Week van de Afrikaanse roman 2019: onderhoud met Frazer en Deniel Barry

  • 0

Frazer en Deniel Barry vertel vir Naomi Meyer van die Week van de Afrikaanse roman waar hulle binnekort optree.

Tribal Echo

Frazer en Deniel, julle vertrek binnekort na die Week van de Afrikaanse roman in Nederland. In 2018 het jy hoofsaaklik gekom vir die Krotoa-vertoning, Frazer; jou optrede by die Festival was ‘n voorsmakie daarvan. Daarby het julle saam opgetree tydens die Groot Wasgoedlyn-finale. Wat hou julle program hierdie slag in, op besoek aan die Week van de Afrikaanse roman?

Frazer: Ek was baie gelukkig om die afgelope paar jare by uiteenlopende dissiplines van kuns en kultuur in Nederland betrokke te wees. Met die Week van de Afrikaanse roman is ek en Deniel hier vir ons bydrae tot digkuns, literatuur, musiek en toonsettings, ons kulturele vertolking en klankbaan van ons land sowel as die kulturele bande wat ons al met Nederland gesmee het. Omdat ons so ’n wye verskeidenheid van skryf-dissiplines beoefen, sien ons weereens uit na die uiteenlopende platforms wat wissel van literatuur, kuns en musiek.  Daar is besoeke aan België, Den Haag, Amsterdam, Culemborg, Leuven en ander plekke, om slegs ’n paar te noem. Ons besoek, neem deel aan gesprekke en tree op by teaters, universiteite, sowel as in informele spasies soos byvoorbeeld by ’n restaurant.                                                                                                                     

Frazer, hoe het jy die ontvangs van die Krotoa-vertoning deur die Nederlanders verlede jaar beleef? En waarna sien jy uit as jy nou weer Nederland toe gaan, en hierdie keer ook Vlaandere gaan besoek? 

Om die storie van Krotoa, Eva Van de Kaap op te voer was besonders om verskeie redes. Eerstens leef ons as Suid-Afrikaners verskriklik naby die koloniale verlede. Ons verwerk nog steeds die VOC en Jan Van Riebeeck en ons voorouers se  nalatenskap, die merke en wonde van verlies van identiteit, grondverlies en die soeke na die oorsprong en krag van ons kulturele nalatenskap. Dit was deur hierdie lense wat ek as akteur en musikant myself in Nederland voor die gehore moes verwoord en die vertoning moes opvoer. Tweedens is die deursnee Nederlander nie so naby aan Jan Van Riebeeck nie en was die VOC  se handel vir die Nederlanders ’n goue tydperk as gevolg van die seeroetes na die Ooste. Krotoa was dus vir die Nederlandse gehore ’n wonderlike openbaring, maar ook ’n beeld van tragedie met betrekking tot die kolonisering van die Kaap. Die terugvoering was wonderlik en geweldig positief. Buiten my rolle as Doman en Oedasoa, die twee Khoi helde, het ek ook saam met Jef Hofmeister van Volksoperahuis die klankbaan geskep. Die Hollanders was ook baie gefassineer deur die unieke musiekinstrumente en klanke.

Julle gaan onder meer fragmente uit julle Adam Small-vertoning in Nederland en Vlaandere opvoer (hierdie program kom uit 'n vorige jaar). Dalk kan julle hierop uitbrei. En hoe dink jy praat Adam Small vandag met 'n gehoor dwarsoor die wêreld?

Oom Adam Small (RIV) een van Afrikaans se grootstes ooit, se werk is tydloos. Ek het seker sowat drie jaar gelede amper in een week sowat 14 toonsettings van Oom Adam se werk gedoen nadat hy vir my ’n kopie van sy bundel self onderteken het. Ek het na die digwerk gekyk en Oom Adam se lewe goed ondersoek. My navorsing gedoen en toe was daar sekere dinge wat soos die son deur die wolke gebreek het. Die tema wat die hardste met my gepraat het en ook my musikale sleutel of interpretasie vir hierdie toonsettings was, is die tema van tyd. Ek was veral geïnteresseerd in Oom Adam se omgewing en tydperk van bestaan se “geluide/geraas/klankbaan.” Die wêreld van informasie wat ek ontvang het tydens hierdie tydperk van intensiewe ondersoek het ’n blywende impak op my lewe gemaak met al die emosie wat ek moes verwerk. Sy skryfwerk was besonders rou in emosie. Hierdie rou emosie was die standaard vir die toonsettings ook. Ons het met hierdie toonsettings die produksie Adam Small: Ons salueer jou, by verskeie literêre feeste in die land opgevoer. Oom Adam raak soveel uiteenlopende temas aan waarmee die wêreld vandag nog sukkel. Temas soos die regeringsuitdagings, identiteitskrisse, rasseverhoudings, die lief en leed van die armes sowel as die persoonlike wroeging van mense met hul eie bestaan in hierdie komplekse veranderende wêreld. 

Waarna sien julle uit op die Week se program?

Ons sien uit na elke geleentheid op ons program omdat dit so uiteenlopend is. Indien ons maar net enkele kan opnoem: Ons sien baie uit na ons tyd saam met Els Moors, die Belgiese digter. Ek (Frazer) het vroeër hierdie jaar haar gedig oor klimaat, Dis Heet, Dis Sweet getoonset. Ons hoop om my toonsetting van haar gedig in België op te voer. Dan kan ons ook nie wag om in Bijlmer Teater by Bijlmer Boekt op te tree nie. Ek en Deniel het die skrywer, Christine Otten, by die Vrystaatse kunstefees ontmoet waar ons saam op die verhoog opgetree het. Dit is veral lekker om weer oor die taalgrense te kan skep. Ons kan ook nie wag om die kurators van die groot uitstalling oor die NL slawerny wat in 2020 is, te ontmoet nie. Ons gaan ook die Vlaams Letterenhuis besoek.

Kuns in al sy gedaantes en taal in al sy gedaantes. Verlede keer was julle by die Festival voor het Afrikaans, en vanjaar by die Week van de Afrikaanse roman. Wil julle albei gesels oor julle musiek en hoe dit taal komplimenteer of daarby aansluit, asook oor hoe julle voel Nederlands aansny by die taal van julle eie tong? Wat is eenders, wat is anders?

Frazer: Een van my grootste uitdagings gedurende my jeug was die kwessie van musikale identiteit. Ons was gebombardeer met Amerikaanse en Brits/Europese musiek en klanke. Tussen al die internasionale geraas het ek glad nie tuisgevoel nie. Nee ek sê nie dat dit nie goed is of was nie. Dit gaan hier oor die klank van my tuiste. Die geluide wat my laat praat soos ek praat. Behalwe vir die feit dat ons blootgestel is aan al hierdie internasionale klanke, was ek steeds nie tuis in daardie musiek nie. Daar was vrae waarmee ek geworstel het. Waar is my Suid-Afrikaanse klanke dan? My Afrikaklanke. My klankbaan. Die manier hoe ek praat, klink en sing. Waar is my gemeenskap se klanke? Dit was nie daar nie. Ek het toe besef dat dit logies en makliker is vir my om my Afrikaklanke te skep as wat ek probeer om soos iemand van ’n ander wêreld te probeer klink. So klink my Afrika en so klink my vertolking van my omgewing en my Suid-Afrikaanse mense. Ek het toe sowat 23 jaar gelede my woordkuns en musiek na die publiek geneem. My musiek en skryfwerk is uit die staanspoor teatraal. Ek weet wat die krag van outentieke stories in enige kunsmedium is. Daarom sien ek taal wat gepraat word as die eerste musikale note. Jy kan die musiek in enige persoon ervaar net op die manier van praat en die emosie wat daarmee gepaard gaan. Daar is ’n sekere frekwensie wat in kombinasie die toon is waarmee elke persoon praat en geken word. So wanneer ek gedigte skryf, hoor ek die lied. Wanneer ek ander se gedigte hoor, hoor ek die lied. Ek hoor waar die klem is, ek hoor die emosie en ek voel die ritme. Dit is vir my alles so verweef. Mens het mos maar die verskillende boksies geskep om alles herkenbaar en veilig te hou asook om dinge te ontwikkel deur dit te ondersoek. Die taalwetenskap het al hierdie wonderlike beskrywings en soorte uitdrukkings, maar vir my ore is woorde ook musiek. Ek kan nie anders en weet nie hoe om anders daarna te luister nie.

Deniel & Frazer: Ons hoor gewoonlik dat jy net stadig moet praat indien jy as Afrikaanssprekende in Nederland ’n gesprek voer. Alhoewel dit by tye werk, gaan jy agterkom dat Afrikaans in Afrika gevorm is en daarom ’n heeltemal nuwe taal is met oorblyfsels van ou Nederlandse woorde. Tog is daar baie van die klanke wat darem naastenby soos mekaar klink asook sinne wat jy naastenby kan verstaan as gevolg van sekere klanke wat bekend klink. Jy kan jou egter lekker vasloop indien jy gaan dink dat jy sonder misverstande ’n soomlose gesprek gaan voer. Nederlands het as ’n taal soveel verandering oor die 300 jaar ondergaan terwyl Afrikaans in sy eie rigting gegroei het en daar in Afrikaans soveel dialekte gevind kan word. Daarom is dit soms moeilik om hierdie taalbrug te oorkom, maar Suid-Afrikaners en Nederlanders het intussen ook soveel blootstelling aan mekaar se kulture, wat hierdie brug soveel makliker maak. Mens se ore raak dan maar gekultiveerd en in daardie opsig kom jy gou agter wat bedoel word wanneer daar gesprekvoering is.

Lees ook

Week van de Afrikaanse roman 2019: onderhoud met Valda Jansen

Week van de Afrikaanse roman 2019: onderhoud met Riana Scheepers

Week van de Afrikaanse roman 2019: onderhoud met Eben Venter

Programma: Week van de Afrikaanse roman 2019

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top