Boekresensie: Die dinge van 'n kind deur Marita van der Vyver

  • 0

Die dinge van 'n kind (herdruk)
Marita van der Vyver
Tafelberg
ISBN: 9780624080039

Marita van der Vyver is my gunstelingskrywer in Afrikaans. Ek het haar boeke gelees as tiener op skool. Ek kon as hoërskoolmeisie identifiseer met Die dinge van 'n kind; ek wás 'n kind, dit was maklik. Om dit nou weer te lees, het my teruggeneem op 'n reis van lank gelede. Marita het nie net 'n meestersgraad in joernalistiek nie, sy is 'n meesterskrywer. Sy neem jou op reis ín haar karakters, jy wórd die karakter en die lekkerste is om saam te toer waarheen die karakters ook al gaan.

Vandag, 22 jaar later, is dié boek nie net self mondig nie, ek kon die tweede sagtebanduitgawe wat pas bekendgestel is lees met 'n ander perspektief, terug uit die oogpunt van 'n jong, onseker meisie (soos ek ook in 1994 was) en die klok aandraai na vandag, die jaar 2016, as volwassene.

Oor Marita self kan ek gaande raak, haar karakters slurp jou op, jy ráák die jong Mart Vermaak. Dis maklik om te identifiseer met haar onsekerheid én nuuskierigheid, haar soeke op die drumpel van volwassenheid. Haar persepsie van intimiteit, politici, die denkwyses van haar voorvaders, haar eie ervaring as Suid-Afrikaner in die apartheidsjare en nou die nuwe bedeling met die ou sienings van meeste om haar. Soos Mart verwys na John Lennon se “Imagine”

 “In Angola word daar vandag 'n verkiesing gehou wat alles kan verander. Dalk sal daar 'n einde kom aan die oorlog wat 'n land al dekades lank verskeur. Aan die ander kant, dalk sal niks verander nie. Dalk sal dinge selfs erger word.” Is dít nie maar die stryd van menige land, insluitend Suid-Afrika met sy rasse-oorlog, sélfs vandag twee-en-twintig jaar ná 'n vrye verkiesing nie …

Marita se verwysings na die ontluikende emosies in 'n jong meisie asook die ontluikende gebeure ná 'n historiese verkiesing en wat die toekoms vir sy onsekere mense inhou, voel byna surrealisties. “Neem uit die verlede wat goed is, kinders,” preek hul geskiedenisonderwyser. As jong volwassene wou Mart in haar dagboek skryf, “Hoe bou jy 'n toekoms op dooie datums?” Inderdaad, laat die geskiedenis agter, leer daaruit, maar fokus op die toekoms sónder die foute van gister. Verskeie gebeure in die skrywe sal jonk, ouer en oud herinner aan die dae uit ons eie prille jeug toe ons vir ons ouers 'n wit leuentjie vertel het oor waar ons ons bevind (dalk dié dat ons vandag alte goed verstaan waar die gesegde “ek’t oë agter my kop” vandaan kom, maar kinders is slim en sal 'n manier uitwerk om hul ouers te flous), terwyl ons die wêreld daarbuite met sy sondes verken. Van rook, drink, harde musiek, en dan dít waarom die natuur wentel, voortplanting. 'n Tiener se ontwakende seksualiteit laat met reg menige ouer wakkerlê. Behoede die ouers wat dink hul onskuldige bloedjies sal nié aan dié verkenningsparade deelneem nie …

Dalk is dit 'n goeie boek vir kind en ouer, beide kry 'n blik op die ander se wroegings, bekommernisse en verwagtinge. Die jongelinge se hartverskeurende ervarings en hóé hul dit hanteer, al dan nie, met kwessies soos drome van woon in 'n dakkamer in Parys tot die nare werklikheid van tienerswangerskap, selfmoord, oorlog, ruk weereens aan my hart, en vir die wipplankemosies waar Mart en haar maats mens laat skater, trek jy tog die sneesdoekies nader al wéét jy wat gaan gebeur.

Marita laat nie veel van 'n keuse toe nie, haar pen dwing emosie op jou af. Die wyse woorde van die jong meisie bly my tog by: “Dink jy nie dit vat meer guts om aan te hou léwe nie?” Die gesegde lees immers wees gaaf met álmal, jy weet nie watter swaar hul saamdra nie.

“Toe ek 'n kind was, het ek gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind, geredeneer soos 'n kind, maar noudat ek 'n man is, het ek die dinge van 'n kind afgelê…” Daar is nie 'n beter titel vir die verloop in dié storie nie. Ek is dit eens, smaak mag verskil, maar Marita is 'n briljante storieverteller, sy skets dít wat jy dit hiér in jou binneste ervaar en sién deur die karakter se oë.

Geen wonder dit is ook in Engels en Duits vertaal en opgevoer by die Klein Karoo Kunstefees in 1998 nie. Soos Mart in haar brief skryf: “Dis met liefde dat ek dit sê, maar ook met 'n gevoel van afguns, omdat jou lewe nog soos 'n leë boek voor jou lê terwyl myne al halfpad vol geskryf is. Wat daar staan, sal daar staan.” Mens lees die boek met heimwee oor iemand anders se jeug en die rondomtalie draaie in hul lewens, maar ook omdat dit helder herinner aan joune en meeste van ons met die een of ander hoofelement kan identifiseer. Ons almal se boeke was eens leeg, en wat vandag daar geskryf staan, staan daar tot in ewigheid.

Ek slaan die boek toe met die woorde waarmee Mart haar een brief afsluit: “Al wat ek kan doen, is om vanaand op my eie 'n glas teen 'n spieël te klink. Op jou verjaardag, op my storie, op jou toekoms, op my verlede, op ons albei se storie.” Geluk Marita met nóg 'n welverdiende druk, en cheers op die stories wat nog uit jou pen gaan vloei.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top