Al die swendelaars deur Chris Karsten: ’n resensie

  • 1

Al die swendelaars deur Chris Karsten (Human & Rousseau, 2025)

TitelAl die swendelaars
Skrywer: Chris Karsten
Uitgewer: Human & Rousseau (September 2025)
ISBN: 9780798185523

Die spel met woorde in Chris Karsten se mees onlangse spanningsverhaal is ’n fees! Moet dus nie afgesit word deur die aanvanklike “Bertie by sy braaivleisvuurtjie” nie, of die kort, skynbaar onsinnige name soos Japie, Jan en later nog Vince, Gus en Mannie nie. Jy sal jou vergis, soos ek het toe ek dog Arrie Dogh sal nóóit parallelle met Arsène kan hê nie, want dan sal daar perde wees (of nie).

Die verhaal speel hom tussen einde Oktober, begin November 2025 af, maar die leser kom vinnig agter dat daar meer agter die karakters se Ali Baba-vertoning skuil ... die Ganzevlei loop vol daarvan! Dit is om bogenoemde braaivleisvuurtjie dat Bertie-hulle1 in Maart besluit om “’n soort reisende hansworstery in die vorm van ’n pantomime” (19) op die been te bring, te wete Ali Baba en die veertig rowers. Dit word herskryf, kry liedjies by en hulle maak self die klere, rekwisiete, en dies meer, sodat dit ’n volwaardige vertoning word.

.......
Die verhaal speel hom tussen einde Oktober, begin November 2025 af, maar die leser kom vinnig agter dat daar meer agter die karakters se Ali Baba-vertoning skuil ... die Ganzevlei loop vol daarvan!
.......

Aan die begin van Oktober bel ’n prokureur Ganzevlei Stables om vas te stel of ’n sekere Turkse sultan die plaas mag besoek om teelperde vir hom te koop. Kort voor lank besoek hy met sy groot gevolg die perdeplaas en talle perde word bekyk voordat die gaste dan en daar besluit om te koop – hulle stel selfs in die stoetmeester se gunsteling belang! Die plaasbestuurder, Buti Jele, moet alles self behartig (behalwe vir Sadie wat met die kos help), omdat sy baas én die stoetmeester oorsee is. Die sultan is so haastig om die perde te besit dat hy op die daad ’n deposito (in kontant!) in die kantoor agterlaat.

Daar is nie ’n kluis in die plaashuis nie en aangesien dit ’n massiewe klomp geld is – US $1 200 000 om presies te wees – besluit Buti om dit in die kantoor te versteek. Die arme man skrik hom katswink wanneer hy die volgende oggend agterkom dat al die geld skoonveld is.

Buti se baas, Louis Jooste, het sy rykdom oor die jare heen deur middel van ’n ponzi-skema verkry. Hy is ook nie skaam om sy rykdom in die plaashuis te vertoon nie, wat met hope Persiese matte en oorspronklike skilderye behang is. Verder nog is dit geen geheim dat Jooste ’n verhouding met Donna Scott, Ganzevlei se stoetmeester, het nie.

Die vraag is van die begin af: Wat het van die geld geword – en dit hoort ’n heel eenvoudige saak vir die aftredende speurder te wees. Arrie Dogh (rym met van Gogh, die skilder) hoor ons op die eerste bladsy, voer skynbaar ’n skriftelike onderhoud met die skrywer van die teks wat ons lees. Sy towertapyt word stukkie vir stukkie vir ons afgerol terwyl ons die gebeure volg en dis ’n heel lewendige “gesprek”:

          Ek het kaptein Molo van die anonieme beller vertel en hy’t –
          O? Jy wil eers meer weet oor Bertie en Diek en [...]. (91)

Sulke onderbrekings in Dogh se “verslag” bring die leser lip teen wang met die gesprek en die gebeure self. Maar trap suutjies, want dit kom amper voor soos ’n postmodernistiese palimpses, waar die feitelikheid van die storie (en Chris Karsten self) bevraagteken kan word.

Laat my ’n geheimpie deel wat heel aan die einde van die boek voorkom: Melding word op bladsy 268 gemaak van Richard Parker. Bertie Greeff, wat eens ’n geskiedenisonderwyser was, vertel Dogh “van die vier denkbeeldige skipbreukelinge van die walvisskip Grampus wat vergaan het. Ter wille van oorlewing maak hulle ’n kajuitjonge dood en eet van sy vleis. Die jong se naam: Richard Parker” (268).

Dié van ons wat al Yann Martel se Life of Pi gelees het, sal weet dat Richard Parker die naam van die tier is wat Piscine Molitor “Pi” Patel op sy maandelange lewe op ’n reddingsbootjie as skipbreukeling vergesel. Life of Pi eindig waar hierdie tier in die bosse verdwyn en niemand weet per slot van rekening of hy werklik bestaan het nie – nog die mense wat Pi gered het, nog die verslaggewers wat foto’s van hom kom neem het, of selfs die skrywer wat bereid was om Pi se verhaal neer te pen nie.

Wanneer Dogh dan een aand hande in die hare sit en die saak met sy vrou Elsie bespreek, begin hulle ook praat van “skimsels”. Sou ’n spook dié lelike ding aan Louis Jooste kom doen het? Want daar was geen teken van ’n inbraak nie, g’n gebreekte glas, of loeiende alarms nie; verder nog is die CCTV-kameras se beelde te onduidelik om enige bewyse van enige gebeure te lewer. Op bladsy 226 merk Dogh op: “Ek hoor nou Bertie se laggie: Ek en jy, Arrie, lyk my ons gaan met geeste om. Met herresenes. Lasarus, Stubbs, Bester, nou Japie Dikkat” ... of het ons hier nog ’n Man uit die dode (Chris Karsten 2020), ’n Richard Parker?

Die speurder verwys self op bladsy 54 na “waar ’n speurder en verdagte hulle vernuf teen mekaar toets. As penlekker sou jy tog self sulke stories gelees het – Doyle se Consulting Detective Holmes, Collins se Sergeant Cuff, Dickens se Inspector Bucket, Poe se le Chevalier Dupin [...]” wat die klokkies by hierdie leser laat lui het!

......
Ek sien in my geestesoog hoe Karsten in sy stoel agtertoe leun nadat hy die laaste paragraaf getik het en tong in die kies bydink: Trou is nie perdekoop nie.
......

Die spanning bly tot heel aan die einde hoog, wanneer die leser oplaas uitvind presies wat gebeur het – net soos “allie babas” (verskoon tog, Al die swendelaars) innie Wildernis (waar die gebeure afspeel). Ek sien in my geestesoog hoe Karsten in sy stoel agtertoe leun nadat hy die laaste paragraaf getik het en tong in die kies bydink: Trou is nie perdekoop nie.

Ek kan die versoeking amper nie weerstaan om alles weer te lees en te kyk of ek dalk vroeër die kloutjie by die oor kon gebring het nie.

Eindnota

1 Wanneer ons Bertie ontmoet, is dit na die dood van ’n goeie vrou (Chris Karsten 2016).

Lees ook:

Chris Karsten (1947–)

Gerugte van ’n ontvoering deur Chris Karsten, ’n lesersindruk

Die geskiedenis word lewendig in Chris Karsten se Op pad na Moormansgat

Man uit die dode deur Chris Karsten: ’n lesersindruk

Die versoeking van Thomas Maas deur Chris Karsten: ’n resensie

Frats deur Chris Karsten: 'n Waagmoedige roman met hartklop

  • 1

Kommentaar

  • Susan van Zyl

    Die agterplat sê: dié vermaaklike dog ongewone speurroman.... Inderdaad! Vanaf die karakters se eenvouige, bedrieglike name (dankie tog, nie weer 'n gesukkel met Hongaarse of Tjeggiese name nie), die onverbloemde spot met berugte Suid-Afrkaanse swendelaars, die verskyning van 'n uitgestorwe Turkse spesie in hulle flambojante...uhm...kostuums(?), 'n clueless Valk en 'n ewe clueless ou speurder en 'n paar skynbaar moeë ou gryskoppe tot 'n kinkelrige storielyn met baie humor en Chris Karsten se gebruiklike soepel taalgebruik... een groot leesplesier! Ek hoop daar's nog sulkes waar dié een vandaan kom.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top