Week van de Afrikaanse roman 2019: onderhoud met Riana Scheepers

  • 0

Riana Scheepers gesels met Naomi Meyer oor die Week van de Afrikaanse roman, waar sy binnekort optree.

 

Riana, was jy al vantevore by ’n Nederlandse fees en, indien wel, wat was jou ervaring? Of, vertel my van jou vorige reise en ervarings in Nederland.

Ek het al verskeie feestelike boekegeleenthede in Nederland en België bygewoon. Met my heel eerste besoek aan Nederland (dit was in 1992), het ek die Feministische Boekenbeurs bygewoon (aangebied by die Beurs van Berlage). Ek het in verwondering gesit en luister na interessante en dinamiese (en ’n paar rare) vroue vanoor die hele wêreld.

Ek was ook die eerste Afrikaanse student wat die kursus Nederlandse Taal- en Letterkunde by Breukelen bygewoon het. My dosente, wat nog nooit Afrikaans gehoor het nie, het nie geweet wát om met my te maak nie! Ek het volgens hulle óf uitstekende Nederlands gepraat, of een of ander rare dialek wat vir hulle baie grappig was.  

............

“My lewe is verryk en verruim deur die landskap en die mense van die Lae Lande.”

............

Sedertdien was ek by ’n hele paar Boekenbeurse, in Nederland en in Antwerpen, Biblioteek-feeste, literêre geleenthede, selfs by die Opening van die Vlaamse parlement (waar ek ’n paar gedigte voorgelees het).  

Die Lae Lande en sy mense lê diep, diep in my hart. Omdat my literêre werk in Nederlands vertaal is, het ek die uitsonderlike voorreg gehad om ’n groot verskeidenheid mense te ontmoet: uitgewers, vertalers, letterkundiges, skrywers, lesers, akademici, boekwinkel-personeel, joernaliste, almal van hulle kultuurmense. 

Van my innigste vriende is Nederlanders, of Vlaminge. Ek en my vertaler, Riet de Jong Goossens, is al vriende sedert die negentigerjare, so ook my vriendin Lidewijde Paris, wat die redakteur van my boeke was. ’n Vriendin met wie ek al langer as 15 jaar korrespondeer, het ek ontmoet terwyl ons in die tou gewag het vir die Boekenbeurs se deur om oop te maak.  

Mieke is maar één van die spesiale vriendinne. My lewe is verryk en verruim deur die landskap en die mense van die Lae Lande.

’n Mooi storie: Ná ’n radio-uitsending waar ek oor een van my boeke gepraat het, het ’n Den Haagse advokaat-kantoor my gekontak om vir hul personeel ’n lesing te kom gee. Toe die geagte advokaat met my kontak maak, het hy gesê hy het na my stem oor die radio geluister en gedink: Liewe hemel, dit is Marike van Nijmegen wat daar praat!

Stormkind is jou mees onlangse boek en word ook nou benoem vir die kykNET Rapport-filmprys vanjaar. Wil jy iets oor hierdie boek en jou navorsing daaromtrent vertel?

My geaardheid is om ál my aandag aan ’n projek te gee en relatief vinnig te werk. My vorige roman, Blinde Sambok, het ek in vier dae geskryf. Omtrent deurnag, vir 4 dae lank. 

Stormkind het my amper uitgeknikker. Ek het vir ’n week lank in ’n huis by die see gaan sit, en ongeveer 120 bladsye van die boek geskryf. En toe slaat (soos my ouma altyd gesê het) die doodse gedaantheid my. Ek kon nie verder nie ... Ek het besef dat ek uiters delikaat te werk moet gaan met my gegewe, ek het besef ek moet katvoet loop. 

Die Boesmandogtertjie in Stormkind, met die naam !Xhuri, is die karaktertjie wat alles en almal saambind in ’n ragfyn spinnerak van verhaal en herinnering – en deernis. Dit is baie maklik om in die slaggat te trap van kulturele arrogansie of kulturele oorname (ek háát die term kulturele appropriasie), in hierdie geval die verhaalskat van die Boesmans.

............

“Ek gaan beslis nie Nederland toe om te gaan rus nie – ek gaan elke moontlike aanbieding van my mede-skrywers bywoon. Dit is ’n uitsonderlike, en uiteenlopende groep skrywers, ek kan nie wag nie!”

............

Maar ek was nog nooit ’n skrywer wat bang was vir my gegewe nie – as jy nie ’n dapper skrywer kan wees nie, moet jy dit maar liewer los. Maar dit het eerlikwaar gevoel asof hierdie verhaal groter is as ek. 

Ek het die argiefmateriaal van Wilhelm Bleek en Lucy Lloyd in Pippa Skotnes se seminale werk Claim to the country bestudeer en beleef ... en toe nóg banger geword. Ek het met die Boesman-gemeenskap gesels, en geleer dat hulle Boesmans genoem wil word, nie San nie.

Terselfdertyd het ek die Ierse mitologie en hul sprokies bestudeer – hulle verhale is nét so mooi soos die Afrika-sprokies. En ek was diep onder die indruk van die liriek en skoonheid van die Suid-Amerikaanse sjamaan-digters.  

Dit is hierdie aardse oer-liriek van die sjamaan wat die toonaard is van Stormkind.

Jou boeke word raakgesien vir film, want ek dink ook aan die onlangse Meerkat Maantuig wat uit ’n boek ontstaan het wat jy geskryf het. Wat was jou betrokkenheid by die film, of wat het jy hiervan gedink? (Ingrid Glorie laat weet my Meerkat Maantuig wys tydens die openingsmiddag Kinderboekenweek in OBA (sentrale biblioteek, Amsterdam) – goeie nuus!).

Dit is vir my as skrywer ’n enorme kompliment as ’n ander kunstenaar, soos ’n filmmaker, sanger, skilder, my teks as inspirasiebron sien en dit gebruik in ’n nuwe kunsvorm.

Ek was nie betrokke by die verfilming van Meerkat Maantuig nie (dit is gebaseer is op die roman Blinde Sambok).

Ek het vir Hanneke Schutte vertrou, want sy is ’n briljante filmmaker. Die feit dat die film nou reeds 5 internasionale pryse gewen het (in Duitsland, Amerika en Rusland – en in Suid-Afrika) bewys dit.  Ek kry bietjie skaam as mense mý gelukwens met die film se sukses, want alle eer moet gaan aan Hanneke en haar filmspan.

Wat wil jy vanjaar by die Week van de Afrikaanse roman gaan bywoon? Of na watter programonderdele sien jy uit? Gaan jy dalk nog kans kry om te reis terwyl jy oorsee is?

Ek gaan beslis nie Nederland toe om te gaan rus nie – ek gaan elke moontlike aanbieding van my mede-skrywers bywoon. Dit is ’n uitsonderlike, en uiteenlopende groep skrywers, ek kan nie wag nie! 

Ek gaan reeds tien dae voor die Week van de Afrikaanse roman Amsterdam toe, want ek gaan ’n skryfkursus aanbied vir ’n groep Nederlanderse kursusgangers wat my genooi het – in ’n mooi ou kasteeltjie op die grens van Frankryk. Ek gaan dit in Afrikaans doen! 

Dit is altyd ’n opwindende proses om met kreatiewe mense te werk. Dit is vir my die grootste inspirasie om te sien hoe iemand se lewe nuwe dimensies verkry deur middel van die letterkunde.

Twee jaar gelede het ek ’n skryfskool bygewoon in Ierland, op daardie fantastiese klip-eiland Inis Mór met sy ruïnes en sy spoke – en Druïdes wat steeds daar woon. Moenie dink ek weet alles nie, maar ek het ontsaglik baie geleer.

Met watter projekte is jy op die oomblik besig?

Ek is bietjie van ’n verkleurmannetjie as dit kom by die letterkunde. ’n Rukkie gelede het ek saam met die sangpaar Coffee Snobs (Vernette en Marius Wessels) ’n musiekproduksie saamgestel: Donkernagpantoen, die reis van vers na liriek

Ek het ’n paar ou digvorme, soos die pantoen, vilanelle en aubade vir hulle geskryf wat Vernette getoonset het. Dié produksie kry net die hoogste lof – iets waarop ek baie trots is.

Ek is besig met ’n nuwe produksie saam met hulle, maar intussen spook die spookperde van die mooi dorpie Kaapsche Hoop ook met my. Daardie sleepmerries wat so uit die mis verskyn – en verdwyn.

Ek is besig met die spoke, hulle los my nie.

............

’n Lys toekennings van die film, Meerkat Maantuig: 

  • Winner FIPRESCI Critics Prize at the Schlingel Film Festival, Germany
  • Winner Best International Feature at the Schlingel Film Festival, Germany
  • Winner Best Cinematography Silwerskerm Festival
  • Winner Festival Honors Award for Outstanding Achievement in Filmmaking - Feature Film, Newport Beach Film Festival, USA
  • Winner Best Film for Children and Youth - Spirit of Fire Film Festival, Siberia, Russia
  • Winner Best Cinematography, SAFTA (South African Film and Video Awards)

............

Riana Scheepers treedt tijdens de Week van de Afrikaanse roman op:
  •  Vrijdag 20 september: openingsavond, B-Unlimited, Centrale Bibliotheek, Spui 68, Den Haag
  • Zaterdag 21 september: by Andries, Buiten Molenstraat 7, Culemborg
  • Zondag 22 september: PEN spreekt, De Balie, Kleine Gartmanplantsoen 10, Amsterdam
  • Dinsdag 23 september: koffieochtend voor Zuid-Afrikaanse expats, Zuid-Afrikahuis, Amsterdam
  • Woensdag 24 september: Afrikaanse literatuur centraal, De Krook, Gent
  • Donderdag 26 september: Vlaams-Nederlands Cultuurhuis deBuren, Leopoldstraat 10, Brussel
  • Vrijdag 27 september: letterkundig symposium, Universiteit van Amsterdam, Amsterdam
  • Vrijdag 27 september: Herman van Veen Arts Center, Landgoed De Paltz 1, Soest
  • Zaterdag 28 september: Hartklop Genootschap, Franz Tielemanslaan 8, Leuven

............

Lees ook 

Week van de Afrikaanse roman 2019: onderhoud met Valda Jansen

Week van de Afrikaanse Roman 2019: onderhoud met Frazer en Deniel Barry

Week van de Afrikaanse Roman 2019: onderhoud met Eben Venter

Programma: Week van de Afrikaanse roman 2019

Coffee Snobs en Riana Scheepers: Die reis van vers na liriek ‒ ’n LitNet-lesersindruk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top