Aardklop 2019: Die dinge van ’n kind deur Marita van der Vyver op die planke

  • 0

Marita van der Vyver is ’n briljante storieverteller en een van die mees suksesvolle skrywers in Afrikaans. Die dinge van ’n kind is haar tweede volwasse roman wat in 1994 die lig sien (intussen herdruk en vertaal in Duits en Frans).

Die temas wat Van der Vyver aanraak, bly universeel en relevant in die huidige klimaat, hoewel die boek, die nuwe Suid-Afrika, die leser (van toe) en ook die karakters, reeds lankal mondig is.

“Toe ek ’n kind was het ek gepraat soos ’n kind, gedink soos ’n kind, geredeneer soos ’n kind, maar nou dat ek ’n man is, het ek die dinge van ’n kind afgelê ...”

Daar is nie ’n beter titel vir die verloop in dié storie nie. Die boek en ook die verhoogstuk handel oor “loss of innocence”. Nie net op seksuele gebied nie, maar op verskeie vlakke. Die oomblik wanneer jy bewus word dat daar vir jou gelieg is deur die staat, die kerk, jou ouers, jou vriende, jouself ...

.............

“Die verplasing van die boek na die verhoog in die vorm van ’n eenvrouvertoning is tekenend, want op die ou end berus alles maar op jy en jou eie keuses.”

.............

In 2019 kan ons steeds identifiseer met die jong en ouer Mart (sentrale karakter van die boek en verhoogstuk) se soeke na identiteit, die vrees vir verlies en die alewige stryd om êrens in te pas of iewers te behoort. Die leser/kyker word gekonfronteer met sy eie verlede/hede en hoe vinnig tyd verbygaan en hoe lank ons herinneringe/bagasie met ons saamdra.

Die verplasing van die boek na die verhoog in die vorm van ’n eenvrouvertoning (tekenend, want op die ou end berus alles maar op jy en jou eie keuses) was nie ’n maklike taak nie en ’n sterk span is aangestel – naamlik Margit Meyer-Rödenbeck & Alexa Strachan as vervaardigers, Nicole Holm as regisseur, Francois Toerien, teks (gebaseer op Marita van der Vyver se boek), Schalk Joubert (klankbaan), Lize van Rooyen as verhoogbestuurder en Cintaine Schutte as Mart.

Margit Meyer-Rödenbeck sê, “Francois het hom baie goed van sy taak gekwyt, maar mens kan nie die hele boek op die verhoog uitspeel nie en mens moet kies waarop jy wil fokus en die hoofstorielyn wat jy wil dra. Francois het goeie keuses gemaak om op te fokus: die verlies aan onskuld, coming of age, die jonger en ouer Mart en om dit meer te wys deur jou akteur as om te vertel, wat ’n baie moeilike taak is.”

Nicole Holm glo dat mense beslis sal kan identifiseer met Mart. “Haar bang van destyds, is vele mense se bang van nou. Mart sê op ’n stadium dat een van die grootste verliese wat mens kan tref, die verlies van drome is. Met die vestiging van dit wat is, raak mens akuut bewus van die verlies van dit wat kon gewees het.”

Dit spreek dus tot elkeen van ons.

.............

“Die leser/kyker word gekonfronteer met sy eie verlede/hede en hoe vinnig tyd verbygaan en hoe lank ons herinneringe/bagasie met ons saamdra.”

.............

Alexa Strachan, feesbestuurder van Aardklop, sê sy het gevoel daar kort “iets” vir die program. Cornelia Faasen (NATi) het die saadjie gesaai. “Ek het vantevore twee van Marita se boeke, Vergenoeg en Dis koue kos, Skat, vir die verhoog verwerk, so dit was ’n maklike keuse.”

Natuurlik moes die boek vir die verhoog aangepas word. Boeke het baie karakters en speel oor ’n lang tydperk af, dus is dit ’n moeilike proses om te besluit wat behou mens, al dan nie. Ook die feit dat die aktrise al die verskillende ouderdomme moet kan speel, was ’n uitdaging.

“Cintaine was ’n logiese keuse omdat sy so talentvol is en ’n jeugdige én ’n ouer persoon kan vertolk. ’n Mens moet kyk wat jy in ’n uur kan inpas op die verhoog en wat die storie vorentoe gaan dryf en wat is die spesifieke temas in die boek waarop jy kan fokus.” 

Marita van der Vyver, skrywer van Die dinge van ’n kind, was baie opgewonde en het volle vertroue gehad in Alexa om dit oor te laat in haar hande. Alexa sê: “Sy hou daarvan om te weet wat aangaan en dit te lees, en lewer altyd baie positiewe insette. Haar betrokkenheid by die proses is altyd baie opbouend. Ek is baie dankbaar daarvoor. Marita van der Vyver kan nooit onderskat word nie en haar werk het ’n geweldige aanhang, dus is haar naam op sigself al klaar ’n trekpleister. Hierdie was een van haar gewildste boeke. Cintaine skitter as aktrise en is besig om opgang te maak teen ’n verskriklike tempo.”

Cintaine Schutte vertolk die rol van Mart in hierdie soloproduksie. “Dit sal my tweede keer wees wat ek ’n eenvrouvertoning aanpak, so dit is ’n paadjie wat ek al leer ken het. Alhoewel Die dinge van ’n kind ’n reuse-uitdaging is, is dit ook iets waaroor ek verskriklik opgewonde is. Marita se woorde is iets wat mens wil respekteer en soveel as moontlik eerlik wil oordra en die emosionele landskap van die karakters, sowel as die sterk temas in hierdie storie in eerlikheid wil grond. Dit is ’n “alleen-proses” siende dat dit net jy is. Jy kan nie na of voor of tydens die vertoning jou mede-akteur in die oë kyk en weet daar is iemand wat jou kan dra, vang en ondersteun nie. Dis net jy. Maar gelukkig het ek ’n ongelooflike span om my wat my ongelooflik veilig laat voel en natuurlik gaan dit oor die storie en nie oor my nie. Dis wat al wat saak maak op die einde van die dag.”

.............

“Hierdie produksie is vir elke ma, elke dogter, en die mans in hulle lewens. Mans en mense van verskillende ouderdomme sal beslis ook hiermee kan indentifiseer. Omdat dit ’n coming of age-drama is, is dit tydloos.”

.............

Cintaine sê dit was vir haar en Nicole (vir wie sy baie lof het as regisseuse en spanleier) baie belangrik om vir lank eers met die teks te sit en teksanalise te doen voordat sy vloer toe gegaan het. Wat ook help met subteks en emosionele landskap vir die karakter van Mart is die boek, aangesien hul nie alles wat in die boek is kon sit in die produksie nie.

“Wat vir my so aanloklik was terwyl ek die boek gelees het, is dat al die sterk temas wat Marita in haar boek deurtrek nog steeds so relevant is tot vandag. Verlief-wees, tienerhormone wat wakker word, verlies, grootword, daai een vriend of vriendin wat ’n groot impak op mens se lewe gehad het of nog steeds het, die politieke landskap en leuens, die onsekerheid en vrees maar ook eindelose hoop vir ons pragtige land – almal weet hoe dit voel, iewers op ’n stadium in hul lewens. Die grensoorlog en apartheid was net nou die dag, nie so lank terug nie. Die immigrasiesyfer in ons land styg. Die wonderlike ding wat Marita regkry, is sy plaas jou nie net in Mart se skoene nie, sy skets dít wat jy hiér in jou binneste ervaar en sién dit deur die verskillende karakters se oë. Dit is my hoop vir hierdie stuk.”

Francois Toerien, skrywer van die verhoogteks, sê met die aanpassing en natuurlik ook inkorting van ’n roman vir die verhoog is dit belangrik om hooftemas in die werk te identifiseer en dan stewig koers te hou.

“In essensie bly die storie dieselfde. Alles wat die temas ondervang moet oorweeg word en dit wat oorbodig is en nie direk spreek tot dié visie nie, moet sneuwel. Naas dit geld dieselfde rigtingwysers as vir enige teaterwerk. Daar is wel ’n ligte klemverskuiwing in die guns van die teenswoordige Mart-karakter waar die jong Mart se stories in die roman meer lugtyd kry. Die verhoog is ’n visuele medium so die woorde/teks is bloot ’n onderdeel. Dit is ’n voorstellende medium, so goeie begrippe kort net halwe woorde en dit is ook ’n gedistilleerde voorstelling van die volledigheid … Dinge van ’n kind herbevestig dat die lewe vol slaggate en onvervulde drome mag wees, maar dat dit wel die lewe is. Om te lewe is om die volheid van menswees te omarm, die goed en die minder so. Hoe jy die aanslae bestuur en oorleef, ís die lewe.”

Hierdie produksie is vir elke ma, elke dogter, en die mans in hulle lewens. Mans en mense van verskillende ouderdomme sal beslis ook hiermee kan indentifiseer. Omdat dit ’n coming of age-drama is, is dit tydloos.

Tienerdogters gaan deur daardie proses van vriendskappe, hormone, seksualiteit, selfbeeldprobleme – ongeag in watter jaar dit afspeel. Margit sê sy dink die teikenmark is hopelik almal wat leef en beef!

“Mense wat hou van lees, Marita van der Vyver se boeke aanhang, mense wat hou van teater in Afrikaans. Die boek is geskryf toe ek en Alexa grootgeword het, so in die tyd van die grensoorlog. Maar dié toneelstuk is nie net bedoel vir die nostalgie en herkenning nie, maar is relevant vir elke jongmens in die proses van grootword en die waarheid begin ken en die onderskeid tref tussen leuens en waarheid. Die staat, kerk, ouers en almal lieg êrens vir ’n mens, dus vind dit wye aanklank. Selfs millennials kan perspektief kry met hierdie verwerking van Marita se boek. Hierdie produksie sal letterlik tot elke mens spreek.”

.............

Met: Cintaine Schutte 
Teks: Francois Toerien na die roman deur Marita van der Vyver 

Verhoogbestuur: Lize van Rooyen 
Klankbaan: Schalk Joubert 

Regie: Nicole Holm 
Vervaardiger: Arena Produksiehuis 
Ondersteun deur: NATi en LW Hiemstra Trust 
kykNET Gimmies, 24, 26 Sept 13:00, 25, 27 Sept 20:00, 28 Sept 09:30, R145, 90 min, Drama, Geen o/16 (T, S), Afr 
Klik hier vir kaartjies

.............

Lees ook 

Aardklop 2019: feesprogram

Aardklop 2019: Die drie groot K’s

"Kom fees vry": Alexa Strachan oor Aardklop 2019

Queenie-hulle by Aardklop 2019

Boekresensie: Die dinge van 'n kind deur Marita van der Vyver

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top