Coffee Snobs en Riana Scheepers: Die reis van vers na liriek ‒ ’n LitNet-lesersindruk

  • 0

Foto’s: verskaf

Hierdie indrukke is uit eie beweging van Zelda Mans aan LitNet gestuur.

“Jy’s gemaak om jou storie te vertel,” sing Vernette Wessels oor my motor se radio terwyl ek huiswaarts keer na die Coffee Snobs-vertoning by die Dias-museum in Mosselbaai.

“Jy’t lank genoeg weggekruip agter daardie swart gordyn. Dis tyd dat jy in die middel staan,” neurie ek saam. Die woorde is rou en eerlik en praat met jou siel.

Donkernagpantoen: Die reis van vers na liriek is ’n produksie waarin die digter en skrywer Riana Scheepers haar kreatiewe kragte saam met Marius en Vernette Wessels van Coffee Snobs gegooi het om musiek, liriek en vers weer lewendig te maak. Die vertoning was die eerste van vele wat deur ArtSpace Mosselbaai gekoördineer gaan word.

Die aanloop tot die vertoning was ’n ervaring op sigself. Die teatergangers het gewissel van jong volwassenes tot wyse gryses wat kniekombersies saamgeneem het. Bekende kunstenaars het ook skouers geskuur en was tussen die gehoorlede gekamoefleer. Die sanger Jan de Wet het hom in een van die stoele tuisgemaak. Daarna het die plaaslike skrywer van Die hond wat ophou blaf het, Jo Nel, ook ongesiens in die agterste gestoeltes gaan sit.

Riana Scheepers het vol selfvertroue vir die gehoor ’n literatuurlesing (soos sy dit noem) gegee. Sy het verduidelik wat die doel agter die produksie is. Dit is om met nuwe oë na Bybelse, klassieke en eietydse literêre genres te kyk. Die musikale verwerking daarvan het die gehoor met nuwe brille na die wonder van digkuns en narratiewe poësie laat kyk.

’n Profesie, ballade, ode, villanelle, oubade, parodie, smartlap, Kaapse moppie, wiegielied, pantoen en ’n gebed is die vorme van literatuur wat op ’n besonderse wyse deur Coffee Snobs getoonset is.

“Japie”, geskryf deur Riana Scheepers as voorbeeld van ’n oubade, het die gehoor op komiese oomblikke laat proes van die lag. Vernette en Marius het die ideale persoonlikhede om díe oggendlied op ’n speelse wyse oor te dra.

Menige teaterganger het ’n traan uit die oog gevee toe Vernette haar eie verwerking van “Trein na Pretoria” gesing het. Die sentimentele verdriet is uitstekend in hierdie tranetrekker oorgedra.

Vernette vat elkeen op ’n diepdenkende reis met haar slotlied, “Die reis”, wat oorspronklik deur haar geskryf is en later deur Laurika Rauch opgeneem is.

Almal is traag om die museum te verlaat, want die aand was ’n bewys dat die egste, eenvoudigste en eerlikste vorm van kuns nog bestaan. Coffee Snobs se hele vertoning en menswees het dit duidelik gemaak dat hulle sing om hulle storie te vertel. Hulle sing nie vir beroemdheid of faam nie. Hulle sing omdat hulle nie anders kan nie. Hulle sing omdat die lig wat in hulle is, met ander gedeel moet word.

“... kry jou denke vlerke wanneer jy die perke van jou denke kan oorskry,” sing die blondekop verder net toe ek by my motoroprit indraai.

Zelda Mans is in Kroonstad gebore, waarna sy onderwys in Potchefstroom gaan studeer het. Na ’n vinnige draai in Cradock het sy die Karoo vir die see verruil. Sy is tans woonagtig in Hartenbos en is ’n ywerige Afrikaans-onderwyseres by Hoërskool Punt. In 2016 verskyn haar debuutromanse Sy hart se lens by LAPA-uitgewers en kort daarna die roman Waar die krieke sing. Sy is tans besig om deeltyds aan die Universiteit van Fort Hare in Afrikaanse letterkunde te spesialiseer. Die fokus van haar navorsing is emosionele genesing in letterkunde. Musiek, kuns en letterkunde is waarom alles vir haar draai.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top