Anna-Mart van der Merwe verras oor toekenning vir beste aktrise

  • 0

Anna-Mart van der Merwe met haar Fleur du Cap-toekenning

Anna-Mart van der Merwe het onlangs die Fleur du Cap-toekenning vir beste aktrise in ’n teaterproduksie gewen vir haar rol in die bekroonde produksie Swerfgoed.

Swerfgoed spog ook met die Fleur du Cap-toekenning vir beste ondersteunende akteur in ’n teaterproduksie (Richard September) en beste ondersteunende aktrise in ’n teaterproduksie (Nicole Holm). Die teks is geskryf deur Bauke Snyman, en Tinarie van Wyk Loots is die regisseur.

Fleur du Cap-wenners word gekies uit produksies wat by professionele teaters in en om Kaapstad aangebied word, en altesaam 87 verskillende produksies van 2018 was in aanmerking vir die toekennings.

Anna-Mart vertel meer oor hoe verras sy is oor die toekenning, en waarin sy vanjaar by die KKNK te sien is.

Jy het onlangs by die Fleur du Cap-toekennings die toekenning vir beste aktrise in ’n toneelstuk ontvang – hoe voel jy oor dié toekenning?

Dit was vir my ’n uiters groot kompliment om ’n nominasie te ontvang. Swerfgoed is ’n nuwe stuk, jonk, uitdagend en beslis nie veilige teater nie. Die toekenning was werklik ’n skok en ook ’n ongelooflike geskenk. Ek is baie dankbaar en voel dis tekenend van ons regisseur, Tinarie van Wyk Loots, se talent en vaardige, vreesloos hand dat Richard September en Nicole Holm ook vir hul spel in Swerfgoed Fleur du Caps ontvang het.

Hoe was die ervaring om deel te wees van Swerfgoed?

Een groot, malle vreugde en plesier. Dis nie aldag dat mens met ’n regisseur wat witwarm brand soos Tinarie en so ’n uiteenlopende, briljante groep spelers kan saamwerk nie. Ons tegniese span, Kanya Viljoen, Jemma Kahn en Michael Garbett, is die begaafste engele en ek het werklik elke keer daarna uitgesien om werk toe te gaan.

Die geselskap van Swerfgoed

Swerfgoed het al verskeie nominasies en toekennings ontvang – wat sou jy sê het bygedra tot die sukses van die produksie?

Ek voel dit is iets nuuts. Veral jongmense het baie aanklank daarby gevind. Die stuk het ’n Tarantino-kultus-gevoel. Die storie word nie liniêr vertel nie. Dis vinnig en Tinarie het dit ook visueel baie stimulerend gemaak. Die tema van ’n distopiese samelewing en morele (en werklike!) droogte spreek boekdele in terme van die tyd waarin ons nou leef.

Hoe berei jy voor vir rolle wat jy vertolk?

Alles begin by die teks. Ure se lees en weer lees en ontleding en speurwerk om die karakter hopelik driedimensioneel van die bladsy tot op die verhoog te bring.

Anna-Mart van der Merwe in Swerfgoed

Wat is van die grootste lesse met betrekking tot jou beroep wat jy al oor die jare geleer het?

Daar is geen kortpad nie. Met harde werk en soms ook stille, weerlose oorgawe word die rigting wat jy met die stuk/karakter moet inslaan, hopelik duidelik.

Wat hou die toekoms vir jou in? Waarmee is jy alles besig?

Ek is tans by die KKNK besig met Koningin Lear met Antoinette Kellerman in die titelrol. Sy is doodeenvoudig verstommend en ’n inspirasie. Dit voel elke dag asof ek in ’n meestersklas sit terwyl ek kan dophou hoe sy die rol takel met Marthinus Basson aan die stuur van sake. Kan mens vir meer vra?!?!!

  • Foto's verskaf

Lees ook

Aardklop 2018: Swerfgoed, onbesonge kultusteater

US Woordfees 2019 Instagram-resensie: Swerfgoed

Die bestes word vereer by 54ste Fleur du Cap-toekennings

Director and playwright Lwanda Sindaphi’s Kudu catches attention at the Fleur du Cap Awards

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top