
Die wenner van die 2025-UJ-vertaalprys is Naòmi Morgan vir Ons wag vir Godot (Naledi). Hier is Johanna Steyn se commendatio by oorhandiging van die prys.
Dames en here, skrywers, vertalers en organiseerders, wat ’n voorreg is dit nie om vandag iets te kan sê oor die beste vertaling van ’n literêre werk nie. Want ek ken vir Naòmi Morgan nou al vir baie jare, eers as student, toe kollega en nou as beoordelaar. Ek is geëerd.
Enige een wat al die hand gewaag het aan vertaling weet dat die vertaling van literêre tekste baie verg van ’n vertaler, en dit is wat ons vandag hier vereer: die moed, die eindelose weetgierigheid, die verbeelding en bowenal die liefde vir en kennis van taal, letterkunde, kultuur en vir die mens se eindelose soeke na begrip.
In ’n literêre vertaling moet ’n vertaler baie keuses maak (en ons weet dat Jean-Paul Sartre heelwat te sê gehad het oor die “anguish of choice”), want in ’n literêre teks, anders as in pragmatiese, of nie-literêre tekste, is dit nie net die storie wat belangrik is nie, dis ook die manier waarop dit vertel word. Elke skrywer het tog ’n eie styl en wanneer jy ’n vertaling gelees het, wil jy kan sê: “Ek het Tolstoy gelees”, en nie: “Jitte, ek hóóp ek het Tolstoy gelees” nie.
Dan is daar ook nog die manier waarop die vertaler die een kultuur na die ander gaan oordra: Behou jy oorspronklike kulturele verwysings, of vervang jy hulle met verwysings uit die doelkultuur? En indien wel, watter en hoe? Iets wat alledaags is in een kultuur, laat wenkbroue rys in ’n ander (byvoorbeeld oor die boemelaar in Harold Pinter se The caretaker het ’n Franse kritikus gesê dat hy eerder rooiwyn moes drink as tee, want in Frankryk word tee hoofsaaklik deur “deftige ou dames” gedrink).
Wat maak jy as vertaler met idiomatiese uitdrukkings, met humor wat geanker is binne ’n taal en ’n kultuur en wat baie moeilik is om te vertaal? Wat maak jy met vloekwoorde en kru taal? Want vloekwoorde dra nie dieselfde gewig in verskillende tale en kulture nie en die vertaler moet dus kennis dra van albei kulture om die regte woorde te kies om sodoende nie te veel (of te min) aanstoot te gee nie. Soos Estragon tereg sê: “Dis ’n saak van onmoontlikheid.”
Die vertaling van toneelstukke bied nog verdere uitdagings, aangesien die stuk nie net as letterkundige teks wat gelees en bestudeer word, moet bestaan nie, dit moet ook opvoerbaar wees. In Beckett se toneel is ritme en pouses ’n integrale deel van die stuk. En die sintaktiese en fonologiese verskille tussen ’n Romaanse taal soos Frans en ’n Germaanse taal soos Afrikaans maak die behoud van dieselfde ritme bykans onmoontlik (vergelyk die Franse “je parlais” met “ek was besig om te praat”).

Johanna Steyn (foto: verskaf)
Dan is daar ook nog karakterisering (die soort woorde, ritme, register maak alles deel uit van ’n karakter se persoonlikheid), en uit die aard van die saak moet die vertaler ook dink aan die akteurs wat die teks natuurlik en met gemak moet kan opvoer.
So, die feit dat ’n toneelstuk dalk korter is as ’n roman maak die vertaling daarvan hoegenaamd nie makliker nie.
En dit bring my by die langverwagte Afrikaanse vertaling van die Ierse skrywer, Samuel Beckett, se ikoniese tragi-komedie, En attendant Godot, wat reeds in 1952 geskryf is, en nou vir die eerste keer in ’n gepubliseerde Afrikaanse vertaling bestaan, naamlik Ons wag vir Godot. Om Beckett te vertaal is soos om die oggendmis met ’n vlindernet te probeer vang. Die woorde is ontwykend, die stiltes is gelaai en die absurditeit is eindeloos. Inderdaad ’n saak van onmoontlikheid.
Naòmi Morgan het die teks gedomestikeer. Dit wil sê, sy het die teks verplaas na Suid-Afrika en aangepas vir ’n Afrikaanse publiek. Voordat daar gevra word: “Maar is dit dan Godot?” – Samuel Beckett het sy eie Engelse vertaling aangepas vir ’n Engelssprekende gehoor, so daar is niks om oor bekommerd te wees nie. Naòmi het hoofsaaklik die oorspronklike Franse teks gebruik as bronteks vir die Afrikaanse vertaling, maar ook die Engelse teks bekyk, want daar is nogal verskille tussen die twee.
Daar is redelik voor die hand liggende aanpassings gemaak, byvoorbeeld die Eiffeltoring, waar daar elke jaar ’n hele aantal mense afspring, is vervang met die berugte Van Stadensbrug. Ons lees van Ventersburg, Fouriesburg, Trompsburg, Petrusburg en Bethulie. Emily Hobhouse kom maak ook ’n draai, saam met volkspele, die riel, die pantsula en die horrelpyp. En hoeveel van julle het geweet van Ebenhart Botha van Calitzdorp se handgemaakte versamelaarspype voordat julle hierdie teks gelees het?
Daar is tipiese en eie Afrikaanse uitdrukkings: “Daar’s as op jou toon”; “Dis so maklik soos botter en brood”; en “Ons praat die donkie se agterbeen af”. Daar is heerlike humor en ’n mens kan jou alte lekker verkneukel in die “knoek” en die “tjorts”, die “Prostaatpolka” en die “Gatkantland”. En dan is daar Lucky se legendariese doolhof van ’n monoloog, maar julle moet dit self gaan lees.
Maar dan gaan dit ook verder. Naòmi het die teks besprinkel met intertekstuele verwysings na bekende en minder bekende Afrikaanse skrywers en tekste, soos onder andere Eugène Marais se “Mabalêl”, AG Visser se “Vet”, Leipoldt se “Moormansgat”. Die Afrikaanse publiek ontdek dus nie net ’n ikoniese Franse teks nie, die Afrikaanse publiek ontdek heel moontlik ook dinge oor ons eie kultuur en letterkunde.
Maar ek gaan nou volstaan met voorbeelde. Daar is baie; julle moet self die teks gaan lees.
.......
Ek wil terugkom na wat ek aan die begin gesê het: Kan ’n leser wat dan nou hierdie ryk Afrikaanse teks gelees het, of die kyker wat die toneelstuk op die verhoog gesien het, vra: “Het ek Beckett gelees? Het ek Beckett gesien?” Die antwoord is onomwonde ja.
........
Ek wil terugkom na wat ek aan die begin gesê het: Kan ’n leser wat dan nou hierdie ryk Afrikaanse teks gelees het, of die kyker wat die toneelstuk op die verhoog gesien het, vra: “Het ek Beckett gelees? Het ek Beckett gesien?” Die antwoord is onomwonde ja. Want die oorspronklike toneelstuk is daar, in al sy absurditeit, met sy herhalende struktuur, met sy ritme, die futiele dialoë, die tragiek en die komiese. Naòmi het dit reggekry om die dialoë so te verwerk dat daar niks van die oorspronklike ritme of opvoerbaarheid verlore gaan nie, want sy lees altyd haar vertalings hardop en skaaf en beitel sodat dit ook reg moet klink. Dit was vir my so lekker om die Franse en Afrikaanse tekste te lees om te sien hoe ongelooflik hierdie vertaling werklik is.
So ja, jy het Beckett se Godot gelees of gesien, maar wat ’n Godot het jy nie onder oë gehad nie! Dis ’n vertaling wat getrou is aan die oorspronklike teks, maar dis ook ’n vertaling wat die Afrikaanse leser en kyker betrek in die gesprek. En dit is miskien juis in hierdie dualiteit – die getrouheid aan Beckett en ook die waagmoed en die kennis om dit te verryk – dat Naomi se genialiteit as vertaler werklik na vore kom.
Ek sluit af. Soos Vladimir en Estragon, het ons ook gewag vir Godot; ons het lank gewag vir Godot in Afrikaans, maar dit was absoluut die wag werd. In die gees van Vladimir, Estragon, Pozzo en Lucky wil ek ook my hoed afhaal en sê: “Chapeau!” Wat jou vertalings betref, hierdie een en die vele ander waarmee jy die Afrikaanse letterkunde verryk, wil ek graag vir Vladimir aanhaal: “Ons sê vir u dankie.” En ons hoop dit is “het einde niet”.
Lees ook:
2025-UJ-prys vir Afrikaans aan Ingrid Winterbach vir Onrus op Steynshoop: commendatio
2025-UJ-prys vir Afrikaans aan Ingrid Winterbach vir Onrus op Steynshoop: aanvaardingsrede
2025-UJ-debuutprys vir Afrikaans vir Een voet innie kabr deur Gaireyah Fredericks: aanvaardingsrede
2025-UJ-debuutprys vir Afrikaans vir Een voet innie kabr deur Gaireyah Fredericks: aanvaardingsrede


Kommentaar
Baie goeie commendatio, dankie.