2025-UJ-prys vir vertaling aan Naòmi Morgan vir Ons wag vir Godot: aanvaardingsrede

  • 0

Die wenner van die 2025-UJ-vertaalprys is Naòmi Morgan vir haar roman Ons wag op Godot (Naledi). Hier is haar aanvaardingsrede by ontvangs van die prys.

Lede van die UJ-prys-keurkomitee, dames en here

Niks berei ’n mens voor vir ’n prys soos hierdie een nie.

Die UJ-prys vir vertaling is die grootste in Suid-Afrika en daar is so ’n ryk verskeidenheid van genres en style onder die voorleggings dat die keurkomitee elke jaar ’n uiters moeilike taak het. Aan my onbekende mede-vertalers wat ook vanjaar op die lang- en kortlys was: Hierdie prys eer in die eerste plek ons vakmanskap, ons professie. Ek dra dit op aan julle en aan die vertalers wat in die komende jare hier sal staan.

Op my lys van persone wat bedank moet word, verskyn die keurkomitee heel bo-aan. In die eerste plek is ek dankbaar dat soveel sensitiewe lesers die teks onder oë gehad en dit onder mekaar bespreek het. Dikwels word ’n vertaalde drama net beskou as ’n speelteks wat in die eerste plek gestalte moet kry op ’n verhoog. Maar dit is ook ’n leesteks: Ek koester heimlik die hoop dat mense in verafgeleë plekke wat nie naby ’n teater woon nie, dit sal lees en in hul verbeelding die karakters hoor en sien. Dit is wat ek dekades lank in Bloemfontein gedoen het wanneer ek kennis geneem het van ’n nuwe teateraanbieding in Parys (Frankryk) wat ek nie sou kon bywoon nie, en waarskynlik nooit sou sien nie.

’n Mens sou ook kon sê dat dit een van die redes is waarom ek vertaal. Gedurende my 35 jaar as die enigste Frans-letterkundedosent aan die Universiteit van die Vrystaat, in ’n stad waar daar aan die begin van my loopbaan aanvanklik net een moedertaalspreker van die taal was, ’n afgetrede tennisspeelster, was vertaling ’n manier om die tekste waarmee ek my besig gehou het, wat ek graag met vriende en familie wou deel, te tolk op papier. Dosente van vreemde lewende tale ver van metropole af word geleidelik, onwillekeurig, ’n lid van ’n Dead Poets Society. Of jy, in vertaalkundige terme, verplaaslik of vervreem, elke vertaalde woord neem jou weg van die klank en kulturele assosiasies van die bronteks wat jou in die eerste plek geroer en aangegryp het, maar dit is die prys van kommunikasie met die omgewing waarin jy jou bevind. Jy vertaal om uit te reik na ander, sodat jy kan gesels oor die tekste wat jy lees en wat vir jou betekenis het.

In die besonder bedank ek vir Johanna Steyn, wat die commendatio gelewer het. Dit is vir my ’n eer dat haar generasie nou die aflosstokkie neem. Ek was jare gelede ’n eksterne eksaminator van haar uitstekende PhD oor abbavertalings; nou is dit haar beurt om te beoordeel. Dankie vir die tyd wat jy spandeer het aan die lees van die teks en die skryf van die commendatio. Waar ek nou staan in my lewe en post-loopbaan, sou ek kon sê, soos Paul Bowles in The sheltering sky:

[…] we get to think of life as an inexhaustible well. Yet everything happens a certain number of times, and a very small number, really. How many more times will you remember a certain afternoon of your childhood, some afternoon that’s so deeply a part of your being that you can’t even conceive of your life without it? Perhaps four or five times more. Perhaps not even. How many more times will you watch the full moon rise? Perhaps twenty. And yet it all seems limitless.

Dit is nie grensloos, onbeperk nie; daar is net soveel tyd. Dankie dat jy joune gewy het aan Ons wag vir Godot.

Die fisiese boek sou nie bestaan het en dus nie in aanmerking kon kom vir enige prys sonder die entoesiasme van my uitgewer Johan Coetzee van Naledi en die Hiemstra Trust wat fondse beskikbaar gestel het vir die vertaalregte en die publikasie nie. Vertaling in Afrikaans oorleef danksy ’n paar uitgewers en borge.

Ons wag vir Godot is in die eerste plek vertaal om opgevoer te word. Dankie aan Walter Strydom en Dion van Niekerk wat my ingesluit het by die projek, en aan ’n span akteurs wat geskiedenis gemaak het deur hierdie onvergeetlike stuk op te voer en dit so briljant te doen dat die produksie vyf Vryskitterpryse en drie Fiëstas gewen het. Ek noem graag jul name, wat geskryf staan op die tafels van my hart:

Gerben Kamper as Lucky
Chris Vorster as Vladimir
Charl Henning as Estragon
Peter Taljaard as Pozzo
Sibabalwe Jokani as Die Seun

Om die UJ-prys te ontvang vir die vertaling van Ons wag vir Godot is ’n proses wat in 1979 begin het. In daardie jaar, my finale jaar as BA Tale-student aan wat toe nog die Universiteit van die Oranje-Vrystaat was, het ek dieselfde drama in twee verskillende departemente, Frans en Engels, bestudeer, en sodoende kennis gemaak met Samuel Beckett en die konsep van selfvertaling. Dit was ’n era toe ons die kanon gevolg en die literatuurgeskiedenis kronologies bestudeer het. Daarsonder sou ek miskien nie geweet het wie Beckett en Godot was nie. Vir ’n student in Bloemfontein aan die einde van die 1970’s het Godot in Frans en in Engels reëls bevat wat gememoriseer is, wat jou hoop en vrese vir die toekoms vasgevang het op ’n wyse wat min ander dramas dit kon nadoen.

’n Halfeeu later, toe ek dit in Afrikaans moes vertaal, was hierdie epigrawe van my ongeskrewe outobiografie van die moeilikste sinne om te vertaal. Jy torring nie sommer aan ’n leuse nie, soos die volgende reëls uit die Engelse weergawe:

Let us not then speak ill of our generation, it is not any unhappier than its predecessors. (Pause). Let us not speak well of it either. (Pause). Let us not speak of it at all. (Grove Press, 1954, bl 22)

Die leuses en gevleuelde woorde was nie die enigste uitdaging nie. Die vertaler wat 50 jaar later die drama gelees en vertaal het, het in die twee brontekste nuwe reëls ontdek wat beter gepas het by haar ouer self, wat nou ander verwagtings gehad het. In die tweede bedryf doen Vladimir en Estragon ’n oefening wat hulle Die Boom noem. Estragon kry dit byna reg om op een been te balanseer en vra, al strompelend:

Do you think God sees me? (bl 50)

Soos wat ék deur die vertaling van die monoloog gestrompel het, het ek in my kop gewonder of die twee mense aan wie die vertaling opgedra is, Roy Muller (Department of English) en Madame Claire Massardo (Département de français), kon sien wat ek probeer regkry en of hulle (in daardie ruimte waar ’n mens nie meer deur ’n spieël in ’n raaisel sien nie, waar jy ten volle ken sonder die hulp van ’n vertaler) gedink het hulle het my reg geleer; hulle en die twee taaldosente wat my as vertaler opgelei het, Hannes Joubert en Eugene Visagie.

Ek vertaal ook omdat ek dit nie reggekry het om al die tale aan te leer wat ek gedink het moontlik is nie (Spaans, Russies, Yslandies ...). Dieselfde dekade waarin ek Godot ontdek het, was ook die glorietyd van literatuurwetenskap, waarin die perfeksionistiese en inspirerende digter Leon Strydom ons laat glo het dat daar genoeg tyd in ons jong lewens oor was om die groot titels van wêreldletterkunde met mekaar te vergelyk, in die oorspronklike tale. Dit het in my geval ’n ander opsie geword, naamlik vertaling.

Natuurlik moet ons kreatiewe skrywe aanmoedig en ondersteun in Afrikaans, maar goeie skrywers is altyd ook goeie lesers, veral van wêreldletterkunde, en meesal in vertaling. Die vertaalkanon is in daardie opsig net so belangrik soos die skeppende kanon in Afrikaans. Ons hoef nie meer, soos in die 1960’s, te bewys dat hierdie klein wonderwerk van ’n taal, amptelik ’n honderd jaar oud, die woordeskat en die uitdrukkingsvermoë het om groot skrywers daarin te vertaal nie. Ons kan nou net vertaal om lesers bloot te stel aan die beste in wêreldletterkunde, en om hopelik nog vir ’n paar jaar literêre tekste te laat vertaal deur mense en nie deur robotte nie. Die vertalings sal dus meer kreatief moet word, hoewel steeds lojaal aan die bronteks.   

.......
As vertaler soek jy in die eerste plek die onmoontlike goedkeuring van die outeur, wat in die meeste gevalle nie hierdie jong taal, Afrikaans, sou verstaan nie, of nie meer met ons is nie. Kreatiewe skrywers word ná die skryfproses bekroon, maar vertalers meet hulself reeds met die vertaling van die eerste woorde, die titel op die voorblad, aan Nobel- en ander pryswenners.
.........

Ek het nie gewag vir hierdie of enige ander prys nie. As vertaler soek jy in die eerste plek die onmoontlike goedkeuring van die outeur, wat in die meeste gevalle nie hierdie jong taal, Afrikaans, sou verstaan nie, of nie meer met ons is nie. Kreatiewe skrywers word ná die skryfproses bekroon, maar vertalers meet hulself reeds met die vertaling van die eerste woorde, die titel op die voorblad, aan Nobel- en ander pryswenners. Dit is daardie skrywersnaam wat jy nie wil teleurstel nie.

Niks berei ’n mens voor vir ’n prys soos hierdie een nie.

Want dit voel asof ’n sirkel, waarin jy nie eers geweet het jy jou bevind nie, voltooi is. Jy neem Frans op skool net voordat dit uitfaseer word. Jy neem Frans en Engels op universiteit en bestudeer Samuel Beckett in albei tale. As literêre vertaler spesialiseer jy in drama, want dis dialoog, want deur uit Frans in Afrikaans te vertaal, kan jy jou verbeel dat jy nie so ver en so afgesluit is van die taal en die kultuur wat jy beter ken as jou eie nie; jy voer gesprekke in jou kop. En eendag word jy gevra om En attendant Godot / Waiting for Godot in Afrikaans te vertaal. En dit wen die UJ-prys.

En toe kom Godot, onverwags.

Merci.

Baie dankie.

Lees ook:

2025-UJ-prys vir vertaling aan Naòmi Morgan vir Ons wag vir Godot: commendatio

 

Ons wag vir Godot: ’n onderhoud met die vertaler Naòmi Morgan

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top