Almal het seker al ’n koerant onder oë gehad waarin onderskrifte per abuis omgeruil is. Op bladsy 3, sê maar, is ’n foto van ’n mooi meisie. In die onderskrif staan: “Hierdie knewel van ’n patat ...” Dieper die koerant in is ’n foto van ’n yslike patat. In die onderskrif staan mej So-en-So wat as Mej Hartenbos gekroon is.
Die onderwerp van omgeruilde onderskrifte is gister vlugtig elders aangeroer. Albe Grobbelaar het ’n bekoorlike Rykie-van-Reenen-storie opgediep oor die kleurryke sangeres Cecilia Wessels. Ek kon toe as kommentaartjie ’n naskriffie byvoeg oor ’n koerant wat in ’n spesifieke uitgawe foto's gehad het van die gedugte me Wessels en ’n voortreflike varksog.
Toe kry die ruilduiwel die twee beet – met die allerliederlikste gevolge.
Twee ander slagoffers:
- ’n Fris vroulike tennisspeler slaan af dat haar rokkie hoog opwip. Die onderskrif maak lesers wys sy is mev So-en-So wat by die naweek se hengelkompetisie die prys vir die grootste baber gewen het.
- ’n Vroulike burgemeester van Namibië, glimlag mooi vir die kamera, ketting en al. “Hierdie ou balie (tub) het verlede week die hawe aangedoen om haar bodem te laat skraap,” staan in die onderskrif.
Wag, dit is darem nie net vroue wat aan die ontvangkant is nie. Net nou kry Stellenbosch se prof Amanda Gouws my beet. Ek lees juis in vanoggend se Burger hoe oorgehaal sy is om iemand te vloek dat die see hom nie kan skoon was nie.
’n Keer was daar foto’s van oud-president Blackie Swart en die skip Andrea Doria wat iewers vergaan het. Onder die foto van die eerbiedwaardige Oom Black moet lesers toe verneem dat dit is hoe die laaste stuiptrekkinge van die Andrea Doria lyk.
Gelukkig had hy ’n gesonde humorsin.
(Hierdie brokkies kom nie uit die duim nie maar uit my humorboekies Scoops en skandes, Tafelberg, 1993, en Flaters en kraters, eerste druk, Tafelberg, 1996.)
Kommentaar
"Môre dames" in koerante ... Snoek en wurgpatat was seker voorop in die mens, wat bladuitleg gedoen het, se gedagtes.