Wortels, wêreldgebeure en hofuitsprake: ’n LitNet Akademies-onderhoud

  • 0

Foto: Canva

Sal onderrig in regsetiek regstudente help besin oor wat moreel aanvaarbaar is?

Talle wêreldgebeure veroorsaak die afgelope tyd dat mense besin oor wat moreel aanvaarbaar is al dan nie. Daar gebeur ook dikwels hier ter plaatse dinge wat algemene landsburgers vrae oor ons regstelsel laat vra. Kan hofuitsprake op ’n morele wyse geregverdig word? Anders gestel: Word die land se regstelsel aan sy goeie vrugte herken?

Die volgende artikel het pas in LitNet Akademies (Regte) verskyn: Die wortels, die takke en die vrugte: morele herstel in Suid-Afrika in die konteks van regsetiekonderrig in die LLB-graadprogram.

Neels Swanepoel praat met Naomi Meyer oor hierdie artikel.

Hallo Neels, ek het ’n onlangse LitNet Akademies (Regte)-artikel uit jou pen met belangstelling gelees: Die wortels, die takke en die vrugte: morele herstel in Suid-Afrika in die konteks van regsetiekonderrig in die LLB-graadprogram. Jou artikel bespreek ’n aspek van die reg waaroor baie gewone Suid-Afrikaanse burgers moedeloos voel. Waarom het ons land ’n veronderstelde moderne demokratiese regstelsel met ’n netjiese grondwet, maar so baie regsgeleerdes tree oneties op - en boonop word daar soms uitsprake gemaak waarmee landsburgers hulle nie moreel kan vereenselwig nie? Wat het jou geïnspireer om die artikel te skryf, en wat het jy raakgesien of sien jy deurlopend raak wat jou geïnspireer het om hieroor navorsing te doen? Was hierdie die vrae wat jy met jou artikel wou probeer beantwoord? Of verwoord asseblief jou vertrekpunte in jou eie woorde.

Eerstens glo ek dat regsonderrig aan universiteit veel meer behels as die oordrag van substantiewe vakkennis en vaardighede. Dit verg ook ’n breër onderrigtaak wat toenemend interdissiplinêr is.

........
Eerstens glo ek dat regsonderrig aan universiteit veel meer behels as die oordrag van substantiewe vakkennis en vaardighede. Dit verg ook ’n breër onderrigtaak wat toenemend interdissiplinêr is.
........

Steun etiek nie op moraliteit nie? Wat is moraliteit? Want uiteindelik, glo ek, is dit die gesonde morele oortuiging van ons diverse samelewing wat ons ten goede sal verander. Daarom is dit nodig om verder as die Grondwet te soek na die redes vir die verval, moedeloosheid, wetteloosheid, onverdraagsaamheid ens ens in die Suid-Afrikaanse samelewing. Dit word duidelik in die artikel gestel dat die maatstawwe van sukses tans materialisme in plaas van geestelike verankering is. In geestelike verankering is daar diepe toegewyheid tot ’n saak groter as die individu. Magsug, hebsug is die gevolg van ’n samelewing wat geestelik verval het.

Verduidelik asseblief die beeld van wortels en takke en vrugte aan die hand van Wright se beginsels. Wie was hy? Waarom moet die regstudent hiervan kennis neem?

Richard W Wright (1944–2019) was ’n bekende Amerikaanse mediese dokter, pastoor en skrywer. In Exposing the spiritual roots of disease gebruik hy die beeld van ’n boom met wortels, takke en vrugte om die verband tussen spirituele, emosionele en fisieke gesondheid te verduidelik. Uit ’n "spirituele politieke perspektief" verteenwoordig en vergelyk ek die wortels as die spirituele en emosionele anker van ’n mens of samelewing se bestaan. Dit word in Suid-Afrika op die Grondwet geskoei. Die Suid-Afrikaanse Grondwet behoort dus gesonde vrugte te lewer. Maar dit gebeur nie. Dit verklaar Wright aan die hand van siektetoestande, omdat gesonde wortels uit ’n regte verhouding met God, jouself en ander, gegrond in liefde, geloof en vergifnis moet spruit. Ongesonde wortels, soos bitterheid, vrees, onvergifnis of sonde, is volgens Wright die spirituele oorsake van baie siektes. Hierdie negatiewe wortels voed destruktiewe patrone. Dit kan waargeneem word in gesondheidskwessies, en ek vergelyk dit met die samelewingseuwels waaroor ek skryf. Die takke simboliseer die manifestasie van hierdie wortels in gedagtes, emosies en gedrag. Onvergifnis (wortel) kan byvoorbeeld lei tot woede of depressie (takke). Ongesonde takke verteenwoordig die sielkundige of emosionele uitwerking van dieper spirituele kwessies. In my vergelyking argumenteer ek dat dit veral in ondeurdagte beleidsrigtings deur die regering manifesteer. Die vrugte is die sigbare resultate wat ons rondom ons sien en by braaivleisvure bespreek. Gesonde wortels en takke dra goeie vrugte (welstand), terwyl ongesonde wortels en takke slegte vrugte (siekte) voortbring. Wright glo dat deur die wortels aan te spreek – via bekering, genesing van verhoudings en Bybelse beginsels – die takke en vrugte herstel kan word, wat tot algehele genesing lei. Hierdie beeld help lesers dus om die oorsaak-en-gevolg-verband tussen spiritualiteit en gesondheid te verstaan en praktiese stappe te doen, ook in Suid-Afrikaanse samelewingskonteks.

In die regswêreld is woorde van groot belang. Soms beteken ’n woord in ’n wet egter iets anders as wat dieselfde woord in algemene woordeboeke beteken. In die kopieregwetgewing (Wet op Outeursreg 98 van 1978) is daar byvoorbeeld in artikel 20 ’n verwysing na morele reg wat die outeur aankleef. In hierdie wet beteken die woord "moreel" egter iets anders as wat ons normaalweg onder daaronder verstaan. Dis ’n vertaling uit Frans, en dit verwys na die soorte regte wat onskeibaar is van ’n individu wat ’n werk tot stand gebring het (om dit te oorvereenvoudig). Hoe verstaan jy moraliteit in jou artikel? Beskryf en verduidelik dit asseblief.

Ek dink nie daar behoort werklik so ’n groot debat oor die betekenis van “moraliteit” te wees nie. Moraliteit behoort die basis te wees van die regswese. Ons weet egter uit dure ondervinding in Suid-Afrika dat iets reg of regmatig mag wees sonder dat dit noodwendig moreel mag wees.

........
Ek dink nie daar behoort werklik so ’n groot debat oor die betekenis van “moraliteit” te wees nie. Moraliteit behoort die basis te wees van die regswese. Ons weet egter uit dure ondervinding in Suid-Afrika dat iets reg of regmatig mag wees sonder dat dit noodwendig moreel mag wees.
........

Dit is met verwysing na die pre-1994 geskiedenis. Huidig is ons egter weer in vele opsigte presies daar waar ons nie wil wees nie. ’n Voorbeeld: Die Hoogste Hof van Appèl, gesteun deur die Konstitusionele Hof, is van mening dat “Kill the Boer” regmatig is (nogal ingevolge die reg op vryheid van spraak), terwyl die meerderheid Suid-Afrikaners, en selfs die internasionale gemeenskap, dit as hoogs onregmatig en afkeurenswaardig beskou. Hoekom? Omdat ’n kollektiewe moraliteit vir ons aandui dat hierdie iets is wat ons nie aan onsself gedoen wil hê nie. Moraliteitsleer is dus, soos uitgelig in die artikel, van kardinale belang. Moraliteit word aan huis, in die skool en kerk, op universiteit gekweek en is niks meer of minder as om niks aan iemand anders te doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie.

Studente in die regswese leer vroeg al dat reg en verkeerd in die oë van die reg soms baie maklik is om te kan raaksien (soos “jy mag nie doodslaan nie”), maar dat daar vir elke oënskynlik voor die hand liggende beginsel ook ’n verweer bestaan (“tensy jy dit uit selfverdediging doen omdat jou eie lewe in gevaar is”). Daar is egter baie ander beginsels wat glad nie voor die hand liggend is om uit ’n algemeen aanvaarbare moraliteitsoogpunt te benader nie, want die samelewing se houding het verander, en wette en hofuitsprake word aangepas. Wat is jou gedagtes hieromtrent? Hoe hou ’n algemene landsburger by met verskuiwende morele (en regs-) beginsels?

Dit is wat hierdie artikel probeer doen: om aan te toon dat daar niks in ons diverse moraliteitsleeragtergronde is wat tesame met die Grondwet in ons pad staan om ons moraliteitsfondament te vestig of te herstel nie. As ons dit egter gaan doen met ondeurdagte beleide wat geanker is in die verlede en die haat en nyd daarvan en geen verantwoordelikheid gaan neem vir ons huidige tekortkominge nie, bly ons in ’n bose kringloop vasgeval.

........
Dit is wat hierdie artikel probeer doen: om aan te toon dat daar niks in ons diverse moraliteitsleeragtergronde is wat tesame met die Grondwet in ons pad staan om ons moraliteitsfondament te vestig of te herstel nie. As ons dit egter gaan doen met ondeurdagte beleide wat geanker is in die verlede en die haat en nyd daarvan en geen verantwoordelikheid gaan neem vir ons huidige tekortkominge nie, bly ons in ’n bose kringloop vasgeval.
........

Die ironie is egter dat terwyl rasseverhoudinge op voetsoolvlak in Suid-Afrika uitstekend is, dit die hoëprofiel lede van ons samelewing wat rassehaat aanwakker. Dit tesame met die ooglopende diefstal, geweld, bedrog en korrupsie wat elke sfeer van ons samelewing bedreig.

Is daar rede om nog in die Suid-Afrikaanse regstelsel te glo? Is dit die verkeerde vraag? Wat is die regte vraag/vrae omtrent die Suid-Afrikaanse regstelsel en wat behoort prokureurs, advokate en regters (asook studente in die juridiese rigting) hulle af te vra?

Vra jou af wat in die Grondwet immoreel is. Watter aspekte daarvan is "verkeerd"? Want moraliteit gee rigting aan wat reg en verkeerd, goed of sleg is. Watter aspekte van ons diverse moraliteitswortels is verkeerd of sleg? As jy die antwoord hierop het, vra jouself of ons Grondwet, of enige ander grondwet, die toestand in Suid-Afrika kan verbeter. En as jy nie ’n lang lys antwoorde het nie, dan bly die enigste logiese oplossing dat die mense ("we the people") self die antwoorde moet kry deur daaroor te praat.

........
Wat alle lede van die regsberoep moet onthou: Jy tree in ’n fidusiêre hoedanigheid op. Nie net vir jouself nie, maar vir die heil van die hele Suid-Afrika, baie groter as jy self.
........

Wat alle lede van die regsberoep moet onthou: Jy tree in ’n fidusiêre hoedanigheid op. Nie net vir jouself nie, maar vir die heil van die hele Suid-Afrika, baie groter as jy self. Los tog maar ’n bietjie die ego’s, eiewaan, hebsug en geldsug uit.

Lees ook:

Die wortels, die takke en die vrugte: morele herstel in Suid-Afrika in die konteks van regsetiekonderrig in die LLB-graadprogram

Vonnisbespreking: Konteks en bedoeling – besinning oor die Hoogste Hof van Appèl se haatspraakuitspraak

Die lewende testament – Is daar regsekerheid in die Suid-Afrikaanse reg?

Wysigingswetsontwerp op Outeursreg na Konstitusionele Hof verwys: ’n onderhoud met Catrina Wessels

Jan Alleman vs ChatGPT: Kan KI uit regswerk gehou word?

Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak, wat om te verwag

Vonnisbespreking: Konteks en bedoeling – besinning oor die Hoogste Hof van Appèl se haatspraakuitspraak

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top