdurige donkertes name moet vind vir spontane uitbreidings van hul gesinne, bied hy onder meer die volgende verfrissendes aan: Flits Brits, Darkness Mapogo, Lampies Lampbrecht, Donker Jonker, Kerswas van As, Blackout Dube, Gaslamp Aucamp, Vuurhoutjie van Vuuren, Sonpaneel Daneel en Nagskof Boshoff .

Nie al die blertsies is gemoedelik en goedig nie. Oor die “jong baarbarre” se skending van beelde soos veral die ene van “Liewe goeie Oom Black (Swart) van alle mense” is Blouwillem behoorlik de ongeluk-de hel in. Die humor is skrynend as hy oor ’n moontlike kompromis in die skandbeeld-debakel rapporteer: soos dat generaals Christiaan de Wet, Louis Botha en Koos de la Rey se perde Fleur, Doppie en Bokkie ter wille van nasiebou vervang word met Basoetoponies; hul uniforms en roers met reënboogkomberse en knopkieries; en dat oom Paul karwagte gaan kry in die plek van die vier ou krygers wat hom so lank getrou opgepas het. Hul name is Innocent, Blessing, Lucky en Waaksaam!

By Fanus Rautenbach het hy geleer dat patos en lag met ’n traan die toppunt van goeie humor is. Nêrens pas hy daardie vername lewensles beter toe as in sy roerende stuk oor “Ouma Tinkie se Laaste Oppak” nie. Dit was kort voordat op sy vrome moedertjie (“skaars groter as ’n middelslag pikkewyntjie”) se winkelrak ook die beproewende kennisgewing “discontinued” sou verskyn. En nee, hy het toe nie al haar “waardevolle gemorsies” weggegooi nie, al het sy gedink hy gaan.

Lees ook

50 blertse blou deur Blouwillem: ’n FMR-resensie

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top