WF 2015: Hier is ons wenners!

  • 0

wfwenners2

Die beoordelaars het gewik, gekik en geweeg en op die wenners vir LitNet Akademies se tweede wetenskapfiksie-kortverhaalkompetisie besluit.

Die wenner van die 2105-kompetisie is Karla Muller! Haar verhaal "Gisters" het die beoordelaars se voete onder hulle uitgeslaan.

wenner250

"Gisters" deur Karla Muller

Koos Kombuis sê: ’n Heel nuwe invalshoek skep ’n boeiende en byna foutlose intrige. Die skrywer is duidelik nog onervare en daar kan gewerk word aan die verteltrant, maar hier is tonne potensiaal en baie talent.

Karla wen R4 000 kontant, ’n Kindle Fire-bondel ter waarde van R4 500 en ’n boekpakkie van LAPA-Uitgewers. Karla se skool, die Hoërskool Framesby, ontvang ook R4 000.

Karla het altesaam tien inskrywings ingestuur.

Thea Booysen van die Hoërskool D.F. Malan se verhaal "Die einde" het die beoordelaars net so beïndruk en besorg aan haar die tweede plek.

theabooysen

"Die einde" deur Thea Booysen

Elizabeth Wasserman sê: “Die einde” is ’n kompakte en komplekse vertelling wat lank na die lees nog jou gedagtes kan besig hou. Dit fokus op die verloop van tyd, die ewigheid van bome, en dan gaan dit weer vooruit na ’n toekoms waar die beskawing soos ons dit nou nog ken, vernietig is. Die hoofkarakter leef as ’n mutant, deels gemeganiseer, wat probeer sin maak uit die laaste paar oorblywende flardes van menswees.

Thea wen R3 000 en ’n boekpakkie van LAPA-Uitgewers.

In die derde plek is Handré Jankowitz van die Hoërskool Jim Fouché met sy verhaal "Tyd wag nie".

Handre

"Tyd wag nie" deur Handré Jankowitz

Eldridge Jason sê: ’n Lekkerlees-, oorspronklike storielyn vir wetenskapfiksie. Dit was lekker om ’n verhaal te lees waar daar so kundig en kreatief met tyd “gespeel” word.

Handré wen R2 000 en ’n boekpakkie van LAPA-Uitgewers.

Daar word ook twee merietepryse aan die vierde- en vyfdeplekwenners toegeken. Die ywerige jong skrywers wat hierdie prys wen, is Marilene Blom van die Hoërskool Strand en Juané Cronjé van die Hoërskool DF Malan. Hulle ontvang elk R1 000 en ’n LAPA-boekpakkie.

Marilene Blom

"Volgende" deur Marilene Blom

Fanie Viljoen sê: Marilene Blom draai evolusie op sy kop en vra met haar verhaal: Wat sal gebeur as die sagmoediges eerder as die sterkes voortaan oorleef? Die kanolabloeisel word deurgaans as motief voorgehou en word uiteindelik die simbool van hoop.

JuaneCronje

"Om die son te sien" deur Juané Cronjé

Elizabeth Wasserman sê: “Om die son te sien” handel oor identiteit. Dit voorsien ’n toekoms waarin mense eenvormig is en deur eksterne magte beheer word. ’n Ingesteldheid, die vermoë om waar te neem, word in die hoofkarakter gewek. Dit skep die moontlikheid vir ’n nuwe begin.

Een gelukkige onnie wen ook hierdie jaar ’n Kindle Fire-bondel ter waarde van R4 500. Dié onnie moes bloot twintig of meer van sy of haar leerders vir die kompetisie laat inskryf het.

Mnr Gert Visser, ’n adjunkhoof by die Hoërskool DF Malan, het met sy 21 inskrywings sy lekker prys verseker.

 

Fanie Viljoen

Fanie Viljoen was oor die algemeen baie beïndruk met die inskrywings. Hy het ook wyse raad vir jong skrywers: "Om ’n verhaal in hierdie kort formaat te skryf is seker van die moeilikste skryfwerk. Jy kan nie alles sê wat jy wil nie. Daarom moet jy besluit wat werklik nodig is. Elke woord moet tel. ’n 'kleiner' storiegegewe is soms makliker as om ’n epiese verhaal wat oor jare strek te skryf. Die finaliste het beslis almal talent. Hou aan skryf!"

 

eldridge650Oor die waarde van hierdie kompetisie sê Eldridge Jason: “’n Liefde vir skryf is kinders se sleutel. Nie net tot die deur uit hul omstandighede nie, maar ook die sleutel na hul drome. Ek glo dat kinders wat lief is vir skryf, lief is vir die lewe, mense en die dinge wat hulle ná aan die hart lê.

"’n Kind wat tyd maak om stil te sit en te skryf, ry onbeskaamd op die vlerke van sy of haar verbeelding.”

Elizabeth WassermanOok Elizabeth Wasserman het wyse raad vir voornemende skrywers: "Besluit wat die sentrale tema van jou storie is. Gaan dit oor die opoffering van liefde? Gaan dit om die dryf tot sukses? Daar is maar net ’n paar sentrale storielyne, maar tienduisende verskillende maniere om dit te vertel. As jy weet wat aan die hart van jou storie lê, kan jy dit meer suiwer oordra."

Jy kan nog van haar skryfwenke hier lees.

koosk600Koos Kombuis het die beoordeling net so geniet. Dat so baie leerders ingeskryf het, is ook vir hom verblydend.

"Die verhale was byna deurgaans boeiend en vol belofte. Ek is veral verbaas en gelukkig oor die groot getal vroulike deelnemers. Is dit ’n nuwe tendens wat begin is deur Lauren Beukes?"

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top