Week van de Afrikaanse roman 2019: onderhoud met Eben Venter

  • 0

Eben Venter is een van die deelnemers aan vanjaar se Week van de Afrikaanse roman. Hy gesels met Naomi Meyer oor sy skryfwerk en besoek aan Nederland.

Hallo Eben, jy is ’n Suid-Afrikaner wat al jare lank in die buiteland woon. Speel Suid-Afrika nog steeds vir jou ’n belangrike rol wanneer jy skryf – temas en omgewing en sosiale/maatskaplike kwessies? Voel jy jy is nog in voeling met huidige Suid-Afrikaanse gebeure, of voel jy dat jou skryfwerk nou baie ingestel is op die omgewing waar jy jou nou bevind?

Woon sedert 1986 in Australië, my restaurantjare strek van daai tyd af tot ná 2000. Toe vir ’n paar jaar op die mooiste aarde, die Groot Karoo. Maar die onrustigheid van Suid-Afrika het my partner gevang. Grootgeword gedurende die Troubles in Belfast, Noord-Ierland, het hy nie vir sulke goed ook nog kans gesien nie. Nou woon ons op die verre noordoostelike kus van Nieu-Suid-Wallis. Ek bly burger van beide lande, best of both, en omdat ek dikwels in Suid-Afrika kom vir werk en familiekuiers, voel ek my eintlik meer geborge hier as daar onderkant. Daar het egter altyd uitstekende geleenthede na my kant gekom, bv die beurs om my PhD by die Universiteit van Queensland te doen. 

Iemand soos Koos Prinsloo het destyds baanbrekerswerk gedoen op die gebied van gay skryfwerk. Maar hy het destyds ook baie kritiek daarvoor ontvang. Tot watter mate het sy skryfwerk jou beïnvloed?

Altyd vir Koos Prinsloo bewonder vir sy slim, woord-spaarsamige en uitdagende stories, maar teen die tyd dat ek Ek stamel ek sterwe geskryf het, het ek ’n eie stem gehad om daardie storie te vertel. Met my afgelope Groen soos die hemel daarbo het ek seksualiteit tot op sy kaalbeen ontgin, en nou is ek daarmee klaar. My nuwe roman sal ’n volkome ander rigting inslaan. 

Beskou jy jouself as ’n postmodernistiese skrywer en brei dalk uit daarop, as jy wil?

Al wat ek hierop wil sê, is dat ek met elke roman iets nuuts waag. Daarmee bedoel ek dat ek telkens ’n gans ander storie vertel - vergelyk bv Begeerte met Santa Gamka - en aan die vorm van die roman torring. 

Gaan jy nog iets by die Week van de Afrikaanse roman bywoon en is daar iets wat vir jou uitstaan op die program?

Dit sal vir my heerlik wees om soveel van die aanbiedinge by te woon in Nederland en België. Wat ’n voorreg! Ek bied self ook ’n lesing en foto-uitstalling by die Rijksuniversiteit van Groningen aan. Die titel is Translate yourself, en hiermee wil ek aantoon hoe jy ervaringe oorkarwei tot geskrewe woord, en hoe jy daardie teks van een taal na ’n ander “karwei” of vertaal. Die versameling van 49 foto’s komplementeer die teks as ’n argief waaruit en waarvan die storie gebou word. (Ek sluit drie foto’s as illustrasie in). 

Hoe bly mens op hoogte van Afrikaanse letterkunde, en hoe gaan jy te werk om op hoogte te bly? Want jou mark is sekerlik steeds die Afrikaanse mark, wat voortdurend aan die ontwikkel en verander is. Skryf jy vir ’n ideale leser, of ’n leser van ’n bepaalde land, of hoe dink jy oor skryf en vir diegene vir wie jy skryf?

Lees en skryf. My joernale, trek nou by nommer 14, hou ek daagliks by, in Engels of Afrikaans, hang af hoe die ervaring of waarneming ditself aanbied, en ek lees steeds nuwe, en klassieke, Afrikaanse werk. Pas Breyten Breytenbach se nuwe gekoop, dis eintlik meer oorpeinsinge as gedigte, en dit verg stilwees om daarby stil te staan. Ook Harry Kalmer se laaste werk aangeskaf. 

Wolf, wolf pak ’n universeel-bekende vader-seun-verhouding aan, met die storie van die Kongolese vlugteling daarby ingeweef. (Jeanne-Marie Awotwi-Jackson het verhelderend hieroor geskryf in haar artikel: “Reading for the region in new African novels: flight, form and the metonymic ideal”.)

Green as the sky is blue speel ook in verskeie wêreldstreke en -stede af, ’n privaat soort storie en lesers in Australië, Suid-Afrika en Amerika het graag daaroor met my gepraat.

My nuwe boekprojek pak sonder twyfel ’n huidige, wêreld-relevante tema aan. Ek gaan die storie in Engels skryf en dit dan “huis toe bring” deur dit in Afrikaans te vertaal. 

Lees ook

Week van de Afrikaanse roman 2019: onderhoud met Valda Jansen

Week van de Afrikaanse roman 2019: onderhoud met Riana Scheepers

Week van de Afrikaanse roman 2019: onderhoud met Frazer en Deniel Barry

Programma: Week van de Afrikaanse roman 2019

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top