Frats deur Chris Karsten: 'n Waagmoedige roman met hartklop

  • 0
Chris Karsten

Human & Rousseau
ISBN: 978-0-7981-4880-1
Sagteband
288 pp

Ons ken almal die storie van Saartjie Baartman, die nou reeds simbolies geworde Khoi-vrou wat vanweë haar merkwaardige postuur, dit wil sê, haar groot boude, weggevoer is hiervandaan en in Engeland vertoon is as frats tussen ander mens- en dierfratse. Later is sy in Frankryk deur anatomiste bestudeer as evolusionêre rariteit. Ons ken haar as objek, soos die geskiedenis haar ken.

Maar wie van ons ken werklik haar storie, van binne? bedoel ek. Want bekendheid verduister dikwels juis die werklikheid.

In Frats het Chris Karsten die waagmoedige ding gedoen om op die spore van haar lewe ’n werklik aangrypende roman te konstrueer waarin haar gevoelslewe as objekgeworde vrou-mens die hartklop van die boek word.

En wat ’n hartklop het hierdie boek nie! Sy word as kind, genaamd Khoena, gevange geneem deur ’n strafekspedisie Boere wat ’n Khoi-groep in ’n afgesonderde kloof uitmekaarskiet en daarna met ’n groep Khoi-kinders en hul gesteelde vee uit die kloof verdwyn.

Dit is die sentrale gegewe van Khoena se lewe. En die enigste einddoel van haar ganse vreemdelingskap daarna, in die Kaap, in Engeland en Frankryk, is om daarheen terug te keer, na haar plek en na haar gestorwe mense toe. Want sy dra in haar kop die stemme van haar stamgeeste saam, en hulle praat met haar. Onstilbaar. Hulle dryf haar om daardie kloof weer op te soek, deur die verskillende slawernye van haar bestaan. Sy noem die kloof haar “vryheid”.

Die enigste vryheid wat sy in werklikheid vind, is haar uiteindelike armoedige dood in ’n agterbuurt in Parys. En na die dood word haar liggaam sorgvuldig opgesny, bestudeer en gebalsem. Dit wat sy die wetenskaplikes in haar lewe ontsê het, naamlik ’n insae in die binnelabia van die geslagsdeel waar hulle die sogenaamde “hottentotvoorskoot” anatomies wou beskryf, dit word dan op haar gestorwe liggaam voltrek.

Chris Karsten het hier, in sy eerste roman, vorendag gekom met ’n bitter interessante gegewe. Hy het te doen gekry met ’n groot klomp wydvertakte en weerspannige materiaal. Hy moes hom inwerk in die atmosfeer van plekke so verskillend soos ’n Khoi-stamkloof in Afrika en die Museum d’Histoire Naturelle in Parys. Die menslose groutes van Gin Lane Londen. In die destyds tastende argumentasies oor die anatomiese ontwikkeling van die mens. In die freak show waar die fratsmeester die andersoortiges as karikature van menswees vertoon. In die wellings van wellus wat voelbaar word in die teks.

Die verhaal word in knap gevoegde episodes vertel – elk ’n duidelike prent van ’n kernsituasie. Altyd staan Khoena se gevoelslewe voorop – uitstekend gekenskets deur die buitebladbeeld, waarop ’n ou Franse prent van ’n Boschismanvrou vertoon word.

Die argument wat in die boek beliggaam word, is dieselfde argument wat vandag nog in die sosiale filosofie bespreek word, naamlik: Wie is nou eintlik die frats – hulle, of ons?

Een van die fratse in die boek is ’n onvergeetlike alkoholiese sjimpansee wat aanmekaar alkohol gevoer word om hom so te hou. By die lees daarvan verskuif daar iets in die leser se kop. Die wêreld word vreemder as wat dit was. Wie bepaal die kategorieë van fratswees in ons bestaan – en waarom? Hoe lyk die andere nou eintlik, die Naaste van wie die Bybel praat?

Ek het by die lees van die boek teruggedink aan die stelling van Buber, die groot Joodse denker, wat gesê het dat ons voor ons Naaste moet staan soos voor die Brandende Braambos.

’n Goeie gedagte vir die jaar.

(Resensie voorgelees op FMR)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top