
Ingrid Winterbach (foto: Menán van Heerden)
Die wenner van die 2025-UJ-prys is Ingrid Winterbach vir haar roman Onrus op Steynshoop (Human & Rousseau). Hier is haar aanvaardingsrede by ontvangs van die prys.
My dank aan almal wat hierdie prys en hierdie geleentheid vandag moontlik gemaak het. Die Universiteit van Johannesburg wat die prys toeken. Karen de Wet en die beoordelaars wat die uitslag beslis het, Janien Linde vir die commendatio en aan die twee persone verantwoordelik daarvoor om my hier en weer terug te kry: Corné Johl en Tara Kok. Thank you, Rocky Sibanda, for your word of welcome.
In sy gedig “No thank you” sê Tony Hoagland: “We burn through beauty like it was wrapping paper.” En ek dink ons doen dieselfde met tyd. As ek dink hoe argeloos ons daarmee omgaan, terwyl ons menslike bestaan so daarin íngebed is. Daar is soveel tye waarmee ons in ons lewens rekening moet hou: die ure van ons dag, ons opstaan- en gaanslaaptyd, die tyd van ons geboorte en van ons dood, die tyd van die seisoene, die tydsgewrig waarbinne ons leef, die tyd van ons eie en van die wêreldgeskiedenis, die tyd van die heelal en die aarde se ontstaansgeskiedenisse.
(Die grappie lui dat ons geskiedenis het sodat alles nie gelyk gebeur nie. Dit sal my nie verbaas as dit wel die geval is nie. Ons is net nie toegerus om dit so te ervaar nie.)
Tyd en sterflikheid. Tyd en uitwissing. Wat my bring by Cormac McCarthy se laaste twee romans, The passenger en Stella Maris. Die geniale suster, Alicia Western, is in laasgenoemde die hoofkarakter. Aan die begin van The passenger, die eerste van die twee romans, het Alicia reeds selfmoord gepleeg. Stella Maris is in die vorm van Alicia se getranskribeerde dialoë met haar psigiater by die inrigting waar sy haarself aangemeld het, voor sy selfmoord pleeg. Sy sê onder meer vir die psigiater: “The world has created no living thing that it does not intend to destroy.”
Hierdie blik op die lewe is ekstreem – nie een wat die meeste mense graag onderskryf nie. Dit impliseer ’n byna voorbedagte en gewelddadige uitwissingsdrang van die wêreld as ’n soort entiteit. En tog. Sterfte ís gewelddadig, want dit skrei teen alles wat lewe – dit is buite menslike begrip.
As daar ooit ’n kompromislose skrywer was, en is, dan is dit McCarthy. Ons moet nie van sy karakters ’n vreugdevolle blik op die menslike kondisie verwag nie. Hy was lank verbonde aan die Santa Fe-Instituut in Nieu-Meksiko – ’n transdissiplinêre navorsingsdinktenk, toegespits op teoreties-wetenskaplike navorsing. Wiskunde, wetenskap en kompleksiteitsteorie was volgens mense wat McCarthy geken het, “his deepest life passion”. Ek reken hy’t ’n kantoor daar gehad waar hy elke dag, wanneer hy nie op allerlei gesprekke insit nie, sy romans op sy Olivetti Lettera 32-tikmasjien tik. Hy’t nooit ’n rekenaar gebruik nie. ’n Mens kan jou nog voorstel dat die geniale suster in daardie hoogs teoretiese omgewing ontstaan het, maar wat van karakters soos Anton Chigurh in No country for old men, en Billy Parham in The crossing? Hoe het McCarthy sy skrywersoog tegelyk op die ontwikkeling van sulke uiteenlopende karakters en die kompleksiteit van byvoorbeeld kwantumverstrengeling kon hou?
Soos die drie dinge vir die spreker in Spreuke 30 wonderlik is, ja, vier, wat hy nie kan begryp nie, soos die weg van die arend in die lug, die weg van die slang oor ’n rots, die weg van ’n skip op die oop see en die weg van ’n man by ’n jongmeisie, so is die weë van die kreatiewe proses en van die verbeelding, so is dit ook vir my voorwaar wonderlik.
Die verbeelding, wat ongewone verbande lê en wat die verruklikste dinge uit die banaalste stof kan maak.
TS Eliot, daardie ou hoëpriester van die modernisme, sê: “Humankind cannot bear very much reality.” Het hy in eietydse terme – “in the parlance of our time”, om The Dude in die Coen Brothers se wonderlike The Big Lebowski aan te haal – het hy bedoel dat die implikasie van alternatiewe heelalle, of van kwantumverstrengeling, of van die ware aard van die werklikheid, vir ons onbegrypbaar, sowel as onverduurbaar sou wees? Of het hy sommer die alledaagse realiteit van ons daaglikse bestaan in gedagte gehad – die daaglikse sleur, die instandhouding van die liggaam, die wete van ons eie sterflikheid, die ontglippende aard van tyd en ons onvermoë om ’n greep op die aard van ons eie bewussyn te kry?
Hoe dan ook. Ek was nog nooit ’n groot McCarthy fan nie, hoewel die laaste twee romans my voete onder my uitgeslaan het. Ek is meer aangetrokke tot die warm, menslike humor van ’n skrywer soos Saul Bellow. James Wood, die New Yorkse literêre kritikus, sê iewers dat ’n mens tog ’n bietjie skepties staan teenoor ’n geheel humorlose skrywer.
Ek het begin met die opmerking dat ons met tyd omgaan soos wat kinders met water mors. Dit is hoe ons leef, dit is waarskynlik hoe ons bewussyn evolusionêr geprogrammeer is. Om te oorleef dra ons oogklappe teen die realiteit, hetsy McCarthy of TS Eliot of Einstein of Schrödinger s’n. Selfs Boeddhiste, wat in afsondering ure lank sit en mediteer, kan die idee van hulle eie verganklikheid en dood nie elke oomblik in gedagte hou nie. Hulle moet per slot van sake op hulle asemhaling fokus en op die hier en nou van die lastige muskiet, of die voël wat roep in die boom, of op ’n vol blaas of ’n seer voet.
Ek is nie ’n filosoof nie; ek is ’n skrywer. Romans is een van my diepste plesiere en die skryf van romans my grootste commitment. Dit is die aktiwiteit wat my soggens laat opstaan en wat my deur my moeilikste tye dra. Sophia Loren het gesê alles wat sy is, is te danke aan spaghetti. Alles wat ek is, is te danke aan Johannes Gutenberg.

Mercy Kannemeyer en Ingrid Winterbach (foto: verskaf)
Ek is nog nie sover dat ek dankbaar vir die gawe van lewe is nie – daarvoor dink ek die moeite, die frustrasie, die teleurstellings, die verlies wat elke mens ly in sy/haar lewe, psigiese sowel as liggaamlike lyding, weeg swaarder as die efemere oomblikke van plesier, geluk, voldoening. Die lewe is dukkah, sê die Boeddhiste, life is suffering. Daarvan is ek opnuut bewus in die tyd waarin ek my op die oomblik bevind – miskien die moeilikste, die mees komplekse wat ek al ooit beleef het.
Daar is verskeie voorskrifte vir ’n goeie en gelukkige lewe. Dis interessant dat dankbaarheid feitlik altyd op so ’n lys verskyn. (Naas oefening en genoegsame sosiale kontak.)
So maak ek dan ’n lys van alles waarvoor ek dankbaar kan wees:
Die berge waarna ek my oë kan opslaan, want hulle is lieflik.
My kosbare kinders en kleinkinders, my liewe familie en my getroue, ondersteunende vriende.
Ek is dankbaar dat ek in die tyd van antibiotika leef.
Ek is dankbaar dat ek op ’n plek in hierdie onverskillige heelal leef waar daar oor ’n tydperk van miljoene jare iets soos ’n oor ontwikkel het om klank mee op te vang.
Die geluid van paddas en krieke, Bach, Meatloaf, die goddelike Pergolesi. En alles waartoe die menslike stem in staat is.
Ewe wonderbaarlik, en waarvoor ek ewe, indien nie dankbaarder is nie, is die oog – wat 40 keer geëvolueer het, van ’n primitiewe ligsensitiewe sel, iets halfblinds en tastends in water, stel ek my voor, tot die mirakel van kompleksiteit wat die menslike oog is.
Ek is dankbaar dat daar iets soos ’n skryfsisteem ontwikkel het, wat beteken dat daar vandag boeke is. As daar nie boeke was nie, was daar seker iets anders, maar dan was álles in elk geval anders.
En dankbaar is ek vir die Bevrydende Lag van die Zen. (Breyten se woorde.) Want ek vra my af, waar anders in hierdie goddelose, en ek het ’n spesmaas, humorlose heelal, word daar gelag?
En uiteraard is ek dankbaar dat ’n mens, ’n skrywer soos ek – lankal nie meer jonk nie – as jy jou behoorlik gedra, steeds ’n prys kan wen. ’n Hupstoot vir die selfvertroue en ’n aanwins vir die beursie.
Ek is bly om vanaand hier saam met Naòmi Morgan en Gaireyah Fredericks te wees. Dit was ’n wyse besluit van UJ om ’n vertalersprys in te stel. Ek weet hoe moeilik vertaling is, hoe ’n groot en dikwels onderskatte kuns dit is en hoe afhanklik ’n skrywer van so ’n vertaler is. Daarom is dit net gepas dat ’n uitsonderlike vertaler, soos Naòmi, beprys en bekoester word. Baie geluk, Naòmi.
Ek is bly om vanaand hier saam met Gaireyah Fredericks te kan wees. Baie geluk, Gaireyah, met jou baie besondere en baie aangrypende boek. Die klanke van hierdie oudste Afrikaanse taalvariëteit val lieflik op die oor, maar dit is ook bedroewend, omdat dit so lank in die stryd om ’n Afrikaanse taalhegemonie uitgerangeer is.
Ek dank u.
Lees ook:
2025-UJ-prys vir vertaling aan Naòmi Morgan vir Ons wag vir Godot: aanvaardingsrede
Die poppe sal dans: ’n resensie van Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach

