Een voet innie kabr gan hystoe, Boe-Kaap toe
In July travel ek by invite allie pad vannie Paarl in relay taxi’s deurie kwaat Kaapse winte narie Boe-Kaap om my boek, een voet innie kabr daa bekend te ga stel. Mettie koms annie Iziko-museum innie ry colourful semi-detach huisies meet ek vi Annelize Kotze ennie stage is geset innie community centre. My excitement borrel oo. Net virrie feit dat een voet innie kabr finally smack innie hatchie vannie Kaap, waa sy haa onstaan vanuit gekry et, kop nou gat ytstiek, is alklaa vi my ’n gift. Ek bedoel, diesanie djuiste mense en wêril wat ek innie boek gecapture et.

Ek pak yt my boeke ennie guests arrive, gekiet in djaste en hoere, doeke, scarfs ommie koue nat weer te counter, ma hulle kom. Ek’s surprised en oek baie dankbaa. Amal gan virrie kopie java enne koesieste. Natuulikie national soetding wat ienage Kaapse merring moet van consist. Soên issie stoele gevul en Annie oepenie podium mette short intro en ôs begin. Dit wassie ees ’n minuut ennie rient briek los en slat drums oppie dak, soeveel soe, ek is inaudibly. Ek’s ’n performer en ek druk deu. Amal bring al hulle stoele naby inne semi-circle, marie water se tone tap dance oppie dak asof hulle ’n Fred Astaire movie skiet. Annie suggest toe ôs move af narie musem self. Daa is niks protest of complaints ennie audience agree. Hulle tel hulle stoele soes instructed op en volg Annie narie lounge vannie museum deurie downpour innie courtyard tot innie museum building. Ek staan in awe en my hat klop warm. My oë wil nat lek, maa ek dink dissie nourie tyd vi sentimental raakie – om te dink hulle’s willing om te volg where ever die storie syself gan vint ommie journey van Een voet innie kabr yt te hoo. Ek is humbled beyond en wiet for sure dis home. Een voet … is byrie hys. By familie.
Innie new space rewind ek oppie request vannie audience ommat hulle voel hulle wil niks missie. Die oggen in dai stoel-tienan-stoel cosy setting, borrel daa trane, happy en sêd, want amal celebrate ie colourful Cape Moesliem community. My keel kannie meerie knop fightie en my stem moet briek elke nou-en-dan. Die vooliesing van dié uitreksils ennie prose en poetry infused vat hulle oppe journey trug innie veliêde. Die audience is saam my innie wêril van way back when ennie characters wat hulle clerely recognize visit in hulle memories homely.
Ek vetel mý storie while my hat djoeleit nostalgic, want my mission mettie bymekaa maak en vaspen van dié mashallah community se mundane in’s-and-out’s, hulle traditions en culture, wat often of nóóit nêrens oppie literature scene gefeature tie, is nou gedruk en getik en hulle exist nou in ink, soes nog nooit tevore vetellitie.
Ek onhou en deel mettie audience iets wat Antjie met my UWC launch met pride gesê et: Inne 100 jaar het soveel wit skrywers oor dié Moslem gemeentskap geskyf, maar dis die eerste keer wat iemand self uit die gemeenskap oor die gemeenskap geskryf het. En met dai gesê, hoep ek my effort om te kickstart skrywe vanytie community create ’n rippling effect wat nog ôsse literature scene met neons gaan paint innie near toekoms.
Die vloer gan oep vi vrae ennie validation en appreciation wat dié 21 kotvehale vir dié wattie boek voorie event geliesit, is evident innie remarks. Die Kaap maak ordentlik plek vi Een voet innie kabr. Sy sit byrie tafel en enjoyrie koesiests en koffie in geselskap van vele ouredomme, diverse en in essence vestaan amal mekaa. Is iets om te aanskou, suwhallaai.
Erefaan Ramjan, narie event praat mette groos hat en sê dat:
Everyone came out of the museum, either relieved or validated that what they went through was real and not a dream. Most of the people there could relate to what was in the book. I can relate to almost most of the stories in the book.
Theo du Plessis, Emeritus professor, Departement Suid-Afrikaanse Gebaretaal en Dowe Studies, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, na sy driedaagse congress oo taalonnerig innie Kaap wat asse sentimental gesture, hom en sy vrou narie museum gebringit, was basically ingeboks deurie influx van tieties wat hulle plek innie klein vetrekkie wat hulle besigtag et, met hulle stoele vi hulle ingeboks, gepark en ge invite on the spot virrie launch. Hy recognizie toe die book vanytie Rapport article en decide hy bly bankvas virrie launch. Sy skrywe later an my inne formele report vetolkie wadeering en danksegging wat hy vi sy accidental bywoning virrie launch gehad het. Hy sê: “Jy kan nie outentisiteit opmaak nie. Wees eerlik met jouself en met jou leser.”

Met Theo du Plessis en sy vrou (links) en Annelize Kotze(regs)
Hy vetel my verre, op pad trug innie plane, begin liês hy aan een voet in die kabr en stuur my die WhatsApp:
Jy skryf lekker. Die verhale voer ’n mens mee en jy word in een van die oudste en besonder unieke Kaapse gemeenskappe binnegetrek. Gaireyah, jy is outentiek en jou verhale adem dit. Jou Cape Moslem Vernacular (soos sy dit beskryf) bekragtig dit. Niks van jou of jou kortverhale is aangesit of kunsmatig nie. Dit is eerlik, warm, lewend en soepel. Soos die taal van die Bo-Kaap maar is. Soos Achmat dit in die verwerking van sy magisterdissertasie, The Afrikaans of the Cape Muslims from 1815 to 1915, opgeteken het.
My hat gie ’n lekka bounce van contentment en ek raak emotional verby. Een voet innie kabr lies vanne heritage enne legacy vannie Kaap nou in print. Die 21 stories bridge boundaries, grense ennit enter harte. Soon sallie vriemdgyt vannie Kaapse community se practices en culture wat soe baie experience en vriemtgyt innie doekies en net langrokke sien, weg wither en families en vrinne mekaa stywer embrace en innie taal, die Cape Moesliem vernacular mekaa groet. Een voet innie kabr sit nou by ’n gedekte Tafelbêrg en dish van dié community se colour en conviction wat tot innie hyse, strate en spaces wat voorheen die armoet van vestaan experience et, op.
- Foto’s: Iziko Museums of South Africa, A Simayile

