
Tonele uit Pakistan (foto’s: Zalman Davis)
Maandag 25 Augustus. Ek land op Jinnah-lughawe in Karachi. Die gebou lyk soos iets uit die sewentigs: ’n ou gebou met geel ligte wat in die spasie flikker. ’n Swaar reuk hang in die lug. Iets wat na motbolle, klam biblioteekpapier en ’n ouetehuis ruik. Ek hou my asem in terwyl ek deur immigrasie gaan. ’n Beampte kyk streng, neem my paspoort, en dan vorm ’n glimlag op haar gesig.
“Welcome to Pakistan, sir.”
Ek glimlag terug.
........
Buite is dit nag. Warm. Die geluid van honderde stemme, motorfietse en tuk-tuks wat hulle toeters druk, is oral om my. Ek bel my ou vriend, Azmat Ali. Hy antwoord dadelik. Sy stem klink dieselfde soos 15 jaar terug – net die aksent ’n bietjie dieper.
........
Buite is dit nag. Warm. Die geluid van honderde stemme, motorfietse en tuk-tuks wat hulle toeters druk, is oral om my. Ek bel my ou vriend, Azmat Ali. Hy antwoord dadelik. Sy stem klink dieselfde soos 15 jaar terug – net die aksent ’n bietjie dieper.
“You are here! Finally! Welcome, my brother!”
Ons het mekaar laas gesien toe ek 15 was. Ek moet glimlag oor hoe maklik die jare kan wegval.
Ek bestel ’n taxi op die inDrive app vir sowat 1 200 rupees. Die bestuurder, ’n ouer man met ’n lang grys baard, ry met my deur die donker strate van Karachi. Aan my linkerkant sien ek ’n mark wat nog oop is: Dis net smouse met groente en vrugte, rook van kebabs en kinders en honde wat rondhardloop. Ek hou my foon dop. Die blou GPS-kolletjie wys dat ons by die hotel is. Net ... daar is geen hotel in sig nie. Net stalletjies en die lawaai van mense in hulle plaaslike tongval.
“Hotel?” vra ek.
Die bestuurder lig net sy skouers. Hy weet niks. Nog minder as ek.
Ek soek haastig op booking.com en kry ’n ander een: Elet Business Hotel. Ons durf weer die pad terug in die rigting van die lughawe aan, maar swenk iewers regs.
Van buite lyk die hotel heel aanvaarbaar met ’n helder naambord en groot glasdeure. Van binne is dit ’n ander storie. Smal gange wat ruik na sigarette en ’n muwwe mat. Die verf dop plek-plek van die mure af. Die lakens is geelgevlek. En die badkamer is ’n nagmerrie op sy eie. Ek sit my rugsak neer en dink: Nou ja, dit is seker deel van die avontuur.
........
Karachi is nie vir die first-time traveller nie. Hierdie plek is rou. Hier’s geen fasade nie.
........
Die volgende oggend stap ek uit die hotel in die versengende hitte. Dis net karre, diere, tuk-tuks en motorfietse waar jy kyk. Almal brul verby jou. Rioolwater vloei deur die pothole-strate, plastieksakke waai rond in die wind. Karachi is nie vir die first-time traveller nie. Hierdie plek is rou. Hier’s geen fasade nie.
Ek klim in ’n tuk-tuk. Die bestuurder dra ’n wit shalwar kameez; sy oë blink in sy truspieël. Ek neem ’n foto van agter af. Ons ry Clifton Beach toe. Ek het gehoor van toeriste wat hier uitgesuig word met kameelritte en spins op dune buggies vir belaglike pryse. Ek wag dat iemand my benader. Helaas. Net die geluid van die see en kinders wat lag. Ek neem ’n paar foto’s, maar die strand self ruik na rioolwater. Ek besluit om nie lank te bly nie.
Later die dag stuur ek ’n boodskap aan Kazi, ’n plaaslike prokureur en vriend van die YouTube-vlogger, Blackman Da Traveller, oftewel Ameer. Hy antwoord vinnig.
“Brother, let’s meet. I’ll show you Karachi.”
Ons ontmoet buite sy woonstel in DHA, ’n buurt by die Ethiopian Airlines-gebou. Hy’s lank. Netjies geklee in ’n swart shalwar kameez.
“Welcome, my friend! You are finally here.”
Later tydens ons vele gesprekke toe hy hoor ek is ook op 7 Oktober 1996 gebore, bars hy uit van die lag.
“No way! Same birthday? Destiny, yaar.”
Voor ek my rooi rugsak in sy woonstel bêre, vat hy my vir tee by ’n plaaslike “hotel” net langs die Ethiopian-kantoor. Hier beteken dit ’n padkosplek met plastiekstoele, ysterborde en ’n kok wat in oop potte roer. Mense staar na my uit nuuskierigheid. ’n Seuntjie bring ons tee in twee glasies. Soet, sterk tee met bokmelk.
“This is real Pakistani chai,” sê Kazi. “Better than Starbucks.”
Ek lag. Hy is reg.
Ons stap later straat op na ’n Irannese restaurant wat al 130 jaar bestaan. Binne is dit donker, die mure bruin geverf, die teëls handgedruk uit klei. Die kelner lyk of hy self al dekades hier werk. Ons bestel biryani. Die rys is geel van saffraan; die hoender sappig. Die aroma van speserye vul die hele vertrek.
“My grandfather used to bring me here,” vertel Kazi. “Nothing has changed.”
........
Ons ry verby glansende herehuise agter hoë mure waar miljardêrs woon. ’n Paar minute later ry ons deur slums – sinkhuise, kinders wat kaalvoet in die stof rondloop. Karachi wys jou nie net een gesig nie. Dit wys alles. Net so. Sonder enige skaamte.
........
Ná ete ry ons met ’n tuk-tuk deur die stad. Die wind slaan warm teen my gesig. Ons ry verby glansende herehuise agter hoë mure waar miljardêrs woon. ’n Paar minute later ry ons deur slums – sinkhuise, kinders wat kaalvoet in die stof rondloop. Karachi wys jou nie net een gesig nie. Dit wys alles. Net so. Sonder enige skaamte.
Teen sononder sê Kazi: “You stay with me and my father tonight. Tomorrow, I show you more.”
Ek huiwer. Ek wou eintlik per trein Lahore toe. Maar sy oë is opreg. Dis nou die Pakistani-gasvryheid waarvan vele praat.
Ek knik. “Okay. One night.”
Dis die volgende dag. Ek word wakker met die geluid van ’n Azaan se roep tot gebed. Die stad antwoord met honde wat blaf en die lawaai van die verkeer. Kazi sê ons moet hotel toe vir ontbyt, skuins voor 10.
Ontbyt is eenvoudig: paratha en eiers met daardie lekker tee. Kazi lag toe ek probeer om die brood te breek sonder dat ek my vingers brand.
“You eat like a child,” spot hy.
Later die middag sê hy skielik: “Come. We go buy beer.”
Ek kyk hom verbaas aan. “But it’s illegal, right?”
Hy glimlag. “Everything is possible in Karachi.”
Ons klim agterop ’n motorfiets – drie van ons agtermekaar: ek, Kazi en ’n taxibestuurder wat hy ken. Ek hou vas aan die kant van die sitplek soos die motorfiets tussendeur die verkeer vleg en al die dongas probeer vermy. Hierdie stad is chaos. Tog werk dit.
Ná ’n ruk stop ons voor ’n klein winkel, verberg agter ysterplate. Net twee vierkantige openinge wys dat hier iets gebeur. Kazi klop, fluister vinnig iets in Urdu. ’n Hand kom deur die opening.
“Two beers,” sê hy. Ek gee geld. Die hand verdwyn en ’n oomblik later kry ons twee bottels, toegedraai in Chinese koerantpapier.
Ons ry terug, laggend oor hoe geheimsinnig en onwettig en haram alles is. By sy huis maak ons die bottels oop. Die skuim borrel. Blue Girl Beer. 500 ml. Made in South Korea.
“Cheers, brother,” sê Kazi.
“Cheers.”
Die smaak is lekker, lig, onverwags verfrissend in die hitte.
Ek dink: Hierdie reis het maar nog net begin, en dit gaan een van die bestes wees wat ek nog gehad het.
Volgende stop: Lahore. Maar eers ’n lang-vertraagde besigheidsklas-treinrit wat my meer gaan wys van Pakistan as wat enige hotel of taxi ooit kan.

