- Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse.
Tydens ons troue het ek in my toespraak ’n brief voorgelees – ’n brief in 2061 geskryf deur ons denkbeeldige kleinkind ter viering van my en Helanya se 50ste huweliksherdenking. Dit het min of meer só begin:
Ouma vertel graag die storie dat háár oupa, my oupagrootjie se pa, ’n wildkenner was. En hoe hulle elke jaar saam met hom na die Krugerwildtuin gereis het, op soek na die Groot Vyf: die leeu, die olifant, die luiperd, die buffel en die renoster. Ek wéns ek kon ook nog ’n renoster in lewende lywe sien.
Daardie toekoms klink ongelukkig al hoe waarskynliker. In 2011, die jaar toe ons getroud is, was daar meer as 11 000 witrenosters in die Krugerwildtuin. Teen 2024 was daar minder as 2 000 oor. Ons verloor hulle teen ’n stink spoed, hoofsaaklik weens stropery, aangevuur deur die groeiende, wêreldwye vraag na renosterhoring en ivoor.
Tog is daar ’n ligpuntjie – al bly ’n mens maar versigtig optimisties.
’n Studie wat onlangs in Science verskyn het, gee hierdie sprankie hoop. Timothy Kuiper en sy kollegas stel daarin ’n eenvoudige, maar doeltreffende plan voor: Sny die renosters se horings betyds af. Sonder horings, redeneer hulle, is renosters minder aanloklik, en veel minder werd vir stropers. Hulle het ses jaar se data uit 11 reservate in Suider-Afrika ondersoek en besef dat hierdie vroeë onthoorningstrategie stropery met 78% laat daal het, en dit met slegs 1,2% van die totale bewaringsbegroting. Opvallend genoeg het die ou, duur metodes, soos veldwagterpatrollies, speurhonde en kameras min verskil gemaak, al het hulle steeds die meeste van die beskikbare hulpbronne opgeslurp.
Selfs in hierdie positiewe resultate skuil daar nog heelwat onsekerhede. Kuiper se studie wys byvoorbeeld dat die koste-effektiwiteit van onthoorning baie verskil van reservaat tot reservaat. Die grafiek illustreer dit duidelik – kleiner reservate kon renosters teen betreklik lae koste red, terwyl groter reservate, soos die Krugerwildtuin, aansienlik meer moes bestee om dieselfde uitwerking te hê. Die variasie wys net hoeveel ons nog moet leer oor die praktiese toepassing van hierdie strategie.
En dit bring ons by ’n interessante vraag: Watter rol speel die ekonomie in natuurbewaring? Volgens die klassieke ekonomiese benadering is wildbewaring bloot ’n kwessie van vraag en aanbod. Aan die aanbodkant kan beleidmakers kies om stropery moeiliker en duurder te maak deur meer weerstand in te bou – meer patrollies, beter toesig, onthoorning ... Of hulle kan selfs sintetiese horing as plaasvervanger produseer. Aan die vraagkant is daar weer opsies soos opvoedingsveldtogte om verbruikers se smaak te verander, of die oplê van swaarder strawwe vir kopers van onwettige produkte. ’n Effe meer omstrede idee is om die handel in renosterhoring wettig te verklaar, sodat ’n wettige, gereguleerde mark die prys laat daal en sodoende die winsmotief vir stropers ondermyn. In 2013 het Duan Biggs en sy mede-outeurs in Science aangevoer dat so ’n wettige mark dalk goedkoper, veiliger en meer eties sou wees as die bestaande, onwettige alternatief.
In die werklikheid speel dinge egter nie altyd uit soos wat die ekonomiese teorie sou verwag nie, veral nie as dit by ingewikkelde, onwettige markte kom nie. In 2016 het Solomon Hsiang en Nitin Sekar dit op skerp wyse uitgelig in ’n studie vir die NBER (The National Bureau of Economic Research). Hulle het gekyk na die gevolge van ’n eenmalige wettige uitverkoping van ivoorvoorraad aan China en Japan. Die verwagting was dat so ’n wettige aanbod stropery sou verminder, maar hulle ontleding het juis die teenoorgestelde gewys: Stropery het toegeneem. Volgens hulle kon die wettige verkoop per ongeluk die beeld van ivoor genormaliseer het, die verbruikersmark verbreed het, en selfs smokkel vergemaklik het – ’n goeie voorbeeld van hoe eenvoudige teorieë dikwels skeefloop in die praktyk.
Is dit dan die einde van die debat oor wettiging? Glad nie. Hsiang en Sekar se bevindinge is nog nie in ’n ewekniebeoordeelde tydskrif gepubliseer nie en het al menige wenkbrou laat lig. Een van die sterk teenargumente kom van Fiona Underwood, wat meen daar is fout met hul metode. Sy wys daarop dat hulle nie behoorlik rekening gehou het met hoe die getal olifantkarkasse van plek tot plek verskil nie. Party plekke het net ’n paar karkasse, ander honderde. As mens dit alles gelyk weeg, kan jy maklik die verkeerde gevolgtrekkings maak. Underwood se eie ontleding, wat dié verskille in ag neem, vind dan ook nie duidelike bewyse dat stropery ná die ivoorverkope wesenlik toegeneem het nie.
Soortgelyke onsekerheid heers rondom die idee van sintetiese renosterhoring. Frederick Chen voer in Ecological Economics aan dat die gebruik van sintetiese horing wat nie van regte horing onderskei kan word nie, miskien juis die teenoorgestelde effek kan hê. As vervaardigers meeding deur hul produk as beter of skerper voor te stel, kan dit die algehele markprys opstoot en nóg meer stropery aanwakker. Chen stel daarom ’n ander plan voor: Produseer sintetiese horing wat net soos die regte horing lyk, maar doelbewus ’n bietjie minder aantreklik is. Hierdie sogenaamde lesser fakes kan dalk die vraag laat afneem en só die druk op renosters verlig. Dis ’n goeie voorbeeld van hoe fyn en genuanseerd ekonomiese ingrypings in bewaring moet wees.
Idees soos dié van Chen is uiters moeilik om in die praktyk te toets, want daar is eenvoudig te min werklike data uit goed beheerde eksperimente. Juis daarom is instansies soos CITES (Convention on International Trade in Endangered Species of Wild Fauna and Flora), wat baie versigtig en behoudend optree, nie lief daarvoor om sulke wilde idees op die proef te stel nie. Waaruit ons wél kan leer, is sogenaamde natuurlike eksperimente, daardie oomblikke wanneer die natuur self die laboratorium opstel.
Een so ’n geval is onlangs ondersoek deur Emma Gjerdseth in ’n studie wat in World Development gepubliseer is. Sy het gekyk na die impak van ’n algemene bewaringstegniek om ivoorvoorrade waarop daar beslag gelê is, in die openbaar te vernietig. Dit moes die boodskap oordra dat ivoor geen monetêre waarde het nie. Ook hierdie resultate was verrassend. In plaas daarvan om stropers af te skrik, het dit blykbaar die teenoorgestelde effek gehad. Ekonomies gesien maak dit sin: As ivoor verbrand word, lyk dit skaars, en skaars goedere is duur – ’n sein wat eerder die onwettige mark dryf as om dit te stuit. Dit wys weer eens dat as ’n mens in ’n mark ingryp sonder om mooi te dink oor die aansporings wat jy skep, dit maklik presies die verkeerde uitwerking kan hê.
In Junie het die Peace Parks Foundation 10 kritiek bedreigde swartrenosters van Suid-Afrika na die Zinave Nasionale Park in Mosambiek verskuif, en ’n bevolking wat vir 50 jaar heeltemal verdwyn het, is só herstel. Dis ’n merkwaardige prestasie. Maar selfs hierdie renosters is, soos soveel ander, vir hul eie veiligheid onthoring. Dit sê iets: Bewaringsukses kom selde sonder opofferings.
As ons die renoster én sy horing wil red, sal ons meer moet waag, meer eksperimenteer, gereguleerde wettige handel toets, en sintetiese alternatiewe ondersoek. En ons het dringend meer ekonome nodig wat hierdie vraagstukke deeglik bestudeer, elke moontlikheid toets, en saam met ekoloë, natuurbewaarders en veldwagters werk. Net dan – miskien – sal my kleinkinders – en joune – nog ’n renoster in die natuur sien. Met horing en al.
Lees ook in LitNet Akademies:
Bekamping van wildmisdaad: ’n ontleding van die Suid-Afrikaanse omgewingsregraamwerk