Vervlegte leer as onderrig-en-leer-benadering vir die 21ste-eeuse leerder – ’n onderhoud

  • 0

Fotobron: Pixabay

Remona Voges gesels met Marné Pedro en Michele van der Merwe oor hul LitNet Akademies-artikel “Taalonderwysers se perspektiewe aangaande vervlegte leer as onderrig-en-leer-benadering vir die 21ste-eeuse leerder”.

Wat word beskou as vervlegteleerbenaderings? Kan julle asseblief ’n kort omskrywing verskaf?

Die konsep van vervlegte leer word algemeen aanvaar as ’n geïntegreerde benadering tot onderrig en leer. Dit bestaan uit tradisionele aangesig-tot-aangesig- en rekenaargesteunde, webgebaseerde of aanlyn benaderings. Die kuns verbonde daaraan is om die sogenaamde mengsel van benaderings reg te kry tot die beste voordeel van leerder en onderwyser.

Hoekom is dit van kardinale belang om onderwysers se perspektiewe in ag te neem wanneer vervlegteleerbenaderings ondersoek word?

Onderwysers is aktiewe denkers en besluitnemers wat ’n sentrale kurrikuleringsrol in die vorming van klaskameraktiwiteite speel. ’n Onderwyser se optrede spruit direk uit die perspektiewe wat hy/sy het, en gevolglik sal onderwyserpraktyke nie verander nie, tensy daar ’n betekenisvolle verandering in onderwyserperspektiewe plaasvind.

Julle fokus in jul navorsing op ’n spesifieke skool. Hoe het julle op dié spesifieke skool besluit?

Die betrokke hoërskool is ’n artikel 21-hoërskool in die Wes-Kaap wat al vir meer as 150 jaar onderrig van die hoogste gehalte lewer. Vir meer as 20 opeenvolgende jaar het die skool ʼn 100%-slaagsyfer in die NSS-eksamen. Dit is ’n tradisieryke skool met wye vakkeusemoontlikhede, goeie geriewe, goedgemotiveerde leerkragte en ’n beheerraad met die nodige visie. Die skool het ’n beleid vir die ontwikkeling van vervlegte leer in die skool opgestel en daarom het ons dit as ’n gulde geleentheid beskou om die onderwysers se perspektiewe aangaande die integrasie van vervlegte leer as onderrigleerbenadering te ondersoek.

Wat was jul agt respondente se oorwegende gevoel oor vervlegte leer?

Uit die agt deelnemende onderwysers is 62,5% positief ingestel oor vervlegteleerpraktyke en noem hulle dat die gebruik van tegnologie die klaskamer “pret” maak en die leerproses “verryk”. Die onderwysers beskryf hoe tegnologie deel vorm van hulle lewe en meen dat “as jy steeds vandag dink tegnologie het nie ’n rol om in die klas te vertolk nie, dan moet jy weer dink!”

Wat is vir onderwysers die grootste uitdagings ten opsigte van vervlegte leer?

Tyd, infrastruktuur en selfvertroue ten opsigte van tegnologiegebruik.

Tegnologie-gedrewe opvoedkundige praktyke in ’n Suid-Afrikaanse konteks is problematies omdat baie skole en leerders nie toegang tot tegnologie en die internet het nie. Hoe spreek mens dié probleem aan?

Dit is tans die vraag op almal se lippe, is dit nie? Dit is vir seker ’n belangrike vraag om aan te spreek, maar ook ’n komplekse vraag om te beantwoord. Dit is geen geheim dat aanlyn leer binne die sosio-ekonomiese konteks van Suid-Afrika met vele uitdagings gepaard gaan nie. Ons glo daarom dat die integrasie van vervlegte leer tog ’n meer haalbare onderrig-leer-benadering mag wees, omdat dit juis ’n vervlegting tussen tradisionele en tegnologiegesteunde praktyke is. Hierdie benadering laat gevolglik skole toe om e-leer-planne volgens hulle unieke skoolkonteks saam te stel.

Selfoontegnologie moet egter nie buite berekening gelaat word nie, en juis tydens die inperking weet ons van baie onderwysers wat deurentyd foto’s van leermateriaal, notas en take aan hulle leerders via WhatsApp stuur.

Die kwessie van duur data en ontoereikende netwerke behoort dringend deur die Suid-Afrikaanse regering opgelos te word. Die regering kan byvoorbeeld vennootskappe met selfoonverskaffers aangaan wat die hele land se jeug kan bevoordeel en verbeterde toegang kan bewerkstellig.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top