Dié kosbare versameling is gered

  • 6

’n Brand in ’n biblioteek is onbeskryflik erg, maar een in die Spesiale Versamelings waar dokumente, pamflette, foto’s, briewe, dagboeke en ander materiaal van onskatbare waarde en onvervangbare aard gehou word, is ’n historiese nagmerrie.

Niemand weet nog hoe erg die skade aan die Universiteit van Kaapstad (UK) se Spesiale Versamelings is nie, maar indien die skade aan die twee kelderverdiepings waar die skaarsste materiaal gehuisves word, noemenswaardig is, kan dit die land se grootste erfenisverlies wees.

Die helikopters het Sondag die hele dag oor ons huis gevlieg, aanhoudend, om water op die brandende Tafelberg en omgewing te stort. Nooit, ooit het ek dink die UK se Jagger-biblioteek wat dié versamelings huisves, sal in vlamme gehul word nie.

Eers het die brand die Rhodes-gedenkteken beskadig en die nabye kliprestaurant in puin gelê. Mostert se meul, wat in 1796 voltooi is, het afgebrand, en huise in die omgewing is beskadig. Die brand het vinnig na die UK se boonste kampus versprei en vele geboue beskadig. Altesame 4 000 studente wat op kampus was, moes inderhaas ontruim word.

En toe kom die eerste foto’s en video’s deur: Die Jagger-biblioteek is in vlamme. ’n Mens is sprakeloos geskok. Want in die rook is woorde en wyshede.

Dear Colleagues, staff, students and friends of UCT Libraries An unexpected natural disaster struck at the heart of UCT...

Posted by University of Cape Town Libraries on Sunday, April 18, 2021

 

Onder meer word die Afrikastudies-boekversameling daar gehou. Dié versameling bestaan uit 65 000 boeke oor Suid-Afrika en Afrika wat voor 1925 gedruk is – unieke volumes in verskeie tale. Daar is 26 000 pamflette, waarvan 800 uiters skaars en oud is. Binne die versameling is daar onder meer fokuspunte soos gender, media, MIV/vigs, Suider-Afrika se tale en debatte oor die aard van die studie van Afrika.

Die binnekant van die afgebrande Jaggerleeskamer van die Universiteit van Kaapstad, wat deel is van die Spesiale Versamelings. Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp

Binne die groot versameling is 1 300 kleiner subversamelings van individue met hulle persoonlike dokumente. Onder meer: sir Herbert Baker se 20 000 items met argitektuursketse, foto’s, waterverfskilderye en briewe. ’n Versameling van Distrik 6 met oorspronklike materiaal van mense se gedwonge verskuiwing. Duisende items van die skrywer C Louis Leipoldt, soos sy dagboeke, briewe en foto’s. En 300 sketse en waterverfskilderye van John en Charles Bell wat tydens ’n ekspedisie in 1834 in die binneland gedoen is. Die Black Sash se versameling; verskeie interessante vroue; navorsers en kleurvolle karakters – die lys is te lank om te beskryf.

Die volledige uitgawes van die Cape Argus (sedert 1857) en die Cape Times (1876) kan daar gelees word. Kaarte, tydskrifte, kunswerke, foto’s, joernale en plakkate. En dan is daar talle skaars boekversamelings. Een hiervan is die Bleek en Lloyd-versameling, wat uit 65 000 bladsye bestaan.

Ons sou basies niks van die San se gelowe, rituele, stories en intieme lewe met die omgewing geweet het as dit nie vir Wilhelm Bleek en sy skoonsuster Lucy Lloyd, en later een van Bleek se kinders, Dorothea Bleek, was nie. Hulle het die taal, kultuur, liedjies, kuns,  poëtiese stories en persoonlike geskiedenis van die San in tientalle dagboeke en verslae opgeteken.

Dié argief  is gelukkig grootliks digitaal beskikbaar gestel deur die UK, Unisa, die Iziko Suid-Afrikaase Museum en die Suid-Afrikaanse Nasionale Biblioteek, danksy befondsings van die Andrew W Mellon-stigting en De Beers. Dit kom danksy Pippa Skotnes van die Centre for Curating the Archive by die UK, wat die projek van stapel gestuur het.

Dinsdagmiddag het Skotnes in ’n verklaring gesê dié kosbare versameling is gered: “Al is daar baie waterskade in die kelder, is BC 151 veilig [dit is die katalogusnommer vir die versameling]. Ek weet julle sal my verligting en blydskap deel dat die wonderlike skat die brand oorleef het. Ongelukkig het van Dorothy Bleek se foto’s wat in die leeskamer was, in die slag gebly maar, dit is gelukkig digitaal bewaar. My Katolieke agtergrond laat my toe om my te verbeel dat dit weens ’n daad van intersessie was van die moeder van die versameling, Lucy Lloyd. Dankie.”

Bleek and Lloyd saved! I just got the wonderful news that while there is a lot of water damage in the basement BC 151 is...

Posted by Pippa Skotnes on Tuesday, April 20, 2021

 

Skotnes het aan Cape Talk gesê minstens een van die skaars boekversamelings is verlore. http://www.specialcollections.uct.ac.za/rare-and-antiquarian-books.

“Ons weet ook dat ons die Afrikafilmversameling van 3 500 items, dele van die regeringspublikasies en baie ander dinge wat op die boonste verdieping was, verloor het,” het sy gesê. Alles waaraan mense onlangs gewerk het, sou ook verwoes gewees het.

As ons die bronne gehad het om alles te digitiseer, sou ons, het Skotnes gesê. Maar dit is ’n stadige en duur proses.

’n Belangrike deel van die Bleek en Lloyd-versameling het die brand in Universiteit Kaapstad se Jagger-biblioteek...

Posted by Ena Jansen on Tuesday, April 20, 2021

 

Ujala Satgoor, uitvoerende direkteur van die UK se biblioteke, het Maandag op Newzroom Afrika gesê: “Ons is tans steeds besig om die volle omvang van die skade te bepaal, maar dit wat ons dadelik kon raaksien, is dat die Jaggerleeskamer totaal verwoes is.”

UCT Libraries' Executive Director, Ms Ujala Satgoor, being interviewed by Newzroom Africa, on Monday, 19 April 2021. https://youtu.be/bC0KPgiyfxY

Posted by University of Cape Town Libraries on Monday, April 19, 2021

 

Die feit dat die brand baie lank geneem het om te blus, het veroorsaak dat baie water in die area ingeloop het. Nou is die groot bekommernis die bedreiging wat dit inhou vir die twee kelderverdiepings daaronder. ’n Baie groot deel van die Spesiale Versamelings word daar gehou.

Die branddeure het wel betyds toegegaan om dié areas te beskerm, maar dit is nog onseker hoe erg die skade is. Die deure is onlangs ingesit.

“Ons het ’n wonderlike regeringspublikasieversameling gehad, nie net van Suid-Afrika nie, maar van verskeie lande op die vasteland. Die verlies is reusagtig,” het Satgoor gesê.

Sy het gesê daar is ’n prag daarin om met gedrukte, oorspronklike dokumente te werk. En dat die UK sal herbou en van die materiaal weer sal probeer kry. “Maar ons het nooit gedink so iets sou gebeur nie.”

Somadoda Fikeni, ’n politieke ontleder, het aan Newzroom Afrika gesê  enige spesiale versameling is kosbaar in terme van die erfeniswaarde en kennis. Jy kan jou die verlies nie voorstel nie.

Hy het gesê hy moet beklemtoon dat van die versamelings nie noodwendig antikoloniaal is nie. Daar is ’n mengsel, maar dit laat mense toe om te verstaan wat aangegaan het. Dit bevat die essensie van die oorgang na onafhanklikheid en gee ’n blik op die hede. Die taak is wel daar om Afrika se geskiedenis en narratief weer te gee, en ook die bronne as verwysing te gebruik.

Fikeni sê dit gaan nie daaroor om alles van die verlede te verwoes nie, glad nie, maar oor ’n sinvolle debat tussen verskeie narratiewe van wat in die verlede was. “As jy sê kom ons verwoes alles van die verlede, kan jy dalk sukkel met die waarhede van vandag, want die volgende groep wat ongemaklik voel, sal dít weer verwoes.” Hy het gesê daar moet gekyk word na beskawings wat sterk is, onder andere die Joods-Christelike beskawing, die Chinese en die Indiese beskawing – “hulle hou rekords wat duisende jare terug strek”.

Maar mense wat oorwin is, neig soms om rekords te wil verwoes, onder meer in Afrika, en inheemse mense in Amerika. “Van die rekords wys hoeveel slawe ingebring is. Wil jy dit verwoes?”

Populisme het die ernstige diskoers vervang, sê hy. Net omdat Afrikanisering na vore getree het, beteken dit nie ander moet verwoes word nie. Elke generasie moet hulle eie interpretasie kan maak van die geskiedenis en geen generasie het die reg om vir ’n volgende te besluit nie.

Satgoor stem saam dat geskiedenis nie gesaniteer kan word nie. Dit laat jou loer na die verlede, maak jou oë oop vir die hede en vir die potensiaal van die toekoms. Jy kan dit net doen as jy toegang het tot versamelings wat nie gesensor is nie.

Volgens Fikeni is daar ’n romantiese blik op argiewe, maar soms steek dit inligting in die kelders weg, eerder as om dit te reproduseer. Dit moet digitaal en wyd beskikbaar gestel word, sodat iemand in die platteland op sy selfoon toegang daartoe het. “Solank as wat jy sê: ‘Moenie aanraak nie’, sal dit kwesbaar wees vir water, brand en onkunde.”

Die UK het Woensdag bevestig dat al 70 000 gedrukte items van die Afrikastudiesbiblioteek se gedrukte versameling verwoes is, al die UK-universiteitskalenders, ’n groot deel van die regeringspublikasies, en die manuskripte en dokumente wat in die leeskamer was.

UCT recognises the loss at the Jagger Reading Room following the devasting fire on Sunday, 18 April, writes VC Professor Mamokgethi Phakeng: https://bit.ly/3aqZpCo

Posted by University of Cape Town on Wednesday, April 21, 2021

 

Nog ’n reuseverlies is die oorspronklike kaartkatalogusse vir die manuskrip- en argiefbewaarplekke, die geskiedenis van die UK se biblioteek, die spesiale versamelings se kantoor en die administratiewe rekords.

Daar word verwag dat daar oorblywende waterskade in die twee kelderverdiepings sal wees.

Lees ook op LitNet en Voertaal:

Die mense wat ’n sterwende taal opgeteken het

Heritage to ashes, dust to dust

Universiteit Kaapstad-brand

 

  • 6

Kommentaar

  • Gelukkig is alles nie verwoes nie. Dis klaar erg genoeg dat so baie van ons geskiedenis verdwyn.

  • Avatar
    Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Trompsburg/Reebok)

    Ek is 'n kerk- en kultuurhistorikus, skrywer en antikwariese versamelaar en wil weet of die unieke teologiese versamelings van ds. HW Ballot en ds. JJ Kicherer behoue gebly het. Dit is in 1945 deur die Universiteit van Kaapstad aangekoop en is 'n belangrike voorbeeld van 'n plattelandse boekversameling, wat 170 jaar lank in een predikante-familie se besit gebly het. Die brand is 'n belangrike wekroep aan elk boekliefhebber en versamelaar om nuut en innoverend te dink hoe om ons versamelings te beskerm en veilig te bewaar vir die nageslag.

  • Ek sal op hoogte bly van die verwikkelinge, kan jy dalk net vir my se waar die versamelings gehou is. Was dit in Jagger? En indien so, was dit in die kelder, wat uit twee verdiepings bestaan?

  • Avatar
    Gerrit Boonstra

    Groot dank aan Elsabe Brits vir hierdie artikel wat sy saamgestel het uit 'n wye verskeidenheid van bronne. Tot my skaamte het ek nie geweet (of besef) van die meeste van hierdie versamelings van onvervangbare waarde nie. Maar ek is verheug oor die pogings van talle mense wat die inligting op ander platforms oorgeplaas het en dit so bewaar, maar ook sodoende toeganklik gemaak het vir 'n wyer publiek waardeur die ware geskiedenis (in teenstelling met 'n nuwe populistiese een) steeds vir die toekoms beskikbaar is.

  • Avatar
    Annora Eksteen

    Ja, ek kan dit alles ook nie eers begin om in te neem nie. Dit is bitter, bitter swaar as mens boeke, dokumente, foto's en ander memorabilia verloor. As die onskatbare geskiedkundige bewaarstukke nog in 'n argief was waar dit veilig behoort te gewees het - nog ontelbaar keer erger. Mens kan maar net rou oor 'n lydende Kaapstad nou en 'n lydende Covid-aarde en ek kan maar net dink dis die lewe: aanvaar, staan op uit die as, tree vir tree, indien nog moontlik, en probeer positief aangaan. Ek wens al die mense wat daar werk en studeer en navorsing doen alle alle sterkte toe. Baie dankie vir hierdie insiggewende skrywe. Ek deel dit op Facebook.

  • Avatar
    Gerrit+Boonstra

    Die Griekse begrip "apokolips" se betekenis is om te ontbloot, on die sluier te verwyder. Gewoonlik word sulke akopoliptiese gebeure as negatief ervaar, dat die bestaande vernietig word. Maar eintlik is dit positief, want in wese word daar ruimte geskep vir nuwe ideas, 'n nuwe paradigma om die plek van die oue in te neem. Die taal, metafore en beskrywng doen mens se begrip geweld aan. Ons leef nou in so 'n era van vernuwing, 'n paradigmaskuif. 'n Pandemie wat die mensdom laat besef jy is nie in beheer nie, maar nietig; 'n aarde wat ly onder die mens se geweld, brande, droogtes, aardbewings, oorlog, korrupsie, onrus, noem maar op. En dit skep die ruimte vir die profeet, daardie mense wat die Groot Prentjie kan sien, met visie, met insig, wat vir ons 'n nuwe, positiewe uitsig skep. Mag ons hulle ryklik hier op LitNet vind; die boodskappers van hoop, geloof en liefde , die drie-eenheid waarvan die liefde die grootste is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top