Zombie-sokker deur Fanie Viljoen: ’n resensie

  • 0

Zombie-sokker deur Fanie Viljoen (LAPA, 2025)

Titel: Zombie-sokker
Skrywer: Fanie Viljoen
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780637007788

Gee zombies jou die ritteltits? Laat die gedagte aan sokker jou voete en bene van opgewondenheid bewe? Indien wel is hierdie die tipe boek wat jou sal aangryp.

Fanie Viljoen se kinderboek Zombie-sokker het onlangs verskyn en sluit tematies aan by vorige publikasies soos die immergewilde Monster rugby (2016), Vampierhokkie (2021) en Sneeuman-swem (2022). In hierdie tekste word sport met onder andere monsters, vampiere en sneeumanne gekombineer vir ’n aksiebelaaide leeservaring. Luan Serfontein se illustrasies laat die leser se verbeelding behoorlik op hol gaan en sodoende word die teks ’n visuele verbeeldingsvlug op sigself.  

Tibs Tabane is ’n tipiese seun wat mal is oor sport, en in dié geval veral sokker. Hy en sy beste vriend, Elroy, se bestaan wentel om sokker. Die skooldae kan soms lank en vervelig raak. Boonop is meneer Prins baie streng en moet Tibs homself keer om nie in die moeilikheid by die kwaai onderwyser te kom nie. Daar is egter een ding wat Tibs frustreer, naamlik sy bril. Daarsonder is hy so blind soos ’n mol, maar die lense wasem gedurig op. Hoe gaan hy Saterdag se sokkerwedstryd speel indien sy lense gedurig opwasem? Hy is immers nougeset daarop gefokus om Saterdag se wedstryd teen die Laerskool Jakkalsdraai te wen.  

........
Alhoewel Tibs en Elroy veronderstel is om op hul skoolwerk, en veral die komende Saterdag se sokkerwedstryd, te fokus, fassineer die nuus oor die zombie-eksperiment hulle. Hoeveel van hulle is daar en hoe is dit moontlik dat hulle bestaan ’n geheim kon bly?
........

Wanneer Tibs ’n onverwagte boodskap op sy selfoon ontvang, begin die poppe behoorlik dans. Wie is die Eksperiment X wat van die Sonskyn-Spa ontsnap het? En hoe op aarde kan ’n dooie skielik lewend word? Tibs en Elroy se avontuur sorg vir ’n spannende intrige wat die leser deurentyd vasgenael hou. Die donker skadufiguur in die groen rook is egter baie honger. Gaan Tibs en Elroy iemand se maaltyd word? Is dit ’n zombie of ’n spook? Hierdie vrae skep deurentyd afwagting by die leser en dwing jou om verder te wil lees. Alhoewel Tibs en Elroy veronderstel is om op hul skoolwerk, en veral die komende Saterdag se sokkerwedstryd, te fokus, fassineer die nuus oor die zombie-eksperiment hulle. Hoeveel van hulle is daar en hoe is dit moontlik dat hulle bestaan ’n geheim kon bly?

Die sokkerwedstryd teen Laerskool Jakkalsdraai is een van die hoogtepunte in Tibs en Elroy se week. Steeds weet die leser nie of die zombies werklik bestaan en of die digte mis iets met die vreemde verskynsel te make het nie. Die leser word verras deur ’n kinkel in die kabel wanneer die sokkerwedstryd glad nie verloop soos wat Tibs en Elroy gehoop het nie.   

Viljoen fokus veral op temas soos vriendskap en kameraadskap in die sokkerspan. Deur middel van Elroy se karakter en die gebeure tydens die sokkerwedstryd word die jong leser blootgestel aan die betekenis van opregte vriendskap, kameraadskap en spanwerk. Die sokkerwedstryd het dalk nie uitgewerk soos Tibs gehoop het nie, maar hy word deel van ’n veel groter oorwinning as ’n blote sokkerwedstryd. Die groot vraag is egter: Hoekom is meneer Prins laat vir Maandag se wiskundeles?  

.......
Beide seuns en meisies sal Zombie-sokker geniet weens die spannende verhaallyn en die gril-element. Zombie-sokker is ’n ideale teks om negejariges en ouer te laat lees.
.......

Die boek bevat ’n verskeidenheid illustrasies en die lettertipe sorg vir ’n gemaklike leeservaring vir die leser in die intermediêre fase. Die lengte is net reg vir daardie jong leser wat vinnig ’n lekker boek soek om tussendeur al die skoolaktiwiteite te lees. Beide seuns en meisies sal Zombie-sokker geniet weens die spannende verhaallyn en die gril-element. Zombie-sokker is ’n ideale teks om negejariges en ouer te laat lees. Onderwysers kan die teks met vrug in die klaskamer gebruik en nie alleen leerders aanmoedig om te wil lees nie, maar hul leesbegripvermoë verbeter, woordeskat uitbrei en die illustrasies gebruik om leerders se visuele geletterdheid te verbeter.

Zombie-sokker is ’n genotvolle dog spannende leeservaring wat jong (en selfs ook ouer) lesers se liefde vir lees sal aanwakker. Terselfdertyd sal die kinderboek jong leesgieriges met genoegdoening laat.  

Lees ook:

Fanie Viljoen (1970–)

Hulp met die derde kwartaal se literêrenavorsingstaak: ’n onderhoud met Fanie Viljoen

Brand deur Fanie Viljoen: ’n resensie

Oupa Zombie deur Jaco Jacobs: ’n resensie

Oor blou melkskommels en zombies: Izak gesels met René van Zyl

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top