Hennie van Deventer onthou een van Volksblad se groot stories

  • 5

Foto van Hennie van Deventer: verskaf

Vrydagaand 22 November 1963 was die aand dat die uwe, ’n groentjie, die stoute skoene aangetrek het om die baas om 20:40 by die huis met ’n storie te bel. “My magtig, Hendrik!” het die eerbiedwaardige en besadigde “oom Bart” Zaaiman uitgeroep.

Daardie instinktiewe oproep het gelei tot my eerste kennismaking met ’n koerant wat sy skouers oopmaak met ’n groot storie. My vrypostigheid is dubbel en dwars beloon.

Die kantore van Volksblad – wat toe nog ’n middagblad was – was teen 20:30 grootliks in donkerte gehul. Die enigste twee lewende wesens die Vrydagaand in die redaksievleuel was Smittie (Smit) die teleksman, en ekself.

Smittie was in die telekskantoor bedrywig. Die teleksman se taak was om die kletterende masjiene aan die loop te hou, asook om inkomende berigte af te skeur en te sorteer: hierdie vir die hoofsubredakteur, daardie vir die sportkantoor, afskrifte vir die assistent-redakteur en dies meer. Van Deventer was besig om ’n Kersfondsberig vir die volgende dag op sy hoë Remington met die oneweredige letters uit te timmer.

Skielik het Smittie ingebars by die subkantoor waar ek sit en werk het. In sy hande was ’n flitsberig van die gewese nuusagentskap Sapa (Suid-Afrikaanse Pers-Assosiasie), komende van die Associated Press (AP) van Amerika: John F Kennedy is vermoor.

Hy is in Dallas, Texas, uit ’n hoë gebou in sy oop ampsmotor in ’n amptelike konvooi doodgeskiet. Nou net, het Smittie my opgewonde meegedeel. Die tydsverskil tussen Dallas en Suid-Afrika is agt uur.

Ek het opgewip en langs Smittie in die naburige telekskantoor gaan staan terwyl Sapa se masjiene soos masjiengeweervuur bly ra-ta-ta-tat en die drama in Dallas hom ontvou. Ná ’n ruk het dit tot my deurgedring – die skoknuus is nie vir my en Smittie se eksklusiewe kennisname nie.

Dis toe dat ek naaste foon gryp en “oom Bart” by sy huis bel. Hy was nog assistent-redakteur, maar het in die praktyk die redakteursmantel gedra omdat die redakteur/bestuurder, Hugo Dreyer, hom meer op die bestuursfunksie toegespits het. 

Ons het seniors daardie tye links en regs ge-oom. Daar was ook ’n “oom Gert” Terblanche, die nuusredakteur. Hoekom ek hom nie eerder gebel het nie, kan ek nie verklaar nie.

Aan “oom Bart” het ek verskonend verduidelik dat ek wonder of hy nie van die sluipmoord sou wou weet met die oog op die volgende dag, ’n Saterdag, se koerant nie. Die middagkoerant was immers Saterdae eintlik ’n laat oggendkoerant wat teen 11:00 op straat was.

Om dit te vermag, het die hoofsubredakteur teen 05:00 ingeval; sy spannetjie subs kort daarna. Een Saterdag-hoofsub, Ollie Olwagen, het selfs party Vrydagaande op die grond in die subkantoor geslaap om tog net nie laat te kom nie!

“Oom Bart” se ongewone uitroep was gelukkig nie uit ontsteltenis oor die versteuring nie. Trouens, die jong man is oorvloediglik bedank vir sy “prysenswaardige insig”. Mnr Z (sy ander naam) het dadelik op die telefoon gespring en ’n versterkte Saterdagspan begin saamstel. Ek, wat nie sou werk nie, is as vertaler opgekommandeer. Die Kersfondsberig het vergete gebly. Maandag was nog ’n dag …

Een van die berigte wat die Saterdagoggend deur my Remington is, was oor Jackie Kennedy. Die mooi jong weduwee het haar sterwende man se kop in haar arms gehou (“cradled his head in her arms”, het AP berig), terwyl daar met sy Lincoln na die hospitaal gejaag is. Ek het vertaal dat sy “bloedbesmeerd” was.

“Oom Bart” het ongeduldig oor my skouer geloer en blaadjie vir blaadjie uit my tikmasjien na die hoofsub aangedra om ’n plakkaat te prakseer. My woordkeuse het hom klaarblyklik nie geval nie. Toe verras hy my weer. “Bloedbekoek, man!” het hy geadviseer. “Bloedbekoek”, het dit geword. WAT neem kennis!

Terwyl ons ná die eerste uitgawe ons tradisionele geroosterde kaas-, tamatie- en hamtoebroodjies van die delikatesse Grinters op die hoek geniet, was hierdie jongeling in die sentrum van ouer kollegas se belangstelling. Dit was nogal vleiend. Ek moes haarfyn vertel van die eerste flitsberigte (“snaps”) en die stroom kopie wat Smittie tot in die vroeë oggendure op sy tone gehou het.

 ’n Rukkie het stilte neergedaal. Kopie uit Dallas en Washington het kort daarna met nuwe kartetse op koerante gereën.

Ongetwyfeld was die sluipmoord op die Amerikaanse president die grootste “Saterdagstorie” van my eerste jare. Daarmee bedoel ek ’n storie wat, in joernalistieke idioom, vir die Saterdagkoerant “gebreek” het. Interessant genoeg het net die volgende jaar, 1964, nog ’n grote opgelewer: John Harris wat op 24 Julie 1964 die berugte stasiebom in Johannesburg laat ontplof het.

Teen daardie tyd het ek al teen die leer op begin vorder. Ek was een van die subredakteurs (subs) wat berigte oor die stasiebom geredigeer en van opskrifte voorsien het.

Die “grootste” koerantstorie van my loopbaan? Ongetwyfeld die sluipmoord op HF Verwoerd op Dinsdag 6 September 1966. Ek was toe hoofsubredakteur.

Die impak van die gebeure van 1992 en daarna, met die ontperking van die ANC, die vrylating van Nelson Mandela en die eerste demokratiese verkiesing, was natuurlik enorme nuus.

Suiwer as onvergeetlike joernalistieke lewenservaring hou niks egter vir my kers vas by die ontvangs van daardie flitsberig uit die hande van teleksman Bennie Lean nie, en die uitgee van twee uitgawes, onder enorme emosionele en tydsdruk. 

Die gewone laat uitgawe het verskyn met die opskrif “Dr Verwoerd vermoor” in groot swart houtletters, en nie te lank daarna nie ’n spesiale uitgawe met die opskrif “Land is diep geskok”. 

Toe die rolpers met laasgenoemde begin draai, was Voortrekkerstraat reeds ’n miernes van mense in rou, wat spontaan na die koerant gestroom het vir die varsste nuus.

(Naskrif: Vrypostigheid deug soms; soms nie. ’n Keer het ek ’n fout van my eie maaksel op die voorblad van die eerste uitgawe ontdek. Terwyl die seniors weg is vir middagete neem ek dit op myself om die rolpers te stop om die fout reg te maak. Darem nie ’n skrobbering gekry nie – net ’n ernstige lesing oor die verlies aan sirkulasie en inkomste weens ’n laat koerant! Algaande leert men.) 

  • 5

Kommentaar

  • Heerlike herinneringe. My grootste stories was die Helderberg-lugramp wat op ’n Saterdagoggend gebreek het, en Diana se dood wat op ’n Sondagmiddag en -aand vir Maandag se koerant gereed gemaak moes word. En een Saterdagaand toe ek vir Rapport gewerk het, die Boeingramp by Windhoek en ook op ’n Sondag in 1988 die vloede wat Bloemfontein van die buitewêreld afgesny het. Ag, daar is nog so baie wat in my geheue opkom. Opwindende tye wat net by ’n koerant beleef kan word.

  • Herman le Roux

    Die Volksblad was ook vir my ’n lewensmaat vir meer as 31 jaar – van 2 Januarie 1956 tot einde Mei 1987 en het my die kans gebied om my stokperdjie, joernalistiek, met geesdrif te beoefen. En die afgelope 33 jaar in Johannesburg het ek steeds my koerant in my posbus ontvang.
    Die Volksblad het my as sportskrywer die voorreg besorg om sewe internasionale rugbytoere mee te maak; honderde Vrystaats-rugbypelers persoonlik te leer ken; sowat ’n duisend kilometers saam met die beste gholfspelers in meer as 20 SA mans- en vrouetoernooie te stap.
    Blywende vriendskappe is gesmee met sportsterre soos Johnny Ralph (boks), Peter Vorster (gholf), Sandra (Reynolds), Price (tennis), Lindsay Tuckett (krieket) en talle rugbyspelers – van Popeye Strydom tot vyftig jaar later se bekende spelers.
    En dan is daar my wonderlike kollegas, Gert Terblanche, Jan van Zyl, Frikkie van Rensburg, Hennie van Deventer, die beste redakteur van die agt saam met wie ek by Naspers gewerk het, en ’n paar honderd ander, Ai tog!

  • Hennie van Deventer

    Vir my altyd ironies: rampe is nuus. Mense raap rampkoerante op. Agterna beskuldig hulle jou dat jy net "sensasie" publiseer.

  • Hennie van Deventer

    As een man ’n goudmyn van stories is, is dit Herman le Roux. Jou plakboeke is ’n openbaring en jou byhou by kollegas en vriende se lief en leed legendaries, Herman. Dankie vir die pluimpie. Ek hou daarvan, soos Martie Meiring se dogter van “Prontuit” in die advertensie daarvan hou as Victor Matfield haar op straat groet.

  • Herman le Roux

    Dankie, Hennie! Mooi reaksie van jou, nog al die jare, help my om met hierdie stokperdjies voort te gaan. En terloops, ek is ook mal oor daardie advertensie by Kabous se program. Kon keer op keer daarna kyk en luister. Sou graag die glimlag op Victor Matfield se gesig wou sien.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top