’n Verstrengelde pad

  • 6

Foto van Hennie van Deventer: verskaf

Hendrik de Graaf, stigter van die nuusblad Het Westen waaruit Die Volksblad (sedert 2001 net Volksblad) gegroei het, is op 9 Augustus 1869 in Deventer in Nederland gebore. Nou eers, ná die afskeid van Volksblad se gedrukte uitgawe, sink die betekenis by my in van ’n eerste raakvlak 150 jaar gelede.  

Uit daardie "gastvrije hanzestad" in die provinsie Over-Ijssel het naamlik ook die stamvader van die Van Deventers, Gerrit Jansz, amper twee eeue tevore, in 1687, na Suid-Afrika gekom, net 30 jaar ná Jan van Riebeeck. Die stadjie Deventer het ek in die 80’s besoek. Meermale het ek gewonder: het oeroupa Gerrit Jansz dalk hier geloop? Dieselfde vraag sou ek my tov Hendrik de Graaf kon afvra.

Albei sou selfs nes ek aan ’n stukkie Deventerkoek by die sjarmante Deventer Koekhuisje aan die Brink (een van die mooiste stadspleine in Nederland) kon gepeusel het, want die huidige bakker, JB Bussink, bak dit self al sedert 1593.   

Deventer Brink (Foto: Wikipedia)

’n Tweede raakpunt met Hendrik de Graaf is Potchefstroom. Het Westen was oorspronklik ’n Potchefstroomse koerant, soos ek ’n Potchefstroomse skoolseun was. Op daardie dorp aan die Mooirivier het hy in 1904 sy koerant, Het Westen, gestig en het ek ’n halfeeu later, in 1957, aan die Hoër Volkskool matriek geskryf het. ("Ou Volkskool by die Mooirivier ’n brokkie van my hart bly hier.")   

Ten derde het die here De Graaf en Van Deventer eenderse voorname. Al is ek dan nou ook ’n Jakob Hendrik.  

Dat in albei se are ’n mengsel van drukkersink, Deventerbloed, Potchbloed en Volksbladbloed vloei, laat dit amper klink asof dit so voortbestem was dat ek twee lang loopbaanskofte sou deurbring by daardie koerant wat in in 1916 na Bloemfontein geskuif het, op versoek van oa genl Christiaan de Wet. (Christiaan de Wet was ook die naam van die Wagpos waarvan ek in die jare sestig as lid van die Afrikaner-jeugorganisasie, die Ruiterswag, etlike jare lid en voorsitter was.)

Met die koerant self het ek in 1946 as vyfjarige in Kimberley kennis gemaak. Aan my oupa Herklaas Visser se voete by sy wiegstoel in die hoek van die eetkamer het ek elke uitgawe, plat op my maag uitgestrek, van hoek tot kant deurgeblaai en hier en daar stukkies "gelees".  

Oupa se gunstelingrubriek was "Stop van Myne" deur "Renier" (nav ’n legendariese storieverteller en spekskieter, Renier de Winnaar van Zastron. Oupa het ook graag gelees wat dr Goedhart (dr RS Verster) op die hart het in sy nuwe rubriek wat op 12 Januarie 1946 die eerste keer verskyn het. Dié rubriek het hy soms vir sy nuuskierige kleinseun weggesteek. Veel later sou ek agterkom hoe openhartig dr Goehart oor "verborge" sake kon skryf.

Van die redakteur in die jare veertig, dr AJR van Rhyn (hy was dit van 1925 tot 1948), was ek natuurlik onbewus. Nooit het die gedagte by my opgekom nie dat dit my in my latere lewe beskore sou wees om 12 jaar lank in dieselfde kantoor as dr Van Rhyn by dieselfde massiewe ou lessenaar van Birmaanse kiaat te sit. Dié histories pragstuk is in die jare tagtig met groot sorg, en onder die wakende oog van kollega Jan Scholtz, deur die vakmanne van Republiek Meubels herskep.

Na ’n draai in Natal is ons gesin in 1952 Wes-Tranvaal toe. My ouers het hulle op Klerksdorp gevestig, en ek is koshuis toe om Latyn te kan neem ten einde advokaat te word. Maar in 1957 word ek die eerste leerlingredakteur van Volkies se jaarblad (ons het nog nie van leerders gepraat nie). Die koeël was deur die kerk. Alle advokaatdrome is terstond begrawe.

Net daar begin ’n lang verbintenis, want ma lees in Die Volksblad – wat pas ’n kantoor op Klerksdorp oopgemaak het – ’n advertensie vir beursaansoeke vir voornemende joernaliste raak. Ek het aansoek gedoen, dit gekry en is daarmee na die Universiteit van Pretoria vir ’n algemene BA. Dit was voor die tyd van kommunikasiekunde en departemente van joernalistiek.  Ek het ’n ekstra twee jaar op Tukkies gebly: hier en daar (selfs aan die regte) gepik-pik. Aan Tuks was ek, terloops, in 1961 redakteur van Die Perdeby, die studentekoerant. 

In Desember 1958 – ’n hele 62 jaar gelede – het ek as 17-jarige beurshouer met my koffertjie van Klerkdsdorp na Bloemfontein geryloop vir my eerste proesel vakansiewerk in Voortrekkerstraat 79 (vandag Nelson Mandelarylaan).  

Wiets Beukes, latere redakteur van Die Burger, was die eerste Volksblad-gesig wat ek gesien het. Ek het ’n buitekamer te hure gekry waar hy in Sewende Laan geloseer het. Hy het my die aand die redaksiekantoor gaan wys … en die teleksmasjiene – die kloppende hart van die koerant soos berigte vanoor die wêreld instroom. Sjoe.

Een van my herinneringe is die kennismaking op Wiets se draaitafel met die Largo-gedeelte van Antonín Dvořák se Nuwe Wêreldsimfonie. Die simboliek het my eers na jare getref. Met daardie eerste wankelende tree in die werklike joernalistiek is inderdaad vir my ’n gans nuwe wêreld ontsluit.

En wat ’n wêreld. Watter voorreg was dit nie om daardie wêreld stuk vir stuk te ontdek, om intens daarin te leef en my ten volle daarin uit te leef nie — al het dit soms met stampe en stote en met skades en skandes gepaard gegaan.

Aan die einde van 1961 was ek al so gekonfyt dat ek aan die diepkant ingegooi is om my vakansiewerk stoksielalleen in Welkom te gaan verrig terwyl die Goudveldse verteenwoordiger, Willie Coetzee, met langverlof is. Waardevolle leerskool gewees.

Begin 1963 het ek formeel as verslaggewer in Bloemfontein ingeval en uit die staanspoor net beroepsvreugde ervaar. Die koerant was dadelik in my bloed. In my vroeë loopbaan was ek parlementêre verslaggewer, hoofsubredakteur en nuusredakteur; daarna eerste nuusredakteur en adjunkredakteur by Beeld, wat in 1974 die eerste lewenslig gesien het.

As Parlementêre verslaggewer in 1964 en 1965 (ongelukkig net twee jaar) het ek die Verwoerd-era as’ t ware in die voorste ry beleef. As jong hoofsubredakteur (’n pos wat te gou gekom het), moes ek die moord op dr HF Verwoerd op 6 September 1966 hanteer. ’n Groter nuus-"storie" het nie in my dae oor my lessenaar gekom nie.

As nuusredakteur (Die Volksblad en Beeld) kon ek my amper ’n dekade lank as joernalis ten volle uitleef en bestuursvaardighede begin slyp. Beeld se stigtingsjare was veeleisend, maar vrugbaar. Die joernalistieke omgewing was dinamies, energiek en opwindend. Die leermeesters was van die mees deurwinterde koerantmense van hul tyd. Die Beeld-tyd het vir my nuwe vergesigte geopen.   

In 1976/77 was ek bevoorreg om as Nieman Fellow na die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts, te gaan. Die sabbatsjaar het sy eie eise gebring, ook vir my gesin. Onthou, dit was in 1976/77 – Soweto het uitgebars. Swart nasionalisme het onheilspellend spiere gewys. Die Suid-Afrikaanse Nieman-genoot voor my, Percy Qoboza, is in die tronk gestop. Ek moes bontstaan in ’n vyandige, liberale omgewing. Maar ook daardeur is ek enormlik vir latere verantwoordelikhede geslyp.

’n Jammerte uit ’n persoonlike en loopbaanhoek is dat ’n skof in die Londense kantoor weens gesinsomstandighede verbeur moes word. Ons passaat op die SA Vaal na Southampton was klaar bespreek toe ons oudste, Johan, op ses maande met diabetes mellitus gediagnoseer word. Pediaters het ons aangeraai om liefs nie in die uitdagende nuwe situasie die vreemde aan te durf nie.

In 1980 is Louis Louw, assistentredakteur van Die Burger, as opvolger vir uittredende redakteur, SF (Bart) Zaaiman, aangestel. Die redakteurskap van Oosterlig in Port Elizabeth is my aangebied. Ek het egter verkies om as Louis se adjunk na Bloemfontein te gaan. Toe kry Louis ’n hartaanval. Die redakteurskap word op ouderdom 39 myne.    

Daarmee is ’n droom vervul. Jare vantevore het ek op ’n vraag van ’n verslaggewerkollega, Trudi Gey von Pittius, al geantwoord: "Natuurlik wil ek redakteur word."  Nou het ek. Ek was weer redakteur soos ek op skool was in 1957 en op Tukkies in 1961.  

’n Hele 12 jaar lank het ek verbete aan daardie stoel vasgeklou. Ek wou eenvoudig nie weg nie, al was daar aanbiedinge (by Beeld en Rapport twee maal), asook druk van bowe. In 1992 verras ek myself: ek aanvaar die uitnodiging van Ton Vosloo om vir my laaste skof ietwat koers te verander. Ek kom Kaap toe in ’n bestuurspos: as Naspers se eerste uitvoerende hoof van koerante. Die die sewe jaar aan die Heerengracht was uitdagend en vervullend. Ek is dankbaar ek is die geleentheid gegun en ek is dankbaar ek het die sprong gewaag. 

Die koerant self het nog maar altyd my eerste liefde gebly. Die woord "koerant" word by die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) deur my eksklusief geborg. Dit is veelseggend van my passie vir die koerant as entiteit.

Ek borg darem ook die woord "joernalis" nie-eksklusief. Dit is my klein hulde aan daardie spesiale spesie van "salaried eccentrics" (lord Thomson van Fleet se raak beskrywing) wat hul brood by koerante (dubbel en dwars) verdien.

Die eerste tintelende aanraking elke dag met die kraakvars produk bly ’n hartsgenot. Dankie tog vir Die Burger by die voorhekkie. Dat soveel lojale Volksblad-lesers nie meer die voorreg het nie, verteer ek bitter swaar. Hoe my lewe met daardie geliefde koerant verstrengel was, is nie iets wat jy sommer soos ’n ou kleed van jou afwerp en vergeet nie.  

  • 6

Kommentaar

  • Herman le Roux

    'n Skitterende storie oor die saamloop van die Volksblad- en Van Deventer-geskiedenis. Ere-plek in my laaste Volksblad-plakboek.

  • Baie dankie, Hennie! Ek lees altyd graag jou skryfsels! In veerkragtige taal het jy met hierdie klompie paragrawe ons nie net ’n voëlvlug oor eeue heen geneem nie, maar ook oor kontinente en gevolglik jou innerlike reis na beleënheid. Ek is bly hierdie herinneringe word gedokumenteer.
    Hier het is ’n verdienstelike kandidaat vir ’n eredoktorsgraad in Joernalistiek!

  • Marietjie Warrington

    ’n Uitstekende relaas Hennie! Dankie daarvoor. Die sluiting van ’n koerant is ’n groot jammerte en inderdaad soos dood in die familie ...

  • Marietjie Warrington

    Dankie Hennie vir ’n uitstekende relaas. Die sluiting van ’n koerant is inderdaad soos dood in die familie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top