Titel: Koerant
Outeur: Hennie van Deventer
Uitgewer: De Novo Boeke, Langebaan
Nadat hy 20 boeke sedert sy aftrede as koerantman geskryf het – en seker miljoene woorde in sy lang loopbaan in die perswese – gee skryf en kommunikeer vir Hennie van Deventer sin in die lewe. Skryf bly vir hom ’n passie en daarsonder sal hy opgeskeep wees met homself, het hy aan Sarel Venter, ’n oudkollega, gesê.
Aan die vooraand van sy 80ste verjaardag het nog ’n boek van Van Deventer verskyn. Dit sy twintigste in die byna 24 jaar sedert sy aftrede as hoof: koerante van Naspers, en nadat hy onder meer 12 jaar redakteur van Volksblad was.
Sy boeke handel oor ’n verskeidenheid temas: van outobiografiese werk en koerantsake tot mense, humor, diere en reiservarings.
Om saam te val met sy naderende verjaardag (3 Januarie 2021) verskyn ’n gedenkboek, Koerant. Dit is ’n selfpublikasie met voorlopig ’n beperkte oplaag, versorg deur De Novo Boeke, wat dit ook as e-boek aanbied.
In die boek van 215 bladsye is die rou oor Volksblad se lot – die einde daarvan as gedrukte koerant – nog vars. Hy probeer nie sy hartseer verbloem nie. Dit bied die kapstok vir die boek. Die rou is ’n vlammetjie wat ’n groter vuur aansteek. In sowat 50 essays skryf hy nie net met hartseer nie, maar ook met hartstog en humor. Talryke eie herinneringe en anekdotes is in hierdie terugblik opgeteken – oor Volksblad, maar ook oor mense, kollegas, ander koerante en die koerantwese in die algemeen.
Hoekom woel hy nog so op 80?
Eenvoudig omdat “kommunikeer” die lewe vir my sin gee. Ek sit maklik agt uur per dag voor die rekenaar. Ek skryf twee blogs, deel gedagtes op Facebook, werk tussenin aan artikels en boeke. Wat anders? Daarsonder sal ek opgeskeep wees met myself. Ek pak nie veel ander dinge aan nie. My hande is dom. Maar my geprese “geesdrif” soek ’n uitlaatklep. Daardie uitlaatklep is skryf, debatteer, saamgesels, tred hou met die nuus, kommentaar lewer …
’n Fokus in hierdie boek?
My groot passie en eerste liefde: die koerant in al sy dinamiese fasette. Ook onvergeetlike karakters agter die skerms. En hope humor. Sonder ’n sin vir humor sal ’n koerantmens moeilik oorleef.
Geliefkoosde nuusonderwerpe?
Alles wat nuus is. Versot op politiek, op sport (buiten skopboks), op menslike stories (“human interest”), en op elke ander nuusonderwerp.
Sy hebbelikhede?
Ander moet liewer oordeel. Ek self is bewus van ’n kort lont. Altyd agterna jammer en verleë as ek ’n vloermoer gegooi het. Lief vir humor/kwinkslae/rympies.
Sy voorliefdes?
Ek het drie groot passies: koerant, die bos, reis (veral vaar). Ek borg die woord “koerant” eksklusief by die WAT. Minstens vyf van my boeke het koerantonderwerpe.
Die bos?
Ek is gek na Sabiepark, waar ek ’n boshuis net langs die Krugerwildtuin het. Verkies selfs – tot die verbystering van vriende – die hitte van die somerbos (Desember–Januarie) bo die “Kaapse Dokter”. My nuwe bosboek (Mei 2021) sal die sesde oor dié onderwerp wees.
Reis?
’n Interessante reis was in Rusland in Gorbatsjof se tyd. In my Niemanjaar by Harvard het ons Amerika platgery. In die laaste jare het ek verslaaf geraak aan vaar. Onvergeetlike vaarte was met die Queen Mary ll na Sydney en met die MSC Musica langs die ooskus van Afrika tot in Venesië. (Dis alles in my boek Na verre hawens. Jare gelede het ek ook ’n humorboek oor reis geskryf: Oos, Wes – Reismoles).
Hy het ’n vierde voorliefde: musiek, alle musiek, buiten kletsrym en Afrikaanse oornag-treffers (“bokkie,sokkie,frokkie”). Tien jaar lank het hy vir vriende vir Kersfees CD’s geskenk met temas soos die liefde, tuine, voëls, reise op ver paaie, ens. Hy en Tokkie het die snitte saam uitgesoek.
Sy renonse?
Ek haat moderne brabbel-Afrikaans, en kastige “ondersoekende joernaliste” wat ’n “nuwe Suid-Afrikaanse geskiedenis” uit hul duime suig. Moet ook nie dink ek sal afval eet en simpel TV-sepies en -storietjies kyk nie.
Hoogtepunte in sy lewe?
Die redakteurskap van Volksblad op 39 in 1980. Dit het ’n ambisie verwesenlik wat ek van my eerste dag by die koerant gehad het.
- Nieman Fellowship aan Harvard 1976/77 – ’n plek wat drup van tradisie en karakter.
- Phil Weber-prys, Naspers se hoogste eerbewys, in 1997.
- My bydrae om die beswaddering oop te vlek van ministers Magnus Malan, Barend du Plessis en John Wiley in Tafelberg se prulboek The lost boys of Bird Island met agt kritiese briewe in koerante.
- Drukmedia SA se lewenslange Genootskap (Fellowship) – die eerste aan ’n Afrikaanse mediamens in 1998.
Teleurstellings
Die keldering van Volksblad as gedrukte koerant. (In Koerant brei ek uit op die tema). Nog ’n teleurstelling was die latere besluit om Volksblad se Kunsmark nek-om te draai.
Ten slotte ’n paar dinge waarvan hy die vader is
Pendoringprys vir Afrikaanse advertensies die hoog aangeskrewe Nat Nakasa-prys vir joernaliste (toegeken aan joernaliste wat oor COVID-19 geskryf het); die Matrieknooiwedstryd, die Kunsmark en die Bloemfonteiner van die Jaar-wedstryd.
Drukmedia SA het sy verering van Van Deventer so gemotiveer: "Hennie van Deventer holds a reputation of great stature both within the local industry and within the newspaper publishing fraternity across the globe. He is recognised for his wisdom, his diplomacy and naturally for his contribution to print media in South Africa over a considerable number of years."