Week van de Afrikaanse roman 2019: onderhoud met Valda Jansen

  • 0

Valda Jansen gesels met Naomi Meyer oor die Week van de Afrikaanse roman 2019, waar sy binnekort optree.

Valda Jansen (Foto: Brenda Veldtman)

Valda, in ’n onlangse artikel op Voertaal is daar geskryf dat apartheid vir jou jou Boereoorlog is. Ons durf dit nie vergeet nie. Wil jy dalk hierop uitbrei en jou gedagtes daarrondom deel?

Die uitspraak het die eerste keer “gebeur” toe ek in 2017 die Jan Rabie Rapportprys ontvang het; ek het nie verwag dat ek sou wen nie en het heeltemal spontaan gepraat. Dis ’n soort “verklaring” oor waarom apartheid in my boek neerslag gekry het.

Dit het ook uitgemond in ’n onderhoud (in Die Burger) met Murray la Vita waarin dit prominensie gekry het.

Die reaksie op hierdie uitspraak is problematies. Daar is twee strominge: ’n dawerende stilte aan die een kant en venynige aanmerkings aan die ander.

Dit het daartoe gelei dat ek liefs nie meer daaroor wil praat nie. 

Ek voel ek het die volste reg om my sê te sê oor apartheid en daarmee neem ek geensins enigiets weg van die impak van die Boereoorlog op wit individue nie. 

Daar was geen konstruktiewe reaksie vanuit die wit gemeenskap hierop nie en ek word net telkens gevra om dit weer te verduidelik; en daarna moet ek óf wag op ’n reaksie óf ek moet koes. 

Dis asof wit mense sukkel om húl gevoelens oor apartheid te verwoord. En dis ’n pad wat hulle self moet loop.

Maar ek word deesdae ook van iets anders bewus.

Telkens duik daar uitsprake deur wit skrywers op oor wit mense en hul doel in hierdie land en of hulle mag praat of nie. Daar word  vrae gevra soos: wat is dit wat swart mense wil hê wit mense moet doen? Wat is dit wat jy wil hê ek moet doen? Hoe kan jy vir my help om jou te help?

Daar is vir my amper ’n soort aggressie daaraan. ’n Woede wat onder die oppervlak lê. 

..........

“Ek voel ek het die volste reg om my sê te sê oor apartheid en daarmee neem ek geensins enigiets weg van die impak van die Boereoorlog op wit individue nie.” 

..........

Ek stem ook nie daarmee saam dat iemand soos ek aan wit mense moet voorskryf wat hulle behoort te doen nie. Dis iets wat van hulle af moet kom: ’n besluit; ’n opregtheid; ’n eie begeerte om iets te doen wat ’n medemens tot voordeel sal wees; ’n poging om ander voorheenbevoorregtes te betrek.

Wie en wat en hoe is nie my besluit nie.

Was jy al vantevore in Nederland? Indien wel, wat was jou ervarings en indien nie, waarna sien jy uit of hoe antisipeer jy hierdie fees?

Ja. Die eerste keer het ek verwag om ’n soort tuiskoms te ervaar, ek het gedink ek sou onmiddellik tuis voel, veral weens die taal. Maar nee. Die baie water het my ook ongemaklik gemaak. 

Die tweede keer het ek dit meer geniet want die weer was beter en ek het mense besoek wat ek vroeër in Duitsland leer ken het. 

Beoog jy om nog te gaan reis terwyl jy daar is?

My dogter vergesel my en ons vlieg eers Duitsland toe waar ons ’n paar dae by vriende in Keulen gaan kuier. Anna is 14 jaar oud en dit sal haar derde besoek aan Duitsland wees; die eerste keer was sy 4 en die tweede keer 8. Ons sien ook uit na die treinrit vanaf Keulen na Amsterdam vir die Week van de Afrikaanse roman.

Is jy besig om aan ’n nuwe projek te werk? Of wat geniet jy om te doen wat nie skryfwerk behels nie?

Dit was ’n groot voorreg om vanjaar te kon deel wees van die Afrikaanse departement by UWK. Ek het dit altyd baie geniet om skool te hou en die interaksie met die studente vanjaar was baie spesiaal. 

Wat volgende jaar vir my inhou weet ek nie, maar dit is my begeerte om meer te skryf.

Lees ook

Week van de Afrikaanse roman 2019: onderhoud met Riana Scheepers

Week van de Afrikaanse Roman 2019: onderhoud met Eben Venter

Week van de Afrikaanse Roman 2019: onderhoud met Frazer en Deniel Barry

Programma: Week van de Afrikaanse roman 2019

Lees op Voertaal

Schrijfster Valda Jansen: "De apartheid is mijn Boerenoorlog"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top