Queenie-hulle by Aardklop 2019

  • 1

 

Queenie-hulle

Die groep bergies vir wie die trappe van die Goeie Hoop-sentrum in Kaapstad al jare lank hulle enigste huis is, het nie ’n normale dag by die werk nie: Jerry het net R10 gekry vir twéé úre se karre oppas, iemand het die gemeenskaplike dop uitgesuip, en Queenie daag op met ’n brief van die Stadsraad af om hulle uit hulle blyplek te sit! Hoe nou gemaak? Hulle sal begin met ’n brief aan die goewerment, of nee, ’n MEMORANDUM. Whitey het darem Engels tot standerd agt gehad, so hy weet, reg? To whom it may concern…

Met: Louw Venter, Jill Levenberg, Brendon Daniels, Lynelle Kenned, Jaques de Silva Teks: Christo Davids en Lloyd Davids Regie: Christo Davids Vervaardiger: Aardklop Ondersteun deur: AK 21

Banketsaal, 24 Sept 16:00, 25 Sept 20:00, 26 Sept 09:30, 27 Sept 17:00, 28 Sept 17:30, R160, 70 min, Tragikomedie, Geen o/16 (T,I), Afr


Erkenning, iets wat almal nodig het, ongeag op watter manier. Queenie-hulle se vertelling handel oor vyf haweloses wat by die Goeie Hoop-sentrum woon. ’n Dag voor die nasionale verkiesing ontvang hulle ’n uitsettingsbevel. Vir die eerste maal in ’n baie lang tyd is dié vier haweloses sonder heenkome. Hul enigste teenfoeter is om ’n brief te adresseer aan die regering waarin hul versoek om hier aan te bly aangesien hulle nie geken is in hierdie drastiese besluit nie. Hulle rig dié brief aan "vir wie dit mag aangaan". Tydens die skryf hiervan word uitgebrei oor die lewens van die vyf bergies en word hul tot op die been oopgevlek. Want soms moet ’n mens bloei as bewys dat ons menslik is.

Geskryf deur Christo Davids, behoort dit net soos met My seuns wat hy verlede jaar geskryf het, ’n gunsteling onder feesgangers te wees. Laas jaar het hy die prys gewen as die publiek se gunsteling. Hy slaag daarin om ’n swaar onderwerp aan te pak, relevant vir die hedendaagse Suid-Afrika. Die realiteit van konflik, haweloosheid en ander swaar temas wat ons daagliks ervaar, is iets wat Christo fassineer. Hy pak daarom met sukses swaar onderwerpe aan, relevant vir ’n hedendaagse Suid-Afrika en kry dit reg dat dit vir gehore werk.

Christo sê hierdie tema lê hom baie na aan die hart, omdat dit iets is wat ons daagliks teëkom en iets wat ons fisies kies om te ignoreer. “Ek het gevoel dit is tyd dat ons hierdie tipe stories begin vertel. Dat die wêreld verantwoordelikheid neem vir al sy mense en nie net spesifieke mense nie.” Baie van die karakters in die toneelstuk is nie noodwendig gebaseer op mense wat hy persoonlik ken nie, maar op mense met wie hy onderhoude gedoen het terwyl hy besig was om hierdie toneelstuk te skryf. “Een van die karakters se beroepe is gebaseer op my pa se beroep, ’n skrynwerker. Daar is baie te sê oor mense wat eens op ’n tyd iets was en as gevolg van omstandighede dit nie meer vandag het nie en hulself daarom bevind waar hul is.”

Die toneelstuk is in die laat 1980’s as ’n kort elf-bladsy-toneelstuk geskryf deur Christo se Oom Lloyd en waarom Christo die Lente Queen gesentreer het wat gebruik is as ’n basis vir die nuwe teks. “Ek het karakters bygevoeg en die storie verander soos wat ek gevoel het in my navorsing.”

Queenie-hulle is ’n tragiese komedie. Die humor is skreeusnaaks en mense sal dit waardeer en geniet. Nietemin ontwikkel die kyker empatie en simpatie met die karakters. Volgens Alexa Strachan, wat saam met Christo aan hierdie produksie werk, is haweloosheid is tans ’n baie relevante tema as gevolg van die wetgewing en daar is ’n outcry in die Kaap omdat haweloses beboet gaan word as hul op straat slaap. “Die ironie is dat die toneelstuk afspeel op die trappe van die Goeie Hoop-sentrum, want het ons nog hoop?” Tog is die aanbieding uitstekend in ’n verteerbare formaat en kan beslis aanbeveel word.

Die gevierde akteurs wat te sien is in die toneelstuk is nie veel bekendstelling nodig nie. Die kombinasie van die akteurs is baie sterk, maar die somtotaal is groter as die onderdele. Die ensemble werk uitstekend en die chemie tussen die span akteurs is ongelooflik.

Behalwe dat Alexa Aardklop se feesbestuurder is, doen sy ook hierdie produksie saam met Christo. “Ons stap al ’n lang pad en werk goed saam omdat ons artistiek saamstem. Ons voel dieselfde oor werk wat aangebied word. Ons hou van stories en verhale wat met menslikheid omgaan sodat gewone mense en gehoorlede kan uitstap ná ’n produksie en ons daarin kon slaag om hul te kon laat lag en huil. As ons ’n spieël voor ons gehoorlede en voor onsself kon ophou om te vra: Is ons regtig so? Is dit wat ons aanmekaar doen? Is dit hoe ander mense van ander groeperinge (ander tale, ander kulture, mense in ander finansiële posisies, ander klasse), is dit hoe ons na mekaar kyk en mekaar sien?"

"Ek en Christo hou van hierdie tipe temas en dit is dan ook hoekom ons dit gereeld saam aanpak."


Karakterontleding:

Die rolverdeling is QUEENIE (Jille Levenberg), ’n bruin vrou in haar laat veertigerjare. Sy het dié naam gekry toe sy aangewys is as Mej Lente-koningin in die 1980’s. Sy is in 1995 afgedank nadat sy aangekla is van diefstal by Clothing Factory, waar sy ’n naaldwerkster was. Sy is die moeder van die groep haweloses.

WHITEY (Louw Venter) – Queenie se man, of so noem hy homself. Hy is ’n wit man in sy sestigs. Hy was ’n werktuigkundige wat ook sy werk verloor het in 1995 – die rede waarom hy glo dat hy en Queenie sielsgenote is. Hy verkwalik die huidige regering weens regstellende aksie.

JOEY (Brendon Daniels) is ’n bruin man in sy veertigs. Hy het by die konstruksiemaatskappy waar hy werksaam was van ’n steier geval. Hyhet beide bene gebreek en moet oor die weg kom met krukke. Na verskeie operasies is hy ongeskik verklaar en afgedank. In plaas van sy geld belê, het hy hom vergryp aan drank wat hom tot ’n lewe as bergie gedwing het. Hy is die enigste een in die groep wat matriek geslaag het en herinner gereeld almal in die groep hieraan. Hy dra ’n pak klere wat hy van ’n dooie man se liggaam geneem het.

JERRY (Jacques da Silva) – ’n Bruin man in sy twintigerjare. Jerry is nie sy regte naam nie en niemand weet wat dit is nie. Joey het hom Jerry gedoop en almal aanvaar dit so. As 13-jarige het hy het van sy huis weggehardloop. Niemand weet hoekom nie. Hy hakkel en dit vererger wanneer hy senuweeagtig is.

ENNIE (Lynelle Kenned) is ’n bruin meisie in haar middel-twintigs. Sy kom van die Karoo en het na Kaapstad verhuis om as huishulp vir die Botha’s te werk. Sy is ’n aspirant-sanger (sonder enige talent). Na meneer Botha se afsterwe het Botha na ’n ouetehuis getrek. Ennie was veronderstel om terug te keer huis toe, maar om die een of ander rede het sy nie. Haar enigste herinnering aan haar huis, is ’n Gideonsbybel. Sy glo God sal haar droom eendag bewaarheid sodat sy ’n sangeres word.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top