- Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
My eerste gedagte met die aankondiging van die Nasionale Dialoog was watter kader se beurt dit nóú was om snoet aan die trog te sit. Die tweede gedagte, baie lank na die eerste, was of dit hoegenaamd nodig is om ’n peperduur talkshop aan die gang te sit. Weet ons nie wat die probleme is nie? Weet ons nie selfs hoe om dit reg te stel as die politieke wil maar net daar kan wees nie?
Selfs met die aanloop tot die Nasionale Konvensie op 15 Augustus was daar al probleme. Die Nasionale Konvensie is die eerste salvo wat afgevuur word om die Nasionale Dialoog aan die gang te sit. Talking about talking, so te sê. Maar selfs vóór die konvensie het van die belangrikste stigtings wat deel van die beplanningskomitee moes uitmaak, onttrek. Hulle het dit duidelik gemaak hulle onttrek aan die konvensie, nie die dialoog nie. Hul redes behoort aanleiding tot kommer te gee.
Soos ek, is hulle bekommerd oor die finansiële aspek, dat fondse dalk bestee kan word sonder dat daar behoorlik verantwoording gedoen word, aangesien daar nog nie eens ’n begroting is nie. Die Minister van Finansies het in sy begrotingsrede aangedui dat die Dialoog nie voor begroot word nie, dat dit deur donasies en dies meer befonds sal word. Snoettrogparadys, dalk?
Die tweede rede wat die stigtings aanvoer, is dat daar nie behoorlike voorbereiding getref is nie, dat die dialoog veronderstel is om deur burgers gelei te word, maar dat die regering al meer oorneem. Dis veral kommerwekkend omdat, soos hulle dit ook stel, dit kan beteken dat die Nasionale Dialoog dan net “performative” is. Vir die stigtings, wat almal gesteld is op hul integriteit, is dit natuurlik ’n bron van kommer. Die stigtings is die Steve Biko-, Thabo Mbeki-, Chief Albert Luthuli-, Desmond en Leah Tutu-, FW De Klerk-, Oliver en Adelaide Tambo- en Strategiese Dialoog-stigtings.
Ten spyte van die besware van die stigtings het die konvensie voortgegaan. Pres Ramaphosa ignoreer in sy openingsrede heeltemal die afwesigheid van die stigtings en sê dat die stemme van groot en klein gehoor sal word tydens die dialoog. Dit terwyl daar alreeds tydens die beplanningsfase gestoomroller word oor vennote se besware.
.......
Is daar regtig ’n verwagting dat ons enigiets nuuts gaan leer deur die Nasionale Dialoog, veral as dit deur die regering gedryf word? Ek wonder of groot dele van die nasionale ongelukkigheid wat aanleiding gegee het tot die identifisering van die behoefte aan dialoog, nie opgelos sou word deur effektiewe diens op nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsvlakke nie.
.......
As voormalige presidente en Nobelpryswenners se stigtings nie gehoor kan word nie, watter hoop het gewone burgers dat hulle stemme ernstig opgeneem gaan word?
Maar goed, kom ons veronderstel dat my sinisme ongegrond is. Is daar regtig ’n verwagting dat ons enigiets nuuts gaan leer deur die Nasionale Dialoog, veral as dit deur die regering gedryf word? Ek wonder of groot dele van die nasionale ongelukkigheid wat aanleiding gegee het tot die identifisering van die behoefte aan dialoog, nie opgelos sou word deur effektiewe diens op nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsvlakke nie. As werkloosheid onder beheer gebring kon word, as munisipaliteite gesorg het dat ons dienste gebied word, as Eskom die ligte kan aanhou, as ons skoon water kon kry en riolering behoorlik geskied, as slaggate in paaie vinnig reggemaak kan word, en as korrupte amptenare blitsvinnig aan die pen ry, sou dit nog nodig wees vir nasionale dialoog? Anders gestel, as die regering op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak gewerk het, sou dit dan nog nodig wees om miljoene uit te gee om met mense te probeer praat, veral as daar kommer uitgespreek word oor of daar gehoor gegee gaan word aan wat gesê word?
Gaan hierdie Nasionale Dialoog effektief wees, of gaan dit net soos die talle kommissies wat oor die jare aangestel was, net nog ’n klugspel wees wat oëverblindery is, ’n oefening om te sê iets was gedoen sonder dat enige resultate verkry of afgedwing kan word?
Madness is doing the same thing over and over, expecting a different result. Is ons besig met nasionale stapelgekheid?
Lees ook:
Die Nasionale Dialoog: ’n berekende strategie, of ’n geldverkwistende “talkshop”?
Wat sê Bettina? Is een tree vorentoe en twee treë terug ’n cha-cha, Uncle Cyril?
Wat sê Bettina? Myburgh, Malaka en die Dior-sak met R60 000 kontant