Aardklop 2019: Die drie groot K’s

  • 0
Die drie moet-sien K’s vanjaar by Aardklop: 
Katvoet, Kamphoer, Koningin Lear

 

Katvoet

Die eerste uitdaging met ’n stuk soos Katvoet is dat die gegewe en die bronteks geweldig bekend is aan gehore en daarom baie spesifieke verwagtinge koester rondom die teks en die skrywer (Tennessee Williams). Dit bring mee dat enige verwerking of aanpassing met valkoë dopgehou word.

Cat on a hot tin roof is ook binne ’n baie bepaalde milieu geskep en speel af in die suide van Amerika tydens ’n baie bepaalde tydperk. Dit bring sekere sosio-politiese gegewens mee en dit is belangrik om te worstel met die vraagstuk of dit relevant is en of ’n aanpassing of verwerking van die toneelstuk hoegenaamd sinvol is?  

Die regisseur (Nico Scheepers) het sterk aanklank gevind by die teaterteks. Hy het gevoel dat die verplasing vanaf ’n katoenplaas in Amerika tydens die 1950’s na ’n Suid-Afrikaanse wildsplaas in Limpopo in ’n hedendaagse konteks, wel sin maak.

............

“Die karakters is kompleks, maar ook stereotipies en gegewe die konserwatiewe samelewing waarin Afrikaners soms, veral op die platteland, nog ’n bestaan voer, dink ek almal van ons ken hierdie karakters deur en deur. Ons voel by tye simpatie met hulle, maar ook walging.”

............

Die teks werk met sulke sterk universele temas soos die dood, maar dat die Afrikanergesin se wroeging rondom identiteit en soeke na self, asook die leuens wat mense mekaar vertel en die sosiale druk wat mense ervaar om ’n bepaalde beeld voor te hou, baie sterk in die oorspronklike teks weerklank vind.

Dit was Nico se passie vir die teks en sy behoefte om gestalte te gee daaraan op die verhoog, wat die keuse bepaal het. Die oorwegende terugvoer van gehore is dat hulle die karakters herken – almal het iemand in hulle familie wat hulle in die karakters kan raaksien.

Die idee van toksiese manlikheid en wat die konsep van “manlikheid” definieer, is universeel, maar vind diep aanklank by ’n Afrikaner-boerefamilie. Dit is een van die temas wat Nico ontgin in sy verhoogverwerking. Dit voel byna of die stuk vir ’n Afrikanergesin geskryf is.

Feesgangers sal kan identifiseer met die toneelstuk. Die rol van die vrou as matriarg wat magteloos is, asook die rol van die vrou wat as seksuele objek beskou word, of as ma of as dogter of as skoondogter haar plek moet ken, word sterk ondersoek.

............

“Al die karakters ervaar pyn op ’n sekere vlak, en ons lag dikwels vir hulle deur die stuk (dalk omdat ons onsself herken) weens die komedie van die stuk wat so fyn deurweef word, maar op die ou end hou dit ’n spieël op vir die gehoor wat vra hoekom ons so lag vir die mense se pyn.”

............

Die karakters is kompleks, maar ook stereotipies en gegewe die konserwatiewe samelewing waarin Afrikaners soms, veral op die platteland, nog ’n bestaan voer, dink ek almal van ons ken hierdie karakters deur en deur. Ons voel by tye simpatie met hulle, maar ook walging.

Dit is ’n teks wat die rol van die vrou ondersoek as sy nie kan kinders kry nie – en die vraag word gevra, wat is haar nut dan? Die leuens wat vertel word en die agteraf gekonkelry oor geld en erfgrond en bestaansreg, sal mense beslis aanraak.

Die produksie ondersoek vrae soos, wat maak ’n betekenisvolle bestaan? As jy doen wat van jou verwag word deur die samelewing terwyl jy jou werklike behoeftes onderdruk, of wanneer jy vry is, maar verstote?

Al die karakters ervaar pyn op ’n sekere vlak, en ons lag dikwels vir hulle deur die stuk (dalk omdat ons onsself herken) weens die komedie van die stuk wat so fyn deurweef word, maar op die ou end hou dit ’n spieël op vir die gehoor wat vra hoekom ons so lag vir die mense se pyn. Die jong kinders verteenwoordig natuurlik die volgende geslag wat die sondes van hulle voorvaders gaan erf.

Dit het ook die beste rolverdeling waarvoor enige produksie kan vra. Dit is werklik na aan onmoontlik om weer so ’n span bymekaar te kry met Nico as regisseur, Marius Weyers, Laudo Liebenberg, Tinarie Van Wyk Loots, Albert Pretorius, Marion Holm, Geon Nel, Martelize Kolver en ’n uitstekende tegniese span agter die skerms. Dit alleen is genoeg rede om die produksie te gaan kyk! Die geselskap lewer almal ’n kragtoer.

Die storielyn handel oor die hoofkarakter, Boela (Laudo Liebenberg), wat probeer om sy drankprobleem te oorkom en hy gee voor dat sy gefaalde loopbaan as sportman hom daarheen gedryf het. Daar is wel ’n dieperliggende kwessie wat aan hom vreet en deur die loop van die stuk word die gehoor glimpse gegun van die kwessies. Sy verhouding met sy kwesbare, wilde vrou Maggie (Tinarie Van Wyk Loots) en hulle huweliksprobleme dryf natuurlik die kwessies tot op die spits.

Dan is daar Pappie (Marius Weyers) en Mammie (Marion Holm) wat jou oorbluf laat met die skyn wat hulle voorhou terwyl dinge al ’n geruime tyd vrot is. Daar is in elke karakter ’n geldgierigheid en gebrokenheid, manipulasie en weerloosheid te bespeur, om nie eens te praat van die ander karakters wat op die oog af na effense karikature kan lyk nie.

Dis juis hierin wat ons as gehoor besef, hulle eintlike tragedie lê. Hulle is karikature – maar omdat hulle omstandighede hulle so geslyp het. Dit is inderdaad ’n stuk met vele vlakke en baie emosies wat ontgin word.

Hierdie is beslis vir enige persoon wat van goeie teater hou. Nico se regie en ontwerp van die stuk is fynbesnaard en ragfyn gespin. Daar is iets robuust aan die stel en die kostuums, maar as jy lank genoeg in die geselskap van die karakters sit, besef jy hoe ná aan uitrafel hulle almal is. Dit is iets waarmee almal kan identifiseer.

Wees gewaarsku dat die taalgebruik sensitiewe kykers sal ontstel – dit is nie gesinsvermaak nie.

Dit is egter ’n beeldskone portret van ’n klomp mense wat soos ’n kat op ’n warm sinkplaat rondspring sonder enige plek om te land en in die proses maak hulle mekaar, maar meestal hulself, seer.

Die algemene gevoel is dat alle mense – maak nie saak hoe blink die buitekant is nie – stry teen hul eie demone.  Ons samelewing dwing mense in rolle en boksies en dit lei dikwels tot geweldig tragiese gevolge en vermorste lewens.

............

Kamphoer

In Kamphoer vertel Sandra Prinsloo die verhaal van Susan Nell. Nell wat tydens die Anglo-Boereoorlog verkrag en vir die dood agtergelaat is, se pad kruis jare later weer met dié van haar verkragter…

Kamphoer is ’n splinternuwe verhoogproduksie, wat vanjaar by die Vrystaatse Kunstefees in Bloemfontein sy debuut gemaak het. In Augustus was dit by die Kunstekaap se Vrouefees te sien. Dit het die toekenning verwerf vir beste nasionale debuutproduksie.

Die toneelstuk is redelik getrou aan Kamphoer, die topverkoper-roman deur Francois Smit en die nie-fiksie publikasie, The Boer Whore deur Nico Moolman.

In ’n boek het jy baie bladsye om ’n storie te vertel teenoor ’n verhoogproduksie waar daar moontlik net negentig minute vir ’n eenpersoonstuk is. Jy moet daarin slaag om die gehoor se aandag te behou, daarom word dinge vir ’n verhoogstuk meer kompak saamgevat. Die fokus is op drama, aksie en ’n sterk storielyn. Om hierdie rede is daar dus karakters in die boek wat uitgeskryf is vir die verhoogstuk. Die einde is ook meer samevattend as dié in die boek.

Sandra Prinsloo is ’n baie geliefde aktrise, maar sy het heelwat persoonlike uitdagings om in die karakter van die emosiebelaaide eenvroustuk te klim. Vir hierdie rol word bloed en derms uitgeryg. Dit is emosioneel en fisies baie uitputtend as gevolg van die inhoud. Die tema is baie swaar, dus moet sy haarself daarvan losmaak wanneer sy van die verhoog afstap en dit daar los.

Rudi Sadler, wat tesame met Johan van der Merwe (van Theatrerocket) die vervaardiger is, is dit eens dat Sandra met soveel oortuiging en energie speel dat dit werklik besonders is om te aanskou.

Rudi sê: “’n Trekpleister vir gehore is die Anglo-Boereoorlog waarteen die stuk afspeel en wat baie mense na aan die hart lê. Dit lei tot heelwat debatte en gesprekke en raak steeds mense en het ’n impak. Dit is ook die geskiedenis van die Afrikaner en waar ons vandaan kom.”

’n Sterk fokuspunt in dié stuk is die fokus van geweld teenoor vroue en kinders, wat baie relevant en tydig is.

............

“Sandra Prinsloo is ’n baie geliefde aktrise, maar sy het heelwat persoonlike uitdagings om in die karakter van die emosiebelaaide eenvroustuk te klim. Vir hierdie rol word bloed en derms uitgeryg. Dit is emosioneel en fisies baie uitputtend as gevolg van die inhoud.”

............

“Dit het ’n baie sterk raakpunt vir toneeelgangers om daarmee te kan identifiseer. Tot vandag nog het niks verander nie; dit het in die Anglo-Boereoorlog gebeur en as ’n mens vandag na die syfers van geweld teen vroue en kinders kyk, het nie veel verander nie. Dit is dus ’n baie hartseer boodskap, maar daar is ook ’n boodskap van hoop dat die vrou ten spyte van haar verskriklike trauma, opgestaan en oorleef het en besluit het om vorentoe te gaan en iets van haar lewe te maak. Ek glo mense sal daarmee kan identifiseer al is die toneelstuk baie rou, juis oor hierdie element van geweld en van wat oorlog aan mense doen.”

Die terugvoer van resensente is baie positief en dis definitief ’n moet-sien vir enige dramaliefhebber.

............                                                                                   

Koningin Lear        

 ’n Oorrompelende Kellermann in die rol van ’n leeftyd en Marthinus Basson se manjifieke meestershand in hierdie majestueuse produksie is eenvoudig onmisbaar. Dit is met agt Kanna-pryse by die KKNK bekroon.

Hugo Theart vertel die produksie is in opdrag van die KKNK ter viering van die KKNK se 25ste bestaansjaar vervaardig in samewerking met NATi en Kunste Onbeperk. Die stuk is ’n opwindende herverbeelding van die bekende Shakespeare-teks wat reeds vierhonderd jaar lank gehore aangryp en ontroer.

Dit het ook verskeie KKNK Kanna-pryse ontvang waaronder beste produksie, regisseur (Marthinus Basson), ontwerp (Marthinus Basson), literêre bydrae (Antjie Krog), vroulike akteur (Antoinette Kellermann), manlike en vroulike byspelers (Edwin van der Walt en Anna-Mart van der Merwe). 

Koningin Lear is ’n stuk uit die verbeelding van die gevierde Vlaamse skrywer Tom Lanoye en uitmuntend vertaal deur Antjie Krog. Sy Ten Oorlog is onlangs aangewys as die stuk wat die meeste invloed gehad het op teater in Europa in die laaste half-eeu. Lanoye se Mamma Medea (ook vertaal deur Antjie Krog) en Bloed en Rose: Die lied van Jeanne en Gille (vertaal deur Marthinus Basson) is reeds hier op verhoë gesien.

Volgens Marthinus Basson, die regisseur, is Koningin Lear ’n hedendaagse verwerking van Shakespeare se grootste tragedie. Lanoye verplaas dit na die besigheidswêreld met Elizabeth Lear as ’n captain of industry wat daardie stadium van die lewe bereik waar aflegging ’n realiteit word. Die storm is nie net ’n verwoestende orkaan nie, maar ook ’n aandelemark wat in duie stort. 

Temas soos verval, verlies, verhoudings tussen ouers en kinders, skoonma’s en skoondogters, liefde buite die raam van die huwelik, selfsug, hebsug en die mag van geld maak die karakters en die gegewe toeganklik vir ’n breë gehoor.

Voeg daarby ’n goeie dosis bitter komedie en dit word ’n opwindende dis.

Daar is ’n gedugte span spelers vir dié grootse werk byeengebring. Antoinette Kellermann speel ’n vrou wat teen alle verwagtinge in haar pa en man se boubedryf na wêreldwye sakesukses lei.

Haar oudste seun Johannes (Neels van Jaarsveld) leef op die room van die besigheid en geniet, saam met sy vrou Sumien (Anna-Mart van der Merwe), die vryheid wat geld bied om te reis, te resies en rojaal te lewe.

Haar tweede seun Johannes (Wilhelm van der Walt) is ’n gedienstige harde werker wat hoop om die bedryf oor te neem. Sy vrou Alma (Rolanda Marais) is delikaat en kinderloos.

Haar jongste en die appel van haar oog, Corné (Edwin van der Walt) wil sy eie besigheid begin met die hulp van haar regterhand en regsadviseur, Kent (André Roothman). Lear se geheue begin verval en sy besluit om haar ryk aan die kinders te oorhandig.

Vinnig vind sy uit hoe hardvogtig haar telge kan wees en sy bevind haar op straat met net haar verpleër, ’n onwettige immigrant genaamd Aziz (Matthew Stuurman). Daar moet Lear leer oor wat die wêreld regtig is, wanneer al die strukture waaraan sy gewoond is, verval.

............

“Temas soos verval, verlies, verhoudings tussen ouers en kinders, skoonma’s en skoondogters, liefde buite die raam van die huwelik, selfsug, hebsug en die mag van geld maak die karakters en die gegewe toeganklik vir ’n breë gehoor.”

............

Marthinus sê: “Uit ons vorige ervaring bereik die stuk ’n breë gehoor. Dit is intens, snaaks, bied insig, trane en plesier plus goeie spel van ’n uitstekende groep spelers. Boonop speel hierdie span spelers ’n hond uit ’n bos uit! Maar dit kom uit wedersydse respek, jare se ervaring en veral omdat hulle dit geniet om te werk met ’n uitsonderlik opwindende en uitdagende teks.”

Die algemene gevoel wat hul hoop om by toneelgangers tuis te bring, is om mekaar met seemsleerhandskoene te behandel.

“Verstaan die verskil tussen wat gesê word en wat is. Weet dat wat jy saai jy in tonne sal maai – goed sowel as kwaad.”

............

Samevatting                                                                                                                

Uit hierdie drie toneelstukke uit die boonste rakke en soveel ander topproduksies, is daar gewis iets wat ’n ieder en ’n elk se smaak sal geval.

Behalwe dat gesoute spelers die toon aangee in al drie produksies en wys waarom hulle deel uitmaak van Suid-Afrika se beste akteurs en aktrises, word die produksies aangevoer deur van ons beste skrywers en regisseurs.

Die produksies is gelaai met tonne emosie, soms seer, soms bitter komedie, maar deurspek met waarheid waarmee elke mens kan identifiseer.

............

Lees ook 

Aardklop 2019: Die dinge van ’n kind deur Marita van der Vyver op die planke

"Kom fees vry": Alexa Strachan oor Aardklop 2019

Queenie-hulle by Aardklop 2019

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top