
Boekomslag: Human & Rousseau
Die wenner van die 2025-UJ-prys is Ingrid Winterbach vir haar roman Onrus op Steynshoop (Human & Rousseau). Hier is Janien Linde se commendatio by oorhandiging van die prys.
Goeiemiddag, dames en here
Dit is nie die eerste, of selfs die tweede keer wat Ingrid Winterbach die UJ-prys vir Afrikaans vir haar prosa ontvang nie. Dit is die dérde keer. Die eerste keer was in 2007 vir Die boek van toeval en toeverlaat (2006) en die tweede in 2013 vir Die aanspraak van lewende wesens (2012). Ek sal nie al die literêre vererings wat Winterbach al te beurt geval het, vandag lys nie, want dan gaan ons ’n rukkie besig wees. Ek kan wel noem dat sy ook al twee keer met die Hertzogprys vereer is (vir Niggie [2002] en Die aanspraak van lewende wesens [2012]). Onrus op Steynshoop was vanjaar op die kortlys vir die Hertzogprys. Ons het dus hier met ’n prosaïs van formaat te make, en dit is vir die 2025-keurkomitee heerlik om die UJ-prys vir ’n derde keer aan haar te kan toeken.
Op ’n persoonlike noot is dit vir my buitengewoon heerlik om vandag hier te staan, omdat dit my terugneem na 2013 toe ek nog as snuiter-letterkundige aan die Universiteit van Johannesburg werksaam was, en die groot verantwoordelikheid, en voorreg, my te beurt geval het om die commendatio te lewer toe Ingrid in daardie jaar die UJ-prys vir Die aanspraak van lewende wesens ontvang het. Vandag, 12 jaar later, mag ek dit weer doen en dit is werklik vir my ’n uitsonderlike eer.
........
Onrus op Steynshoop is ’n roman wat die leser vanaf die eerste paragraaf intrek en betower tot heel aan die einde. Jy lees koorsagtig agter die hoop aan dat dié verhaal wat op boeiende en speelse wyse soveel herkenbare situasies in die Suid-Afrikaanse werklikheid uitpak, iets gróóts en rigtinggewends gaan sê oor die kompleksiteite van die huidige oomblik. Maar dit is nie in Winterbach se aard om reguit antwoorde te gee nie; halwe waarhede, opinies en verdraaide stories is volop in hierdie roman, soos ook in voriges.
........
Onrus op Steynshoop is ’n roman wat die leser vanaf die eerste paragraaf intrek en betower tot heel aan die einde. Jy lees koorsagtig agter die hoop aan dat dié verhaal wat op boeiende en speelse wyse soveel herkenbare situasies in die Suid-Afrikaanse werklikheid uitpak, iets gróóts en rigtinggewends gaan sê oor die kompleksiteite van die huidige oomblik. Maar dit is nie in Winterbach se aard om reguit antwoorde te gee nie; halwe waarhede, opinies en verdraaide stories is volop in hierdie roman, soos ook in voriges. Die leser soek tevergeefs na ’n dominante verhaallyn. Daar gebeur báie in die roman en die dinge wat gebeur, toon raakpunte en oorvleuelings, maar as jy op soek is na ’n ontknoping wat alles mooi netjies byeen gaan bring, is jy dalk nie vertroud met Winterbach se vertelstyl nie. Onrus op Steynshoop eggo heelwat van Winterbach se vorige romans wat styl en inhoud betref, maar daar is tog iets ánders aan die roman waarop ’n mens moeilik ’n vinger kan sit. Dit is hierdie “iets” wat die roman vir my ’n regte page turner gemaak het.
Onvoltooidheid of ’n onvermoë om iets af te handel, is ’n belangrike lyn in die roman. Talle karakters word weens omstandighede verhoed om projekte wat vir hulle op persoonlike vlak betekenisvol is, af te handel. Die grootse ekonomiese projek waarmee die Chinese op die plattelandse dorpie aan die slag gaan, word uiteindelik halfklaar agtergelaat. Die kunssinnige karakters (wat soos in die meeste van Winterbach se ander romans ook in hierdie een teenwoordig is) worstel op verskillende maniere om hul artistieke doelwitte te verwesenlik. Hierdie gevoel van onvoltooidheid gaan gepaard met onvervulde potensiaal en dra uiteindelik by tot die gevoel van onrus wat in die roman heers. Hierdie onderliggende gevoel word geëggo in die meer tasbare onrus wat tussen die verskillende inwoners van Steynshoop broei.
Een van die interessantste eienskappe van die roman is die manier waarop met die idee van die blik, of die daad van kyk omgegaan word. Daar word gedurigdeur gekyk: Karakters (veral die hoofkarakter Benna) se perspektiewe op ander karakters en gebeure op Steynshoop rig sowel die romangebeure as die tematiek. Die vermoë om deurpriemend te kan sien (soos die sprinkaan aan die einde van Die aanspraak van lewende wesens) is iets waarna verskeie karakters, bewustelik of onbewustelik, streef, en hulle soek op verskillende maniere daarna. Die geheimsinnige “kruid” wat in Lesotho verbou word en in ’n aanleg op Steynshoop verwerk word, beloof spesifiek insig, hoe uiteenlopend en subjektief ook al, aan die gebruiker daarvan. ’n Belangrike deurlopende lyn is die idee dat alles en almal onlosmaaklik gebonde is aan hul eie perspektief, dat sodanige perspektiefgebondenheid dinge relativeer, maar dat dit ook meewerk aan die egte weergee van mense se ervaringe. In die proses raak dit duidelik: Twee (of meer) dinge kan gelyk waar wees. So kan die Chinese se teenwoordigheid op Steynshoop, wat na ’n bedreiging lyk, ook oplewing teweeg bring, en iets wat neerdrukkend of afwykend lyk, soos Sarel se obsessie met wellusmoordenaars, kan ontvlugting en rigting verskaf.
Tipies van Winterbach, is humor belangrik in die roman. Dit is ook deur verskeie resensente uitgewys. Beide Joan Hambidge en Ena Jansen begin hul resensies van Onrus op Steynshoop deur spesifiek na Winterbach se kenmerkende gebruik van humor te verwys. Winterbach maak ernstige en swaar onderwerpe met behulp van humor hanteerbaar en verteerbaar. Dit skep die idee van ironie en relativering, maar ook van teerheid en sensitiwiteit vir elke unieke mens se lot in die groter bestel. Hierin openbaar Winterbach haar aanvoeling vir die huidige oomblik. Soos in die innoverende Oscar-wennerfilm, Everything, everywhere, all at once, word uiteenlopende verhaallyne langs mekaar geplaas, en ofskoon die vertellinge pittig en humoristies weergegee word, is daar ’n onmiskenbare delikate sensitiwiteit voelbaar. Daarmee word in Onrus op Steynshoop op diepsinnige wyse besin oor “die hele onbestendige Suid-Afrikaanse opset”, soos Benna dit noem. Uiteindelik lê die “antwoorde” op die eksistensiële vrae wat in die roman gevra word, nie in grootse ekonomiese, politieke of etiese bedrywighede, of in die selfregverdigende projekte van mense wat hulself belangrik ag nie, maar in die klein oomblikke van intimiteit en oplewing wat die karakters onverwags en toevallig raakleef tussen geliefdes, of wat ervaar word by die waarneem, of skep van ’n betekenisvolle kunswerk.
Ek vra nou dat Mercy Kannemeyer die 2025-UJ-prys vir Afrikaans aan Ingrid Winterbach oorhandig vir die indrukwekkende roman, Onrus op Steynshoop.
Lees ook:
2025-UJ-prys vir Afrikaans aan Ingrid Winterbach vir Onrus op Steynshoop: aanvaardingsrede

