Onderhoud: Hennie van Deventer vertel van die geboorte van die Pendoring

  • 0

Hennie van Deventer en die logo van die Pendoring-toekennings (http://afr.pendoring.co.za/Tuis)

Die Pendoring-reklametoekennings is teen die einde van die maand 21 jaar oud. Besoek hul webtuiste. Hennie van Deventer vertel vir Naomi Meyer van die ontstaan daarvan.

Die Pendoring-reklametoekennings is een van die dae mondig. En toe hierdie toekenning ontstaan het, was jy redakteur van Volksblad – is ek reg? Sal jy asseblief nog meer van jou agtergrond vertel?

My 12-jaar-skof as redakteur van Die Volksblad – die destydse naam van die Bloemfonteinse dagblad – het in 1992 ten einde geloop. In April van daardie jaar het ek by die Heerengracht in die Kaap ingestap met 'n titel wat ietwat swaar op my skouers gerus het: uitvoerende hoof: koerante van die Nasionale Pers. (Media24 het eers jare later, ná my aftrede, tot stand gekom.)

My verantwoordelikheid was die wel en wee van die portefeulje dagblaaie en streekkoerante, ook City Press, wat later toegevoeg is, en uiteindelik Rapport toe Naspers bestuursbeheer gekry het. Die saadjies wat in 1993 vir die Pendoring gesaai is, was een van die eerste inisiatiewe van my skof in die uitdagende nuwe stoel.

Die toenemende verlies van nasionale advertensies na TV en die vloei van plaaslike advertensies na media met ‘n goedkoper advertensietarief (gratis tuiskoerante, edm) het egter in my redakteursdae al diep in ons begrotings begin inkeep. Koerante is in die jare ’80 soos nooit tevore nie in ‘n oorlewingstryd gedompel.

Ons koerante het al hoe dunner geword, en buiten die negatiewe impak op kontantvloei had ons ook te make met lesers se verydeling oor die verskraling van die daaglikse pakkie. Waar Die Volksblad in 'n stadium soveel nuusruimte gehad het dat dit soms 'n stryd was om dit vol te maak, het die ruimte so gekrimp dat veral die plattelandse aanbod van sosiale nuus dikwels in die slag gebly het.

Redaksies moes kleiner word en weer kleiner word – en die moreel was soms maar pap. Die redakteur moes bly bemoedig en aanspoor, al was sy eie moed soms in sy skoene.

In daardie jare het die Nasionale Pers my op 'n uitgebreide reis na die VSA gestuur om die verskynsel van tuiskoerante onder die sambreel van 'n dagbladmoeder te gaan ondersoek. Ek was aan die ooskus, aan die weskus en tot in Honolulu, Hawaii.

Terug hier te lande het ek 'n reeks positiewe verslae oor die Amerikaanse ervaring geskryf, en die gevolg was die stigting van al hoe meer tuiskoerante, wat ten minste die uitvloei van plaaslike advertensies na mededingers so ietwat gestuit het.

Soos jy onlangs in ‘n blog op LitNet geskryf het, was jy juis in daardie tyd die fokus van ‘n spotprent. Wat was die agtergrond hiervan?

Daardie spotprentjie hang teen 'n muur in my studeerkamer saam met allerlei ander spotprente uit my loopbaan. 'n Taamlik korpulente figuur, herkenbaar as Hennie van Deventer, sit, koerant in die hand, en blaf in die telefoon: “I wish to report a mistake. The Afrikaans press is not dead!”

Die aanleiding was ’n toespraak by ’n geleentheid van Beeld, susterkoerant van Volksblad, waarin ek bruisend verklaar het: “Vir die doemprofete sê ek vanaand: ‘Trek uit u begrafnisklere. Gooi weg u kransies. Laat die vonkelwynproppe klap dat ons partytjie kan hou!’”

Ek kon daardie aand die blye nuus bekend maak dat die leserstal van ons drie dagblaaie, Die Burger, Beeld en Die Volksblad, deur die miljoengrens gebars het. Ek moet dadelik byvoeg: my kom die eer nie toe nie. Ek was gelukkig om op die regte tyd op die regte plek te wees omring deur die regte mense. Die ’90’s – die Ton Vosloo-era – was ‘n goue tydvak vir die Pers. Dit was uiteindelik ook ‘n goue era vir koerante, wat danksy soliede produkte en hul onbeskaamde Afrikaansheid lesers se harte opnuut bly gemaak het. Voortreflike bestuurders en redakteurs was in beheer.

Desondanks was nasionale advertensies in die eerste jare van die dekade steeds onder geweldige druk – dalk toenemend onder druk. Die reklamewêreld was hoofsaaklik in Engelse hande. Van die Engelse reklamebase het geen geheim daarvan gemaak nie dat politieke en ander ontwikkelinge na hul oordeel die doodsklok vir Afrikaans sou lui.

Die atmosfeer van die tyd word goed opgesom deur een wat ná ’n paar Skotse watertjies nogal by ’n Nasionale Koerante-okkasie in die Jakkalsebessiekamp in die Krugerwildtuin pront teenoor sy gashere verklaar het: “Afrikaans is history.” Ewe onvriendelike uitsprake van eendersdenkende wysneuse was tiekie die bos.

Die Afrikaanse koerant kon inderdaad al hoe dreigender stormwolke vir sy broodnodige advertensies sien aanrol. Iets sou gedoen moes word, maar wat?

Hierdie spotprent het dalk iets met die ontstaan van die Pendoring-toekennings te make. Sal jy asseblief vertel wie almal by die idee betrokke was – en wat presies die konsep was?

Die verband tussen die spotprent en die ontstaan van Pendoring was om daardie boodskap – "we are not dead" – op 'n treffende manier by reklamebase tuis te bring. Sommer gou nadat ek op die 18de verdieping van die Pers-sentrum ingetrek het, het die besef posgevat dat verbeeldingryk gedink sal moet word om daardie persepsie die nek in te slaan.

Hoe bewys ’n mens aan die skeptici met vers en kapittel jy is ver van jou laaste asem uitblaas? Jy kan die een of ander langtermynavontuur aanpak wat jou lewenskragtigheid illustreer, het ons by Koerante geredeneer.

In Maart 1993 is die eerste sooi gespit, as’t ware, op ’n klein eerste vergadering van 'n driemankomitee in die ou Beeld-gebou in Doornfontein, Johannesburg. Die register van teenwoordiges was: ek self, Naas du Preez (hoof: bemarking van koerante) en Philip van Rensburg (ontwikkelingsbestuurder). Al drie was, terloops, oud-Volksblad-manne.

Die vraag op die tafel was eenvoudig: kom ons bedink die een of ander subtiele aksie om Afrikaanse reklame, die lewensbrood van ons koerante, te stimuleer. Die idee van ’n nuwe prys vir goeie reklame in Afrikaans is opgewonde omhels.

Ons het nie die wiel uitgevind nie. Mense soos Hennie Klerck, 'n Afrikaanse reklamebaas van 'n generasie vroeër, en die ATKV het toe al berge versit om Afrikaanse reklame te bevorder. Voortreflike kopie is byvoorbeeld reeds bekroon met die ATKV se bestaande Pluimpie-toekenning. Ons het gemeen dit behoort verruim te word tot ’n prys wat aan uitnemendheid oor ’n breër front erkenning sou gee. Ons idee was om ook uitleg, klinkreëls, TV, radio en selfs produksie in te sluit. 'n Tweede idee was om glans in te bou en 'n groot lawaai oor die nuwe prys te maak.

Die ATKV is uit die staanspoor ten volle betrek. Die direkteur, Frits Kok, altyd gretig op soek na nuwe weë om Afrikaans te bevorder, was dit tot sy krediet dadelik met my eens oor die verdienste van die idee. Die ATKV het ’n gedugte vennoot geword.

Voor die einde van 1993 was die bal onstuitbaar aan die rol, hoofsaaklik weens die ywer en entoesiasme van my jong kollega Philip van Rensburg. Die eerste konsep van die Goue Protea (soos ons prys aanvanklik sou geheet het) was op die tafel; my goeie kollega Salie de Swardt (uitvoerende hoof: tydskrifte) het sy afdeling se aansienlike gewig ingegooi, en M-Net het saam met Koerante en Tydskrifte die hoofborge geword. Radio Suid-Afrika het die uitsaaiborg geword. In 1994 het De Kat en Dagbreek Trust ook aan boord gekom.

Die gerekende Ian Bekker van Lindsay-Smithers (latere ontwerper van die nuwe landswapen) is nadergetrek om 'n logo vir die Pendoring-toekenning te ontwerp. Sy stylvolle pendoring is vandag nog in gebruik. Aan Giep van Zyl van die ATKV is die taak opgedra om “beeldjies” van die logo te laat maak wat aan die wenners oorhandig kon word. Die resultaat was bo verwagting. Ek is spyt ek het nie een “verduister” as ’n soewenier nie.

Vir reklame is veral Nasionale Koerante se nuusbrief Front Page ingespan. Die veldtog het nie sonder kritiek verloop nie. Front Page het ’n hele pakkie snedige briewe ontvang van Engelssprekendes in die bedryf wat neerhalend teenoor Afrikaans en skepties oor ons planne was. Ons het vasgebyt en deurgedruk.

Geloofwaardigheid is vir so ’n nuwe prys natuurlik van deurslaggewende belang. Veral De Waal Venter het ’n groot rol gespeel om ’n uiters bekwame groep beoordelaars saam te stel. Een lid was ’n Nederlandse advertensieghoeroe van formaat. Inskrywings het ingestroom. Die getal en gehalte het alle verwagtinge van die Pendoring-komitee oortref.

Op 24 Junie 1995 wen Suid-Afrika die Wêreldrugbybeker op Ellispark. Twee maande later, op 1 September 1995, maak Pendoring sy glansryke buiging. Die eerste beeldjies kry baas op ’n glansgeleentheid by Vodacom se elegante nuwe gebou en teater in Midrand, waar die mondigwording Vrydagaand 28 Oktober ook gevier word.

Die ekonomie is ‘n universele taal. Waarom is reklame in verskillende inheemse landstale, soos Afrikaans, belangrik?

Die pad na 'n man se hart loop deur sy maag, lui die spreekwoord. Ek glo jy kan in dieselfde idioom byvoeg: die pad na iemand se beursie loop deur sy/ haar hart. Om enige boodskap tuis te bring, is die gehoor se eie taal 'n kritieke, selfs deurslaggewende, faktor.

Advertensiekenners kan met hul statistieke vers en kapittel bewys dat reklame in die moedertaal 'n bepaalde gehoor die sekuurste tref. Afrikaans en ander inheemse tale is dus vir die mark belangrik. Skeep dit af en voel dit aan jou sak, kan 'n mens met reg waarsku.

Om spesifiek oor Afrikaans te praat: die ontploffing in die rolprentmark en die musiekmark is ongetwyfeld 'n barometer van Afrikaans se waarde as kanaal om by 'n massa mense uit te kom. Op tydskrifgebied is Huisgenoot los voor Engelse mededingers. Hoe bereik jy boere beter as deur Landbouweekblad? Afrikaanse koerante stry hard teen die enorme uitdaging van die digitale media, maar 'n kerngroep Afrikaanssprekendes bly rotsvas aan hul koerant lojaal. Dit is vir hulle soos moedersmelk.

Die media bied sterk markte met goeie besteebare inkomste op 'n skinkbord vir die adverteerder. Wee dan die adverteerder wat in Engels in 'n uitsluitend Afrikaanse omgewing wil adverteer. Min dinge gee Afrikaanssprekendes meer aanstoot. Elke Engelse advertensie wat ek in 'n Afrikaanse publikasie sien, verdien vir die adverteerder in my boekie 'n druipsyfer.

Die ekonomiese waarde van inheemse tale staan vas. Daaraan twyfel ek nie in die minste nie.

Watter Afrikaanse advertensies is advertensies wat jy nou nog onthou?

Nou daag jy darem die geheue van 'n 75-jarige uit, hoor. Ek sal sekerlik later, soos my tant Minnie altyd gesê het, my hare uit my kop trek as ek skitterende advertensies onthou wat op die oomblik net nie voor my geestesoog opspring nie.

Die sonbrandmiddel Coppertone had egter in die ’60's 'n treffer met die hondjie wat 'n fraaie vlegselmeisietjie se swembroekie beetkry en haar spierwitte boudjies ontbloot.

Wilson-toffies het 'n gelukkige gesinnetjie op 'n dubbeltandemfiets uitgebeeld met die boodskap: "Gelukkige gesinne geniet Wilson-lekkers."

In die ’80's het David Kramer met sy rooi velskoene en kitaar "gesing soos hy ry" vir Volkswagen Kombi.

'n Swart belt (in judo) het sy rieme styfgeloop teen die swart kat van Black Cat-grondboontjiebotter.

Onder die slagspreuke onthou ek dadelik Kit-Kat se "Neem 'n blaaskans ... neem 'n Kit-Kat."

Vyf Rose-tee het 'n romantiese snaar geraak met: "Die vyfde roos is vir jou, my skat."

Rembrandt van Rijn, my persoonlike gunstelinghandelsmerk in die sigaretmark, het trots verkondig: "Elke sigaret 'n meesterstuk." Ongelukkig het poetsbakkers dit later verdraai tot "Elke hoes 'n meesterstuk."

Sic gloria transit ...

 

  • Prente deur Hennie van Deventer verskaf
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top