
Foto via Pexels
- Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Die afgelope ruk sien ek gereeld trotse kommentaar oor hoedat Zohran Mamdani, die kandidaat vir New York se burgemeesterskap, in Suid-Afrika skoolgegaan het, met die onvermydelike implikasie dat sy tyd hier sy politieke denke moes beïnvloed het.
Dalk het dit, wie weet? Maar as dit enige invloed gehad het, weet ek nie of dit die tipe is waaroor ons noodwendig hoef te koop te loop nie. Om mee te begin, was Mamdani vir een, of hoogstens twee jaar in Kaapstad by St George’s, ’n Anglikaanse privaatskool. Die skool se rekords is nie baie duidelik oor hoe lank hy daar was nie. Boonop was hy vyf, hoogstens ses toe hy daar was. Ek onthou nie veel van wat mens op daai ouderdom op skool leer nie, maar ek reken hy was seker maar graad R en dan graad 1, wat beteken dat hy sou leer lees en skryf het. G’n diep filosofiese denke wat op daai ouderdom ingebed word nie, dink ek. Boonop sou hy waarskynlik sy voete probeer vind en nuwe maatjies kry noudat hy hom in ’n ander land bevind. Hy is in Uganda gebore, en sou Suid-Afrika waarskynlik ’n aanpassing vind, met ander tale, ander gebruike om aan gewoond te raak, en so meer.
Wat wel ‘n impak op hom sou gehad het, is dat St George’s ’n Christelike skool is, en hy ’n Moslem-seuntjie. Dis nie duidelik of hy moes deelneem aan gebede en byeenkomste wat normaalweg by sulke skole die geval is nie. Maar selfs al het hy nie, is ’n Christelike etos die onderbou van alles wat in die skool gedoen word. Al word diversiteit gevier in die skool, kan ek my nie indink dat daar voorsiening gemaak sou word vir sy gebede en rituele nie, behalwe dalk op “show and tell”-dae. Hy sou ook een van min kinders wees wat nie een of ander vorm van christelike geloof aanhang nie.
Sou dit hom meer veerkragtig maak op lang termyn? Ek weet nie, maar ek twyfel of dit hom op daai ouderdom sou laat spesiaal voel het. Kindertjies wil deel van die groep wees; hulle wil nie enigiets wees wat hulle onderskei van hul maatjies nie.
........
Mamdani, en mense soos Alexandria Ocasio-Cortez is ’n bedreiging vir die establishment, omdat hulle bereid is om die status quo heeltemal omver te werp. Dalk is dít iets wat hy uit Suid-Afrika geleer het?
........
Dis ook nie duidelik of hy kontak behou het met enige van sy skoolmaats hier nie. Goeiste, hy kon waarskynlik nog nie behoorlik skryf toe hy hier weg is nie. Dis moontlik dat sy ouers met kollegas kontak behou het, en dat hy op daai manier steeds Mzansi-verbintenisse het, maar selfs dit is te bevraagteken.
In elk geval, met Trump wat vuur blaas teen alles wat Suid-Afrikaans is, is ek nie seker dat Mamdani sy kortstondige verbintenis wil ten toon stel nie.
Sy impak alreeds op Amerikaanse politiek is in elk geval veel groter as waar hy sy eerste skooljare deurgebring het. ’n Moslem wat die steun van skuins duskant ’n miljoen Jode in New York geniet, ’n sosialis wat gratis busse en toebehore vir nuwe ouers wil inbring, ’n politikus wat openlik teen Israel en ten gunste van Palestina praat, en steeds die Demokratiese voorloper is? Dit gaan lynreg in teen wat Amerikaanse politiek sê moontlik is. Boonop is hy jonk, charismaties en glad nie gedrewe deur geld nie.
Dalk is dit hoekom die Demokratiese establishment hul bes probeer om hom te diskrediteer.
Ek sien onlangs ’n meem waar Nancy Pelosi opdrag gee dat die Demokrate moet soek vir jong, dinamiese, gewilde kandidate wat luister na hul publiek en openbare diens probeer lewer. Dan sê Chuck Schumer: “Found one”, en Nancy gee opdrag: “Take the shot.”
Mamdani, en mense soos Alexandria Ocasio-Cortez is ’n bedreiging vir die establishment, omdat hulle bereid is om die status quo heeltemal omver te werp.
Dalk is dít iets wat hy uit Suid-Afrika geleer het?
Lees ook:
Wat sê Bettina? Wat is die implikasies van Trump en Musk se uitval?

