Universiteit Kaapstad-brand

  • 6

Dele van die Universiteit Kaapstad se hoofkampus, ’n ministerswoning en die historiese Mostert se meul is gistermiddag in ’n versengende brand verwoes. Alle studente is van die hoofkampus verwyder en is by vrywilligers uitgeplaas. Talle mense het hulle huise oopgemaak. Ons het self ook ’n “vlugteling” in die huis.

Verskillende instansies, waaronder Old Mutual, Pick n Pay, Engen SA en Woolworths het reeds bydraes gemaak. Gift of the givers het 4 000 maaltye beskikbaar gestel, en duisende individue het ook reeds bydraes gemaak om die studente by te staan.

Denneplantasies brand eerste

Die vuur het die denneplantasie om die universiteit en ’n groot deel van Tafelberg in puin gelê. Die restaurant naby die Rhodes-monument is ook verwoes.

Die rook was dig en vlamme in die denneplantasies was versengend warm.

Toe dit veilig genoeg was om in te gaan, het ek versigtig van my drafpaadjies gaan verken. Waar daar eens ’n bos was, is nou net puin.

Mostert se meul en die ministerswoning vernietig

Twee historiese gedenkwaardighede is totaal vernietig.

Mostert se meul, wat nog in ’n werkende toestand was en waar daar gereeld meel gemaal is, is totaal verwoes. So ook die pragtige, historiese ministerswoning daarnaas.

Teen laataand het beide steeds gebrand.

Die kampus brand

Die universiteit se hoofkampus is erg verrinneweer.

Die brandweer het eers teen 19:00 verklaar dat die binnekant van Fuller Hall, een van die koshuise, nie meer brand nie.

Toe was die vlamme nog steeds sigbaar in die biblioteek, en brandweerpersoneel was nog besig in die dak van die HW Pearson-gebou.

Dit sal waarskynlik dae neem om te bepaal wat vernietig is en wat nie.

Die brand is ten dele gekeer toe branddeure en -mure outomaties van die besondere versamelings probeer beskerm het, maar daar is baie duisende liter water en skuim uit vragmotors en helikopters op die gebou neergelaat en deur vensters na binne gespuit.

Toe ek laataand op kampus geloop het, was daar orals nog brandalarms wat geloei het en by een gebou het ’n outomatiese stem oor en oor gesê: “Attention all personnel. This is not a drill.”

Helde

Die brandweer en die nooddienste was puik. Veel meer geboue sou verwoes gewees het as dit nie vir die geweldige werk van die nooddienste was nie.

Laataand brand die berg nog

Toe dit donker word, moes ek ophou foto’s neem op kampus, maar soos ek teruggeloop het, was die bos nog aan die brand. Orals kon ons bome hoor val. Brandweerpersoneel was steeds besig om vure te blus.

Teen Sondagaand 21:00 was daar nog vlamme sigbaar tot teen die berg se hange.

Lees ook:

Heritage to ashes, dust to dust

Vlammesee saai verwoesting om Tafelberg

  • 6

Kommentaar

  • I salute our firefighters a compliment the people who gave the students a safe place to sleep a feed them. this is really a very sad day, May Allah protect all residents who live nearby, I pray that it he fire will be brought under control soon insha-ala

  • Helena Du Toit

    Ek kan net namens Kaapstad DANKIE sê aan een en elk wat hard gewerk het om die brande af te weer van geboue en huise. Dankie aan elke brandweerman en -vrou, asook elke helper en die nooddienste. Dankie vir almal wat die nodige water en ander goed aangery het. Ons dank die Heer dat daar geen menseverlies was nie. Sterkte vir die pad vorentoe.

  • Dit is so 'n plesier om perfekte Afrikaans te lees! Ek het die skrywe terdeë geniet. (van 'n soutie.)

  • Andries G H van der Walt

    Nie net die geboue en die berg is getraumatiseer nie. Wat van die studente, die dosente en die werknemers? Kan wees dat hulle ook "uitgebrand" is, want dit is nie hoe mens verwag om 'n nuwe akademiee jaar te begin nie. Sal die fisieke en geestelike skade wat nie net aan die unversiteit en studente gedoen is nie, maar ook die inwoners wat voor die vlamme moes vlug, ooit werklik herstel kan word? Ikeys sal nooit weer diesefde wees nie. Een van die mooiste universiteitskampusse in die land.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top