
Fotobron: Pixabay
Hierdie artikel dien as toeligting vir onderwysers tot die resensieles wat hier verskyn:
Graad 9: Afrikaans Huistaal – Aanlyn resensieles
Aan die begin van die 21ste eeu bevind skrywers hulle in die digitale era. Daar word nou van leerders verwag om suksesvol op verskeie maniere te kan kommunikeer: “vanaf die gesproke woord en die geskrewe teks tot die multimodale uitdrukkingsmoontlikhede van nuwe media én die onmiddellikheid van sosiale-media-netwerke” (Greyling 2017:150). Hierdie veranderende opvoedkundige landskap noop die onderwyser om vernuwend na onderrig en leer te kyk en strategieë te ondersoek vir hoe tegnologie op ’n sinvolle wyse binne die kurrikulumraamwerk geïntegreer kan word sonder om die eienskappe van tradisionele leerervarings te ignoreer. Die doel is om uiteindelik ’n positiewe uitwerking met betrekking tot die aard en kwaliteit van die opvoedkundige ervaring in taalonderrig te bewerkstellig.
Volgens Taylor en Van der Merwe (2019:306) “lê die wyse waarop die onderwyser bogenoemde aspekte ten opsigte van die integrasie van tegnologie kan aanspreek, in ’n studie wat deur die P21 Partnership for 21st century learning (P21 2007) gedoen is. Hulle het ’n raamwerk vir 21ste-eeuse leer ontwikkel wat die vaardighede [...] omskryf wat ’n leerder nodig het om in die wêreld suksesvol te wees.” Hierdie vaardighede word as volg deur die outeurs vertaal en word binne die e-leerbeplanningsraamwerk (Tabel 1) geïntegreer wat ons gebruik om die resensieles vir die 21ste-eeu te moderniseer.
Tabel 1. 21ste-eeuse leervaardighede (Taylor en Van der Merwe 2019:318)
|
P21 Partnership for 21st century learning skills |
21ste-eeuse leervaardighede |
|
Learning and innovation skills
|
Leer- en vernuwingsvaardighede
|
|
Information, media and technology skills
|
Inligting-, media- en tegnologiese vaardighede
|
|
Life and career skills
|
Lewens- en loopbaanvaardighede
|
Taylor en Van der Merwe (2019:306) beklemtoon dat die onderwyser met die 21ste-eeuse leerders se veranderde behoeftes gekonfronteer word omdat tegnologie deel geword het van die leerder se werklikheid. Daarom sal dit ook volgens die navorsers vir die Afrikaans Huistaal-onderwyser insiggewend wees om vanuit die P21 se raamwerk vir 21ste-eeuse leer ’n beginpunt vir die integrasie van tegnologie binne taalonderrig te vind. Hierdie ideale vir 21ste-eeuse onderrig moet egter met die doelwitte van die kurrikulum geïntegreer word ten einde te verseker dat leerders “kennis en vaardighede verwerf en toepas op maniere wat betekenisvol is vir hulle lewens” (Departement van Onderwys 2011:5).
Een van die doelwitte vir taalonderrig is dat leerders moet leer hoe om taal effektief te gebruik. Dit stel leerders in staat om kennis te verwerf en te genereer, om uitdrukking aan hul identiteit, emosies en idees te gee, om met ander te kommunikeer, en om hul wêreld te bestuur.
Die vaardigheid “Skryf en aanbied” stel leerders in staat om gedagtes en idees samehangend te konstrueer en te kommunikeer. Skryf is sowel ’n manier van refleksie en leer as ’n medium van kommunikasie.
Die onderrigbesluite wat onderwysers neem om ’n leergeleentheid te skep waar digitale tegnologie gebruik gaan word, is van uiterste belang ter sinvolle integrasie van tegnologie in die taalonderrigruimte. Daar is bevind dat dit tot die onderwyser en die leerder se nadeel is wanneer die taalles gedryf word deur die tegnologie wat gebruik word, eerder as deur die leerdoelstellings en die pedagogiese benadering tot die les.
Dit is daarom noodsaaklik om ’n praktiese raamwerk ter sinvolle vervlegteleer-integrasie te gebruik. Die doel van hierdie raamwerk is om onderwysers op ’n praktiese en nuttige wyse gedurende die beplanningsfase van die taalles ten opsigte van aanlynleerbenaderings te ondersteun. Onderwysers moet ook gedurende hierdie beplanningsfase begelei word om e-leer met 21ste-eeuse vaardighede te verbind.
Ons het die volgende voorgestelde raamwerk op grond van Mishra en Koehler (2006) se Tegnologiese Pedagogiese Inhoudskennis- (TPIK-) raamwerk, Ruben Puentedura (2015) se SAMR-model en Hutchison en Woodward (2014) se Tegnologie-integrasiebeplanningsiklus vir Taal en Geletterdheid ontwerp, en integreer ook die behoeftes van die 21ste-eeuse leerder volgens Partnership for 21st century learning (P21) (2017:2):

Figuur 1. E-leerbeplanningsmodel vir taalonderrig aan die 21ste-eeuse leerder
Ons voorgestelde model, soos in Figuur 1 aangebied, kan prakties toegepas word tydens die beplanningsfase van ’n taalles. Dit word soos volg in Tabel 2 uitgebeeld:
Tabel 2. Lesraamwerk op grond van e-leerbeplanningsmodel
|
Onderrigdoel |
Transaksionele skryfwerk (Die resensie): Leerders skryf hulle eie aanlyn resensie op Padlet nadat hulle na ’n aanlynresensieles luister waarin die belangrike kenmerke van ’n goeie resensie behandel word. Die resensieles fokus daarop om leerders in staat te stel om inligting te versamel, te ontleed en te organiseer en dit krities te kan evalueer. |
|
Onderrigbenadering |
Die vaardigheid “Skryf en aanbied” word deur ’n e-leerbenadering informeel geassesseer. Hierdie besondere kommunikasievaardighede stel leerders in staat om gedagtes en idees samehangend te konstrueer en te kommunikeer. Skryf is sowel ’n manier van refleksie en leer as ’n kommunikasiemedium. |
|
21ste-eeuse vaardigheid |
Leer- en vernuwingsvaardighede & Inligting-, media- en tegnologiese vaardighede |
|
Gereedskapseleksie |
Onderwyser: PowerPoint |
|
Beperkings |
Kontekstuele faktore kan die doelstellings van die les beperk/steur (byvoorbeeld onbetroubare internettoegang of leerdervaardigheidsvlakke) |
|
Onderrig |
(Gaan voort met die les indien die verskeie elemente met die onderrigdoel belyn word.) Die onderwyser stel ’n PowerPoint-resensieles saam wat op ’n elektroniese platform aan leerders beskikbaar gestel word. Leerders kyk en luister na die les, en skryf dan ’n aanlyn resensie op Padlet oor enige plaaslike fliek wat hulle onlangs gekyk het. Leerders mag ’n verskeidenheid multimediatekste by hulle skryfstuk integreer. Hierdie skryfstukke word weer elektronies met die onderwyser gedeel. |
Met die herontwerp van die tradisionele resensieles volgens 21ste-eeuse onderrig-leer-ideale moet daar ook ’n vernuwende assesseringsrubriek gebruik word om die vordering van leerders te evalueer nadat hulle die vaardighede van die 21ste eeu op hulle werk toegepas het.
Tabel 3: Assesseringsrubriek vir 21ste-eeuse skryftaak
|
Kriteria |
Onvoldoende |
Gemiddeld |
Uitsonderlik |
Punt |
|
|
0 – 1 |
2 – 3 |
4 – 5 |
|
|
INHOUD |
|
|
|
|
|
STRUKTUUR EN TAAL Struktuur, logiese vloei en aanbieding Taalgebruik, toon en styl
|
|
|
|
|
|
MULTIMEDIA-GEBRUIK Die gebruik van ’n verskeidenheid artistieke en kommunikatiewe media. |
|
|
|
|
|
ESTETIKA Visuele indrukke met betrekking tot hoe die Padlet vertoon. |
|
|
|
|
|
TOTAAL |
/20 |
|||
Leerders het gedurende die aanlyn resensieles en skryftaak ’n verskeidenheid media en tegnologieë gebruik om met gehore buite die grense van die klaskamer te kommunikeer. Die doel van die assesseringsrubriek is vir leerders om van die intreevlak van die vaardighede na die teikenvlak te beweeg waar hulle ’n verskeidenheid multimediatekste doeltreffend gebruik om sodoende hulle gedagtes en idees op ’n vaardige wyse te kommunikeer.
Bibliografie
Departement van Onderwys. 2011. Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring (KABV). Pretoria: Staatsdrukker.
Greyling, F. 2017. Plekspesifieke digitale literatuur: samespel en wisselwerking in nuwe kontekste. LitNet Akademies, 14(2):147–89.
Hutchison, A en L Woodward. 2014. A planning cycle for integrating digital technology into literacy instruction. The Reading Teacher, 67(6):455‒64.
Koehler, MJ en P Mishra. 2006. Technological pedagogical content knowledge: A framework for teacher knowledge. Teachers College Record, 108(6):1017–54.
Partnership for 21st century learning (P21). 2017. https://www.battelleforkids.org/networks/p21/frameworks-resources (25 Junie 2019 geraadpleeg).
Puentedura, R. 2015. The SAMR model. http://hippasus.com/rrpweblog/archives/2015/10/SAMR_ABriefIntro.pdf (5 Februarie 2019 geraadpleeg).
Taylor, R en MF van der Merwe. 2019. ’n Behoefte aan die integrering van tegnologie in die Afrikaans Huistaal-klaskamer om die ontwikkeling van 21ste-eeuse vaardighede te ondersteun: ’n gevallestudie, LitNet Akademies, 16(1):295–340. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2019/06/LitNet_Akademies_16- 1_Taylor-VanDerMerwe_295-340.pdf (25 Julie 2019 geraadpleeg).
Lees ook:
Vervlegte leer as onderrig-en-leer-benadering vir die 21ste-eeuse leerder – ’n onderhoud

