Akina Besuidenhout: Wesens is baie opvoedkundig

  • 0

...
Hulle het dit so goed vertolk dat jy sou dink hulle is regte wetenskaplikes.
...

Film: Wesens

Regisseur: Derick Muller

Wesens is ’n fliek wat afgeskop het in die jaar 2020. Dit is nie die perfekte fliek nie, maar dit het my aandag getrek. Die akteurs en regisseur het uitstekende werk gedoen. Rolle is goed vertolk en hulle het hulleself oortref. Pietie Beyers (Kuyper), Conradie van Heerden (Conradie), Morne Visser (Majoor) en Rayno von Schlicht (Andries) speel die hoofrolle in die film. Die rolprent is gebaseer op ou filmrolle en oudiobande wat uit 1967 dateer wat gevind was vroeër in 2020 deur ’n kameraversamelaar. Dit is ’n wetenskapfiksieverhaal. Ek sal dit aanbeveel vir jongmense wat in die wetenskaplike rigting wil ingaan, veral sterrekunde, want die fliek gaan oor ’n voorwerp wat uit die ruimte geland het op Aarde. Die voorwerp het deurnag op ’n plaas in die Karoo geland en die plaaseienaar het die wetenskaplikes laat weet sodat hulle die voorwerp kan ondersoek.

Die film is baie opvoedkundig – dit leer vir ons van die mens se vroeëre lewe en hoe die mens ontstaan het. Baie vrae word gevra oor die bestaan van die mensdom. Wetenskaplik en geestelik.

Suiwer Afrikaans word gebruik en hulle praat nou en dan Engels, maar hulle gebruik ook baie streng taal. Baie nuwe wetenskaplike en letterkundige woorde word geleer uit die fliek.

Daar is ’n draaipunt in die fliek waar ’n vreemde wese uit die voorwerp bars en die wetenskaplikes het begin gewelddadig raak teenoor mekaar, omdat hulle verskillende uitkyke het oor die eksperiment. Dit is soort van ’n vrou wat uit die voorwerp gebars het. Wat ’n “simbool” is van die film, omdat dit oor die mensdom gaan en die ontstaan van die mensdom ondersoek. Dit is ook te gewelddadig vir minderjariges.

Die fotografie is baie duidelik. Ek sal sê medium-kamerakwaliteit, maar dit is meer asof dit afgeneem is deur ou oudiobande en filmrolle, omdat dit gebaseer is op die jare toe hulle filmrolle gebruik het om iets af te neem.

Dit is nie ’n perfekte film nie. Daar is twee probleme. Een, dit het geen vrouekarakters nie en in vandag se tyd is dit verkeerd, want mense hou nou meer baie van feministiese films en films wat vroue die geleenthede gee om hulle talent te wys. Sommige mense sal die rolprent as seksisties beskou, maar ander, soos ek, sal dit kyk as gevolg van goeie eienskappe van elke karakter. Die tweede probleem is, daar is dele waar daar naaktheid is, maar die ouderdomsbeperking is vir dertien jaar en ouer. En dink dit is ’n bietjie onvanpas, omdat dertienjariges nog te jonk is om daardie tipe rolprente te sien. Ek sal aanraai dat kinders eers hul ouers permissie vra om die fliek te kyk, of hulle ouers moet saam met hulle die film kyk.

Die klankbaan is uitstekend en elke woord word duidelik uitgespreek. Die oudiografie was goed. Jy hoef nie jou televisie sagter te stel wanneer die musiek begin speel nie en hoef dit ook nie harder te sit wanneer die akteurs begin praat nie. Dit is ’n gelyke klankstelsel. Die tegniese aspekte is ook baie goed. Wanneer dit oorslaan van een toneel na ’n ander toneel, lyk dit nie asof dit twee verskillende tonele is wat na mekaar opkom nie. Daar is nie so baie bekende karakters nie, so dit sal baie filmkykers se bui laat sak omdat hulle nie bekende gesigte sien nie, maar dit was ’n voorreg om ander akteurs op skerm te sien en te sien hoe goed hulle die rolle kan vertolk. Hulle het dit so goed vertolk dat jy sou dink hulle is regte wetenskaplikes.

Die fliek raak jou nie veel emosioneel nie, maar daar is ’n punt in die film waar daar konflik opbou en jou meer opgewonde maak om die film te kyk. As hulle meer tonele soos dit in die film gesit het, sou dit baie meer treffend gewees het.

Ek gee die film 5,5 uit 10.

Lees ook:

Wesens: “Wie was eerste hier?”

Wesens, ’n kritiese ontleding deur Leoné Prinsloo

Tussen realisme en wetenskapfiksie: die konstruering van die Ander in Wesens (2020)

Filmresensie: Wesens

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top