"Kom fees vry": Alexa Strachan oor Aardklop 2019

  • 0

Aardklop Nasionale Kunstefees vind vanaf 24 tot 29 September in Potchefstroom plaas. Remona Voges het met die Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) van Aardklop, Alexa Strachan, gesels om te hoor watter opwindende dinge vanjaar se fees inhou. 

Alexa Strachan (Foto: Clinton Lubbe)

 Alexa, wat maak vanjaar se fees anders as vorige jare s’n?

Ons het ’n rukkie terug – rondom 2016 – besluit dat ’n mens nie te veel moet karring aan iets wat reeds werk nie, so ons bly basies dieselfde, maar natuurlik wil mens elke jaar verbeter op vorige jare en verrassende elemente inbring. Maar die aard van ’n kunstefees, veral weens die teaterproduksies, kunsuitstallings en boekgesprekke, is heeltyd vernuwend. Dis nooit 'n herhaling van vorige jare se aanbod nie, so uiteraard maak die produksies dit elke jaar totaal en al anders. Ek dink ons is hierdie jaar geseënd – ons het regtig die room van Suid-Afrikaanse akteurs op een fees bymekaar. Ek dink aan mense soos Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Antoinette Kellerman, Jana Cilliers, Dawid Minnaar, Anna-Mart van der Merwe, ek kan net aangaan en aangaan. Dan is daar natuurlik ongelooflike musikante soos Karen Zoid, Laurika Rauch en Coenie de Villiers. Dus, wat die kwaliteit en profiele van kunstenaars betref, is dit ’n treffer van ’n jaar.

Ek sien veral baie uit na die visuele kunste. Ek het agtergekom wanneer jy as ’n leek na visuele kunswerke kyk, 'n mens partykeer graag meer oor die agtergrond daarvan te wete wil kom. Daarom het ons hierdie jaar begeleide kunstoere vir feesgangers, waaroor ek baie opgewonde is. Dan het ons ook vir die eerste keer 'n kunsveiling saam met Aspire,’n nuwigheid waarna ek verskriklik uitsien. Ons gaan van die uitgestalde werke by ’n kunsveiling aanbied in tipiese kunsveilingformaat. Jy gaan daar kan bie op die dag, ook telefonies en elektronies.

Verder moet almal iewers begin. Ons begin vanjaar met ’n projek genaamd Aktiveer, wat ’n klein vorm is van iets soos Grahamstown se Fringe-program; ons begin dit op ’n klein skaal. Daar’s jonger teatermakers wat bly klop aan die deur en ’n ou se program kan net só groot wees en nie groter nie. Dan vra jy jouself af, waar gaan die mense begin as niemand hulle ’n  kans of geleentheid gee nie, of as daar nie ’n platform vir hulle is nie? So, ons begin die jaar daarmee. Ons het ’n venue wat ons spesiaal vir Aktiveer-produksies aanmekaarsit en waar die jonger en opkomende teatermakers ’n geleentheid gaan kry om hulle staal te wys.

Die program is vanjaar oudergewoonte weer propvol. Waarna sien jy die meeste uit?

Dit is soos om te sê mens moet tussen jou kinders kies. Tydens die fees het ek self nie regtig tyd om vertonings by te woon nie, maar as ek het, sou ek wraggieswaar weer Koningin Lear gaan kyk. Net omdat ek dink dis een van die mees majestueuse, manjifiek grootse werke waarmee ons geseënd is om ooit in hierdie land op die planke te hê. Hierdie vertoning is so besonders dat oordrewe beskrywende woorde nie daaraan reg kan laat geskied nie. En dis so toeganklik. Mense dink omdat dit Shakespeare en Tom Lanoye is, gaan mense nie verstaan wat aangaan nie, maar dit is glad nie die geval nie. Plaas daarteenoor die ewe briljante Tienduisend ton, Nico Scheepers se sensitiewe aanbieding oor moderne verhoudings, soos dit afspeel teen die agtergrond van die mens se verantwoordelikheid teenoor ons planeet.

Kamphoer – die verhaal van Susan Nell. Wat kan ’n mens sê, dis Sandra Prinsloo. Dis ’n fantastiese stuk werk. Ek dink die kombinasie van Lara Foot en Sandra is net fenomenaal en in ’n ander klas.

Vir ’n minder konserwatiewe gehoor, is Die intermissie ’n lekker stuk. Ek het gerol van die lag met ’n lekker lawwe groep mense. Dit is regtigwaar vermaaklik.

Ek het O, my folk! nog nie gesien nie, maar die kombinasie van kunstenaars lyk vir my baie interessant. Koos Kombuis was natuurlik jare laas by Aardklop. En om vir Koos, Herman Kleinhans en Bottomless Coffee saam met Johrné van Huyssteen op ’n verhoog te hê, met die briljante Matthys Maree wat die regie en musiek behartig, is dit nogal iets waarvoor ek tog moeite sal doen om by uit te kom.

Wat my van hierdie jaar se program opval, is die aantal interdissiplinêre kunsprojekte. Kan jy ons asseblief ’n bietjie meer hieroor vertel en verduidelik wat interdissiplinêre kuns behels?

Ek dink die mees interdissiplinêre projek, is ons Maboneng Township Art Experience en ek is verskriklik opgewonde daaroor. Feesgangers spring op ’n taxi by ons pendeldiens. In die taxi is ’n taal- en kultuurghoeroe wat op pad na Ikageng’n bietjie die taal en kultuurgebruike, basiese groetwoorde en terminologie, en die verskille tussen Afrikaans- en Tswanasprekers uitlig. Ek het byvoorbeeld geleer hoekom óns stewige handdrukke gee en hoekom ander kultuurgroepe dit negatief ervaar. Ons het ’n wonderlike plaaslike jong woordkunstenaar wat ’n stuk poësie in Engels gaan dramatiseer. Dan gaan ons gewone mense se huisies in kunsgalerye omskep. Feesgangers kan kuns in die onderskeie huisies beskou en ook die mense wat daar woon, ontmoet – ’n wonderlike geleentheid vir kulturele uitruiling!

Karoo-suite is ’n interessante kombinasie met Coenie de Villiers en Deon Meyer. Deon het ’n liriekteks geskryf vir Coenie se musiek wat op Vivaldi se Vier Seisoene geskoei is. Deon se eie woorde en beeldmateriaal word oorhoofs op 'n grootskerm vertoon.

By die visuele kuns is daar ’n interessante uitstalling met die titel Nagmusiek. Dis ’n visuele ervaring geïntegreer met klank. Kunstenaars luister na musiek (van byvoorbeeld Strauss, Berlioz en Schubert) as inspirasie vir ’n visuele kunswerk, sonder enige vertaling van die libretto. Feesgangers moet dan hul oorfone saambring en na die musiek luister terwyl hulle na die kunswerke kyk.

Louwtjie Rothman en Albert Frost speel saam in Akoestiese kitaar, wat mens amper ook interdissiplinêr kan noem. Die ongelooflike goed wat daardie twee mense met ’n kitaar kan doen, bly vir my net altyd verruklik. Dis terloops ’n produksie wat ek ook beslis sal aanbeveel.

Hoekom dink jy is kunstefeeste soos Aardklop belangrik?

Deesdae voel ons almal by tye vuisvoos, moeg geploeter en flenters gebombardeer. Daagliks vertel die nuus ons van korrupsie, en daar is wedersydse beskuldigings rakende swak dienslewering. Alles blyk afgesaagde retoriek te wees, en dan is daar boonop slaggate om elke hoek en draai. Geen wonder dat ons vervreemd, onbetrokke en ongeïnspireerd begin voel nie.

Daarom het ons juis nou die kunste as ligpunt, balans en rigtingwyser nodig. Dit skep 'n ruimte waarbinne ons kan saampraat, dink, wonder oor dinge, verwonder kan wees en lekker kan lag.

Aardklop bied juis dit: ’n geleentheid om saam met vriende en familie van die alledaagse te ontsnap om in ’n feestelike atmosfeer die batterye te kom herlaai.

Sien julle meer kruisbestuiwing tussen die verskillende feeste as in vorige jare? Word daar byvoorbeeld heelwat produksies wat by die Woordfees gedebuteer het,  by Aardklop opgevoer?

Daar is geweldige goeie samewerking tussen die feeste, maar ’n mens kan mekaar natuurlik nie net herhaal nie. Ons het byvoorbeeld ’n produksie soos Katvoet (Cat on a hot tin roof) met Marius Weyers onder andere, maar die feeste het saam besluit om dit te vertaal en na Suid-Afrika te verplaas. Dit is ’n gesamentlike projek wat by die Woordfees gedebuteer het. Koningin Lear is by uitstek’n KKNK-produksie. Ons het besef die produksie is so geweldig groot in omvang en skaal, dat teatergehore in die Noorde 'n kans móét kry om dit te sien. Dit is ’n kans wat hulle nie sal kry as ons dit nie aanbied nie. Myns insiens is Koningin Lear een van die beste produksies wat in baie jare in Afrikaans, en selfs in Suid-Afrika op die planke gebring is. So, ek is baie dankbaar dat die KKNK dié projek ontwikkel het en dat dit nou na ons toe kom.

In terme van samewerking – feeste vervaardig soms saam, want tye is taai. Dit kos geweldig baie geld om ’n produksie te ontwikkel en van die grond af te bring. Feeste deel dus die onkostes. Die ideaal is natuurlik vir teaterproduksies om ’n langer leeftyd as net een fees te hê. ’n Praktiese voorbeeld is Wildeals wat ons in samewerking met die KKNK vervaardig. Ek sien samewerking tussen feeste as die toekoms. Hoewel ons tog in ’n mate meeding vir gehore, dink ek hoe meer ons saamwerk, hoe sterker word ons stem, en dit gebeur ook al hoe meer en meer.

Na watter musiekdebuutproduksies sien jy uit?

Charl du Plessis, ons eie Steinway-kunstenaar, open sy heel eerste soloklavierprojek by ons. Joshua na die Reën debuteer met die produksie Vlieërs. Olga Leonard, Babette Viljoen, Hilandi du Toit en Grethe van der Merwe bring vir ons ’n a cappella-produksie met onder meer Krog-gedigte, vars verwerkings en eie skryfsels. CH2 and the Fire Gypsies is vuurdansers wat saam met CH2 op die verhoog optree. Die sopraan Magdalene Minnaar debuteer met die produksie Portret wat klassieke musiekliefhebbers baie sal geniet.

Ek sien uit na ’n Non, ’n prins, en ’n spook stap in ’n kroeg! met musiek uit Broadway-gunstelinge wat Conroy Cupido en Magdalene Minnaar saam met sangstudente opvoer. Dit is ’n groot projek met baie kunstenaars op die verhoog. Al die classics word hierin opgevoer. Conroy Cupido het die afgelope twee jaar vir ons werk gebring waarvoor hy elke keer ’n Fiësta-nominasie gekry het, so die kwaliteit van sy werk spreek vanself.

Laai Aardklop 2019 se volledige program hier af en bespreek jou kaartjies nou!  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top