Persverklaring: Wenners van die 2025-UJ-pryse vir Afrikaans

  • 0

https://www.uj.ac.za/

Die wenner van die 2025-UJ-prys is Ingrid Winterbach vir haar roman Onrus op Steynshoop (Human & Rousseau).

Die UJ-prys vir Afrikaans neem uitnemende tekste in enige genre wat oorspronklik in Afrikaans geskryf is en in die vorige kalenderjaar verskyn het, in ag. Die pryse, wat ontstaan het as die RAU Mardene Maraispryse deur ’n skenking van Fanie Marais en Cordis Trust, en sedert 2005 bekendstaan as die UJ-pryse, het ’n waarde van R75 000 vir die UJ-prys; en R45 000 vir die UJ-debuutprys.

Drie-en-vyftig titels waaronder romans, digbundels, dramas, kortverhaalbundels, jeugliteratuur, en ook niefiksie soos ’n biografie, memoir en literêr-akademiese werk, het meegeding om vanjaar se pryse.

https://www.nb.co.za/

Die beoordelaars het Winterbach se teks uitgesonder as ’n kragtige bewys van haar storievertel-vermoëns en diepgaande begrip van die Suid-Afrikaanse samelewing ná apartheid. Hierdie werk gaan voort met Winterbach se tradisie om veelvlakkige narratiewe te skep wat die kompleksiteite van menslike verhoudings ondersoek teen die agtergrond van ’n veranderende Suid-Afrika.

Uit die keurverslae:

  • Winterbach se vakmanskap blink uit in die ingewikkelde en gelaagde storievertelling en vaardige wyse narratologie in die roman gebruik. Sy skryf hier ’n selfbewuste roman wat nodige vrae oor kuns en kunstenaarskap vra, bv. die verhouding tussen kuns en die wyse waarop dit met sosiopolitieke kwessies omgaan (Fonnie en Chaoxing se comic strips). Gegewe die globale sosiopolitieke onstabiliteit en hoedat dit kuns en kunstenaars affekteer, is ’n roman soos Onrus op Steynshoop ’n belangrike en nodige teks. Winterbach wys hier daar is nog baie wat in haar pen steek.
  • Onrus op Steynshoop is ’n roman van ironie en relativering, maar ook van teerheid en sensitiwiteit vir elke unieke mens se lot in die groter bestel. Hierin openbaar Winterbach haar aanvoeling vir die huidige oomblik en haar vermoë om humor te skryf.

Winterbach het ook tevore die UJ-prys ontvang vir haar romans Die boek van toeval en toeverlaat (2007) en Die aanspraak van lewende wesens (2013).

https://www.nb.co.za/

Die wenner van die 2025 UJ-debuutprys is Gaireyah Fredericks vir haar bundel korttekste Een voet innie kabr (Kwela)

Fredericks se debuut word aanbeveel vir die uiters belangrike bydrae wat dit tot die Afrikaanse literatuur maak. Een voet in die kabr is ’n boek wat spreek van trots, humor, veerkragtigheid, intimiteit, getrouheid aan tradisie, en eerlikheid. Die hoop beskaam nie dat daar binnekort soortgelyke kortprosapublikasies sal volg nie.

Uit die keurverslae:

  • In Een voet innie kabr doen Fredericks die moeilike werk van ’n literêre styl en tradisie (her)skep uit so te sê niks uit nie. Dit is indrukwekkend hoe behendig en vlugvoetig haar stem is, en ook hoe uiteenlopend haar verhale en karakters. Deur hierdie uiteenlopendheid (en die feit dat die verhale soms oorkruis) word ’n hele wêreld in die bundel geteken.
  • Gaireyah Fredericks se kortverhaalbundel Een voet innie kabr is ongetwyfeld een van die hoogtepunte in die Afrikaanse literêre landskap in 2024. Fredericks debuteer hier met ’n merkwaardige kortverhaalbundel, waar die konsep van dood en rou vanuit verskillende hoekpunte ondersoek word teen die agtergrond van Islam en die leefwêrelde van Kaapse Moslem-karakters.
  • Die manier waarop Fredericks oor lewe en dood skryf smokkel met die leser se kop. Jy lees, en lees, en lees en dan skielik tref dit jou vierkantig tussen die oë – en die skrywer eis hard en duidelik: moenie wegkyk nie! Verhale van gewone mense op die kantlyn laat my as leser dink aan hoe universeel die spesifieke kan word. Een voet innie kabr is die soort boek wat nog deur baie generasies gelees en bestudeer gaan word.

Die pryse word later vanjaar oorhandig tydens ’n geleentheid aangebied deur die Universiteit van Johannesburg se Kantoor vir Meertalige Taaldienste.

Die beoordelaars vir die 2025-UJ-debuutprys vir Afrikaans, is Earl Basson (KSUT), Bibi Burger (UK), Karen de Wet (UJ, voorsitter), Mercy Kannemeyer (UJ) en Janien Linde (NWU).

Die beoordelaars vir die 2025-UJ-prys vir Afrikaans is Earl Basson (KSUT), Karen de Wet (UJ, voorsitter), Mercy Kannemeyer (UJ), Janien Linde (NWU), en Ronelda Kamfer.

Lees ook:

Gaireyah Fredericks vertel oor die bekendstelling van haar boek Een voet innie kabr

Een voet innie kabr: ’n onderhoud met Gaireyah Fredericks

Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach: ’n resensie

Die poppe sal dans: ’n resensie van Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach

Persverklaring: kortlyste van die 2025-UJ-pryse vir Afrikaans aangekondig

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top