50 blertse blou deur Blouwillem: ’n FMR-resensie

  • 1

50 Blertse blou
Blouwillem
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485308607
Genre: Rubrieke
Prys: R180

’n Resensie deur Danie Botha in Fine Music Radio se Boekkeuse. Uitgesaai op 19 Desember 2018.

In 127 bladsye is 50 koerantrubrieke van Blouwillem versamel. Op elkeen is daar iets waaroor jy spontaan glimlag, grinnik of hardop lag. Gewoonlik vir meer as een situasie of sêding op een bladsy.

Ek gee nou voorbeelde van hoe Blouwillem sy uiters leesbare en meevoerende tekste skep.

Daar is sy nuutskeppinge wat heerlik dui op oorspronklikheid, goeie waarneming, satire en humor.

Enkele voorbeelde: Strikdas word skrikdas. Ek is nie seker hoe hy daarby uitkom nie. Is dit die das se punte wat opwys soos jou hande as jy skrik? Avêre is die Afrikaans vir “affair”; ’n selfie word ekkekiekie; die gewaagde foto’s wat van “die suidelike streke” van spesifiek die vroulike liggaam geneem word heet plekkiekiekies.

Hy wend hom tot die nasionale kromminsaris:

Al wat ons net wil weet, agbare kromminsaris, is wat  gaan gebeur as ons ou landjie nou ook Nasionale Matroosdag, Nasionale Onderwysersdag, Nasionale  Straatvroudag en nog dertig ander nasionale dae moet kry?

Oom Johnny sê hy het gehoor die vakbond vir polisiehonde (Vakhond) het ’n dringende versoek  gerig om ook ’n dag af te kry. Natuurlik het hulle gevoel elke hond moet sy polisiedag kry. Want Popkroek het dit dan vir sy lede beding. (53) 

Nou die volgende soort vermaak: Blouwillem is lief om name spottenderwyse te verander. In die vorige uittreksel het ons al ’n voorbeeld daarvan: Popkroek vir Popcru. Olivia, ’n tweejarige verjaardagmeisietjie, word Oulyfie en Ouliefie. Nkandla: Nskandalig. Krugerwildtuin is Krugerwilletuin. Eskom ... Eksdom. Mense wat lief is vir die sosiale media sal die volgende herken: Vuisboek, Wikkie Pieterse (Wikipedia) en Wat’sAap. Ander name: Kroektas vir Guptas en oom Ollie Tambo se lughawe.

Nou ’n aanduiding van die vele temas: aandpakgeleenthede, eetgewoontes, liggaamsgewig, rugby (Frik du Preez, Mannetjies Roux, Gerhard Viviers, Bakkies Botha, en ander), vloek in die hof, jagtyd, inbraak gewoonlik terwyl jy lê en snork, beginjare van ons televisie, motors, kondoomgebruik in die weermag, destydse skyfievertonings en wildtuinervarings met kameelperde, ens.

Oor groot gesinne vertel hy:

My oom Fritz wat sewe kinders het, het eenkeer vir  my gesê: “Ja, ou nefie, ek weet ons het ten minste een kind te veel, maar ons kon nog nooit besluit  watter een nie.” (12)

O, en die politiek! Veral oor ons gewese staatshoof, Jacob Zuma, is hier heelwat:

Oom Johnny sê as daar nou ’n man is wat hy altyd jammer gekry het, was dit Nommer Een met sy  vier ander kwarte. “Kan jy jou indink in watse  skermutseling jy jou kan inloop as hy daar by Spur  met dié vier en ongeveer twintig kinders ingewals  kom,” sê hy. “Ek sê julle, selfs die Guptas sal sukkel  om daai rekening uitgesorteer te kry.” (...) Maar soos neef Bartel toe byvoeg: Dit moet vir Nommer  Een, selfs met vier-en-twintig gaste, nog steeds  lekkerder in die Spur wees as by ’n Koesatoe-dwarstrek in  Bloemfontein. (47)

Blouwillem vertel van skrywers soos Fanus Rautenbach en PG du Plessis. Oor Du Plessis:

Daar verskyn eenkeer ’n koerantberig oor al die  rampe en teëspoed wat deur die jare die Maak ’n  las-span getref het, maar helaas verskyn die kop toe sonder vraagteken en al wat daar staan is: “Rus vloek  op Maak ’n las.” Dis toe wat PG opmerk: “Ek kan  nie onthou dat ons in al die jare ooit ’n Rus op die  program gehad het nie.” (126)

Dit is einste PG wat ’n waar woord voorin ’n kopie van sy Fees van die ongenooides vir Blouwillem geskryf het: “Blou, ek lees jou graag!”

Blouwillem se reaksie: “So goed Naas Botha gee vir ’n derdespan-skoleloskakel ’n kompliment oor sy skopwerk” (126).

 

Lees ook

Foto's: Bekendstelling van 50 blertse blou deur Blouwillem

  • 1

Kommentaar

  • Alice Hendriks-Boshoff

    Blouwillem is net Blouwillem. Hennie van Deventer laat insgelyks reg aan hom geskied. Hy spreek deurdagte waardering uit in 'n gepaste toon om Blouwillem in al sy keurigste skakerings van blou eer aan te doen. Dankie Hennie dat jy hom nie probeer toga en pleisterbord nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top