Wêreldboekedag is ’n jaarlikse instelling om boeke en die plesiere van lees op 23 April te vier. So behoort dit te wees, maar hierdie jaar wil ek die geleentheid gebruik om al die vergane biblioteke en boeke te herdenk, en hul bydrae tot kennis.
Net minder as ’n week gelede het die Universiteit van Kaapstad se Jagger-biblioteek, ook bekend as die Afrikastudies-biblioteek, afgebrand. Die leeskamer is net as. Die biblioteek is die tuiste van die UK se Spesiale Versamelings en skaars boeke asook die universiteitsargief. Die vernietiging het skokgolwe deur die universiteitsgemeenskap en akademici wêreldwyd gestuur en dit is ’n tragedie wat nog lank in ons geheue sal bly.
Vroeër hierdie jaar, op 27 Februarie, het die Suider-Strand-gemeenskapsbiblioteek tot op die grond afgebrand (Bessinger 2021).
Kaapstad alleen het twee biblioteke in ’n kwessie van twee maande verloor en daarmee saam honderde duisende boeke en kosbare navorsingsbronne. Ja, dit is ontsaglik hartseer en ’n tragedie oor al die kennis en mooi boeke wat vernietig is – maar daar is hoop.
Boeke is kennis, maar kennis word nooit vernietig nie. Dit word eintlik net vergeet, want iemand wat ’n boek gelees het voor die brand, besit steeds die kennis. Die eintlike vraag is wat met daardie kennis gebeur?
Ongelukkig het die oorspronklike kataloguskaarte vir die inhoud van die manuskripte en argiewe in die slag gebly, asook ongeveer 70 000 items in Afrikastudies se gepubliseerde versameling, en die hele Afrikastudies-filmversameling (ongeveer 3 500 DVD’s) is vernietig, wat beteken ’n groot deel van die UK se argief, rekords en versamelings is verlore.
Daar is gelukkig reeds begin met ’n projek vir die universiteitsbiblioteek om vas te stel of enige navorsers afskrifte, foto’s of enige kopieë van die boeke, kaarte of bronne het. Deel asseblief die hierdie skakel met iemand wat navorsing gedoen het by die biblioteek, of dit lank terug besoek het en dalk ’n foto geneem het. Dit sal die biblioteek help om weer hul rekords op te bou en van die materiaal tot ’n mate te herwin.
Ons sal nooit die oorspronklike materiaal terugkry nie, maar op hierdie manier kan daar inligting en kennis herwin word. ’n Brand wis nie kennis uit nie, slegs die plek waar kennis neergeskryf was. Alles is dus nie verlore nie.
Stories kan onthou word en kennis kan weer neergeskryf word. Ten spyte van die absolute tragedie vir die universiteit (my alma mater en werksplek), asook die internasionale gemeenskap se verlies, is ons in goeie geselskap.
Nee, niks omtrent hierdie afgryslike brand was goed nie. Tog plaas dit ons in ’n unieke en interessante posisie in die biblioteekgeskiedenis.
Hier is ’n lys van slegs vier ander biblioteke uit die geskiedenis wat ’n soortgelyke verdoemenis getrotseer het:
1. Die biblioteek van Alexandrië (48 vC)

Die biblioteek van Alexandrië (Bron: api.time.com)
Uit ’n lang lys van beroemde biblioteke wat weens vuur gesneuwel het, is die biblioteek van Alexandrië seker die bekendste. Die biblioteek het deel gevorm van ’n navorsingsinstituut in Alexandrië, Egipte wat bekend gestaan het as die Alexandrynse Museum (Mouseion: die heiligdom van die Muses).
Die biblioteek het ’n enorme aantal Griekse tekste sowel as ’n volle korpus Egiptiese rekords gehuisves. Daar bestaan ook bewyse dat die biblioteek geskrewe werk van ander nasies bevat het (El-Abbadi 2020). Dit was die eerste biblioteek wat ontstaan het uit die idee om ’n universele biblioteek te bou en kennis in te samel van regoor die wêreld en nie net die streek waar die biblioteek geleë was nie (El-Abbadi 2020).
Ongelukkig is hierdie biblioteek werklik totaal vernietig deur ’n brand in 48 vC, wat sommige kenners toeskryf aan die inval van Alexandrië deur Julius Caesar. Hy het beveel dat die Egiptiese vloot in die hawe aan die brand gesteek word. Die brand het toe na die biblioteek en die res van die stad versprei. Ons vind gronde vir hierdie veronderstelling in die werk van Plutargus, “Caesar was geforseer om die gevaar van vuur te gebruik, wat gelei het tot die verspreiding van die vuur vanaf die dokke en die Groot Biblioteek vernietig het” (El-Abbadi 2020).
2. Die Keiserlike Biblioteek van Konstantinopel (1204)

Die Keiserlike Biblioteek van Konstantinopel (Bron: quirkbooks.com)
Hierdie biblioteek het daarin gespesialiseer om derduisende geskrifte te transkribeer van Antieke Grieks op papirusvelle na meer stewige perkamentrolle (Thornburgh 2014). In 1204 het die biblioteek ’n teiken geword vir die Ridders van die 4de Kruistog nadat daar onmin ontstaan het omtrent die betaling van skepe vir die Kruisriddermagte. Konstantinopel is geplunder en die biblioteek is afgebrand en die artefakte wat die brand oorleef het, is verkwansel (Thornburgh 2014).
3. Die Kongresbiblioteek in die VSA (1814)

Die Kongresbiblioteek in die VSA (Bron: quirkbooks.com)
Vandag bevat die Kongresbiblioteek in Washington, DC meer as 38 miljoen boeke en is een van die belangrikste biblioteke in die VSA. Selfs hierdie enorme biblioteek het ’n vlammetragedie ondervind.
Op die aand van 24 Augustus 1814, het Britse magte onder die bevel van admiraal George Cockburn en majoor-generaal Robert Ross die onvoltooide VSA Capitol-gebou aan die brand gesteek (Out of the Ashes 2021). Ander openbare geboue is ook aan die brand gesteek, en hierby ingesluit was die presidentswoning (die Withuis) en die Kongresbiblioteek. Daar het niks van die inhoud van die biblioteek oorgebly nie. Ongeveer 6 487 boeke is ná die brand uit die versameling van Thomas Jefferson, die derde president van die VSA, oorgekoop om weer die biblioteek op die been te bring (Out of the Ashes 2021).
4. Die biblioteek van die Katolieke Universiteit van Leuven (1914 én 1940)

Biblioteek van die Katolieke Universiteit van Leuven (Bron: brusselstimes.com)
Asof dit nie tragies genoeg is dat ’n biblioteek een maal afbrand nie, het hierdie universiteitsbiblioteek twee maal afgebrand. Praat van sout in oop wonde. In 1914 het Duitse magte die stad Leuven aan die brand gesteek om vrees in te boesem by die Belge sodat hul nie die besetting van die stad sou teenstaan nie. Die biblioteek en verskeie ander geboue, is vernietig (Apelblat 2018).
In 1918 het die VSA gehoor van die vernietiging van die biblioteek en hulp aangebied met die befondsing, ontwerp en herbou van die biblioteek. Die bouwerk het sewe jaar geneem om te voltooi (1921–1929) en na verskeie skenkings en hulp van grootliks die VSA en hul onderskeie universiteite, was daar weer ’n biblioteek met 900 000 boeke (Apelblat 2018).
Met die Tweede Wêreldoorlog val Duitsland weer vir België binne in Mei 1940 en brand die biblioteek vir ’n tweede keer af. Gelukkig het ongeveer 15 000 boeke die brand oorleef en is die biblioteek vir ’n tweede keer herbou (Apelblat 2018).
Van biblioteek tot geheue
Daar word gereeld gesê dat ons moet leer uit die geskiedenis en dat die geskiedenis ’n nare gewoonte het om homself te herhaal – soos ons by hierdie biblioteke uit die verlede kan sien, waar van die geboue nie meer bestaan nie, maar die kennis behoue gebly het; waar ander se geboue herbou is en vandag nog staan, al het die tragedie hul twee keer getref. Alhoewel van die groot antieke biblioteke en groot dele van hul kennis gesneuwel het, is daar ’n glinstering van hoop vir die Jagger-biblioteek.
Biblioteke is nie net geboue nie, maar verteenwoordig ’n kollektiewe geheue. Stories en kennis is nie net in boeke en geboue nie, dit woon ook in ons herinnering en geheue – dié wat gesien, gelees en beleef het. Die ervaring om in die Jagger-leeskamer of, soos ons dit genoem het, die Afrikastudies-biblioteek, te sit en werk aan ’n semesteropstel of aan ’n hoofstuk van ’n tesis, het nie vergaan saam met die gebou nie. In die woorde van Ujala Satgoor, direkteur van die UK Biblioteke: "Although this loss will be felt deeply, we will weather this storm and rise from the ashes" (Satgoor 2021).
Die biblioteek rus steeds in ons geheue en die kennis sal weer opstaan uit die as.
Verwysings
Apelblat, M. 2018.The story of how Leuven’s jewel was twice destroyed and rebuilt. https://www.brusselstimes.com/news/magazine/52524/the-story-of-how-leuven-s-jewel-was-twice-destroyed-and-rebuilt (19 April 2021).
Bessinger, L. 2021. Kyk: Skok en hartseer na biblioteek afbrand. Netwerk24. https://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/kyk-skok-en-hartseer-na-biblioteek-afbrand-20210227-2#loggedin (20 April 2021).
El-Abbadi, M. 2020. Library of Alexandria. Encyclopedia Britannica. https://www.britannica.com/topic/Library-of-Alexandria (20 April 2021).
Kruistog. 2020. https://af.wikipedia.org/wiki/Kruistog (19 April 2021).
Out of the Ashes: A new library for Congress and the nation. 2021. Online Exhibition – Library of Congress. https://loc.gov/exhibits/out-of-the-ashes/online-exhibition.html (20 April 2021).
Satgoor, U. 2021. The loss of the Jagger Reading Room: A sad day for UCT Libraries. UCT Libraries. http://www.lib.uct.ac.za/news/loss-jagger-reading-room-sad-day-uct-libraries (18 April 2021).
Thornburgh, B. 2014. A very sad post warning: Six amazing libraries that were heartlessly destroyed. https://www.quirkbooks.com/post/very-sad-post-warning-six-amazing-libraries-were-heartlessly-destroyed (19 April 2021).