
Titel:
Skrywer: René van Zyl
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780637000871
Lexi is die coolste meisie in die dorp, al weet sy dit nie. Sy dra ’n mes in haar skoen en ’n skokstok in haar rugsak. Sy is paraat. G’n zombie sal oorleef as sy dit kan verhelp nie.
Lexi haat zombies. Soos in, sy sal hulle doodmaak. Regtig.
Hoekom?
Want ’n zombie het haar gesin se geluk gesteel.
Hulle was een aand rustig aan die TV kyk, toe ’n zombie hulle met ’n geweer aanhou. Haar pa is verinneweer en het sy werk verloor. Haar boetie praat nie meer nie. Haar ma is op pille.
Lexi is nou in die skool vir getraumatiseerde kinders waar almal hulle medisyne sluk en dus soos zombies deur die lewe gaan.
Wanneer die rykste seun in die “normale” skool vir Lexi kwaad maak ... Nee, lees self. Wat dan gebeur is friekin ôsim.
Ek het met René van Zyl, die skrywer van Die monster in my melkskommel, gesels.
René, ten eerste: geluk. Dit werk. Ek lees graag jeugboeke en hierdie een hou ek op my rak. Jy het nou al talle werke vir volwassenes geskryf. Hoekom die baie moeilike genre van jeugboeke aanpak?
Baie dankie, ek waardeer jou woorde! Ek het eintlik ’n paar jaar gelede my eerste boek aangepak, ’n jeugboek, Wee Monk’s Tale: The Secret of Immortality. Dit is ’n Middeleeuse aksie-avontuurverhaal, juis om te wys dat tieners ’n groot verskil selfs in die geskiedenis kan maak met hulle ongeëwenaarde waagmoed. Tieners fassineer my, want hulle het soveel geloof en hoop in die lewe en storm makliker holderstebolder in ’n ding in. Ek is ook al vir meer as 20 jaar betrokke by kinderbediening en poppeteater by kerke en skole en het so geleer dat kinders ge-wow wil word – selfs met Bybelverhale. Niks moet boring wees nie, dan verloor jy hulle. Gaan groot of gaan huis toe, het ek gevind! Ek moet byvoeg, my eie dogters het op skool altyd sulke interessante aksie-avontuurverhale van oorsese skrywers gelees. Dit het my frustreer dat hulle nie Afrikaans wil lees nie. Dit het half ’n missie van my geword om iets te skryf wat selfs hulle, met hul kreatiewe verbeelding, sou wou lees. Iets anders. Ook iets waaruit hulle sou kon leer oor hoe om met die lewe te deel. Hoe om met trauma te deel wat niemand gespaar bly nie.
Suid-Afrika is ’n land waar trauma algemeen is. Hoekom het jy ’n boek oor trauma geskryf?
Juis omdat trauma so deel van ons en ons tieners se alledaagse lewe is – van ’n vroeë ouderdom alreeds, of dit nou ’n huisroof is, of ’n egskeiding, verwerping of sosiale media-issues en boeliegedrag. Ek voel dis iets wat nie genoeg aangeraak word nie. Ook wil ek hê dat tieners moet weet dat elke liewe persoon daarbuite, van hul maats tot hul onderwysers, predikante en ouers met een of ander trauma worstel en dat hulle nie alleen is nie. Ook dat die ander persone net so sukkel om hiermee te deel. Nog iets waarin ek glo: Met humor kan ’n mens ver kom, as dit moontlik is in jou situasie. Soms is die seer te erg en ’n mens moet hulp kry.
Ek was nogal geïnteresseerd in die skool vir getraumatiseerde kinders. Bestaan daar sulke skole?
Nee, ek dink nie so nie. Wel, nie in Suid-Afrika nie. In Amerika is daar amper so iets maar nie noodwendig op so ’n vlak nie. Ek het sommer die skool uitgedink om my storie meer oemf te gee!
Ons praat nou baie oor trauma, maar uiteindelik is Lexi ’n Lara Croft-figuur. Sy vat monsters aan en laat hulle tweede kom. Ek hou van haar! Hoe het jy op haar afgekom? Hierdie meisiekind skop gat!
Dalk is Lexi iets wat ek as kind graag sou wou wees – ’n parate no-nonsense meisiekind wat vir niks skrik nie. Ek is mal oor enige vegtende vrouefiguur, van Lara Croft tot Xena, Princess Warrior (van my dae) en Katniss Everdeen, Sarah Connor, Arya Stark, Buffy en Wonder Woman. Die tyd is verby van meisies wat wag vir ’n man om haar te red! Ons kan ook zombies aanvat en gatskop as ons wil en juis daarin lê beheer oor ons omstandighede!
Jou taalgebruik is knap. Min ou mense, soos ek, kan ’n jong mens se taal skryf. Daar is selfs ’n paar lekker vloekwoorde in die teks. Hoe het jy Lexi goed genoeg leer ken om haar te kon skryf?
Jy vra moeilike vrae en ek moet diep grawe vir antwoorde. Dalk is Lexi ’n alter-ego van my wat ek lankal ken – iemand wat ek as jong kind sou wou wees. Ek was ’n bang ou skoolkind wat in die biblioteek gesit en lees het en nie lekker ingepas het nie. My verbeelding het my soms mal gemaak en ek het lekker gelees aan Nancy Drew in daardie jare, ook ’n gatskop heldin. Miskien kan ek vandag eers as ’n grootmens uiting gee aan daardie tiener wat ek wou wees en daarom ken ek haar so goed! Aan die ander kant sien ek my dogters ook as sulke gatskop-heldinne en leer by hulle. Hulle het my juis saamgesleep (nie dat ek onwillig was nie) na zombie- en vampire-flieks. Ek het dit net so geniet soos hulle. Ek dink my ouers was ook bekommerd omdat ek as kind verslaaf was aan monsterflieks soos Dr Jekyll and Mr Hyde, Frankenstein en enigiets met weerwolwe en mummies in.
Jare terug wou almal ’n boek skryf gebaseer op die Wimpy Kid-reeks. Niemand kon dit regkry nie. Hier doen jy presies die teenoorgestelde. Almal is wimps, maar Lexi skop hulle dan tot in die regte plek. Anja Venter se tekeninge is bewustelik ook nie Wimpy Kid nie, en tog is hierdie een die enigste boek tot nou wat kers vashou by die Wimpy Kid-reeks. Hoe het jy en Anja saamgewerk? Sy het ook die boek uitgelê, nie waar nie?
Ons almal het ’n Lexi in ons lewe nodig om ons in ’n rigting in te skop! Anja is net ’n ongelooflike kunstenaar en het my verbeelding en die prentjies in my kop eenvoudig oombliklik gesnap. Elke skets is spot-on – en ons het nooit eens gepraat nie! Ek was net so verbaas daaroor toe ek die sketse die eerste keer sien. Die uitbeeldings is eenvoudig briljant en het my laat handeklap van opgewondenheid! Selfs Mama Muti lyk presies soos die prentjie wat ek in my kop van haar gehad het! Anja vang die boek se essensie vas met diepe kreatiewe insig!
Dis hoegenaamd nie ’n prekerige boek nie. Juis die teenoorgestelde. Boonop kry van die dominees maar ’n slegte rapportkaart in hierdie boek. Uiteindelik is daar egter iets te sê vir mense wat ernstig omgaan met teologiese vraagstukke en naasteliefde. Verduidelik asseblief hoe dit pas by jou interessante motto?
Een ding waarin ek erg glo, is my ou joernalistieke motto: Inlig, opvoed en vermaak. Ek voel geen storie kan hiersonder nie. (Ek het later jare bygevoeg dat ek mense ook wou inspireer.) In my eie jongmenslewe is ek, my man en ons breingestremde seun deur verskillende soorte predikante se hande – in ons soeke na die doel van ons gesonde kind se breinvirus wat hom basies op 15 maande-ouderdom soos ’n zombie gelaat het. As ek nou so ’n vergelyking mag tref ter wille van die boek. Daar was leke-predikers na wie toe ons is vir gebed, wat hom letterlik so met ’n kruis en met ruk en pluk en spoeg-spat wou gesond bid en die demone uit hom wou dryf. Dan was daar ook ander predikante wat die teenoorgestelde was, wat liefdevol probeer verstaan het waardeur ons gaan, al kon hul niks vir ons doen nie. Net bid en getuig van ’n God wat vir ons alles ten goede sal laat meewerk, al verstaan ons dit nie in daardie stadium van ons wanhoop nie. Ek hoop dat ek in die boek wel die twee uiterste pole uitwys. Ek wil hê jong mense moet hierdie ding verstaan – daar is altyd uiterstes, mense wat ’n situasie anders benader, goed en sleg. Jy moet kan onderskei en nie almal daarna onder dieselfde kam skeer nie. Ook die manier hoe die tieners elkeen hul eie trauma hanteer is uniek, persoonlik en uitermatig verskillend – goed en sleg. Dus, leer uit hierdie sleg wat aan jou gedoen word, skryf dit af as ervaring en doen wat jy aan jouself gedoen wil hê: Probeer ’n ander se trauma en die plek waar hy of sy tans is, verstaan sonder oordeel en met deernis en liefde, want ons verstaan eenvoudig nie mekaar se geloofspad of trauma nie. (’n Groot les, selfs vir grootmense.)
“We are all in the same game, just different levels, dealing with the same hell, just different devils.” (Anon)
Ek het wel een klagte. Ek HAAT blou melkskommels. Dit smaak soos plastiek. Hoe kan Lexi sulke goed drink?
Blou melkskommels is die beste! Waar kruip jy nou uit? He-he. Nee, ek dink tieners love dit – en dis al wat saak maak!


Kommentaar
'n Uitstekende onderhoud - knap vrae wat nie net die wysheid van die skrywer ontbloot nie, maar ook opgewondenheid opwek om die verhaal te wil lees.