
- Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Die nuus dat die Suid-Afrikaanse ambassadeur na Frankryk, Nathi Mthethwa, afgesterwe het, het op Dinsdag 30 September skokgolwe deur die land gestuur, veral toe die fluisteringe begin dat dit dalk selfdood was.
Sy vrou het Maandag ’n kommerwekkende boodskap van hom ontvang. Sy liggaam is Dinsdag in die binnehof van ’n Franse hotel gevind. Sy hotelsuite, op die twee-en-twintigste vloer, se venster is oopgeforseer met ’n skêr, so word berig. Maar op hierdie punt begin dinge vir my raaiselagtig word. Toegegee, ek is ’n krimiskrywer, maar ek ruik ’n rot.
Hoekom sou Mthethwa gespring het? Daar is nog geen aanduiding in enige van die nuusberigte wat ek onder oë gehad het, dat hy aan depressie gely het nie. Dit kon seker ongediagnoseerd wees, en dis bekend dat mans minder geredelik hulp soek vir hul sielkundige probleme as vroue. Maar seer sekerlik sou iemand ’n verandering in hom agtergekom het, vermoed dat iets nie pluis is nie, selfs al dink hulle nie selfdood nie?
........
Hy was soos die oorspronklike Teflon-mannetjie. Geen skandaal kon vaskleef nie.
........
Die mening word uitgespreek dat hy gedryf is uit desperaatheid en vrees vir die bevindinge wat die Madlanga-kommissie kan maak oor sy bedrywighede as minister van polisie. Dit maak nie sin nie. Die Farlam-kommissie het alreeds sy kop gewas oor die Marikana-slagting, en dit het hom op die oog af nie veel politieke skade berokken nie. Die Nkandla-skandaal het hy eweneens van weggehuppel. Die R22 miljoen-vlagpaal? Dieselfde. Hy was soos die oorspronklike Teflon-mannetjie. Geen skandaal kon vaskleef nie.
Nie een enkele belangrike rolspeler het in al die kommissies oor al die jare heen ernstige gevolge ervaar nie. As sy pos as Franse ambassadeur beskou is as ’n straf, dan kan ek dink aan veel meer onaangename strawwe. Om te dink dat Mthethwa gespring het oor die kommissie se ondersoek, is veel eerder wensdenkery van mense wat hoop dat hierdie kommissie anders sal wees as al die ander voriges. Tot dusver sien ek nie enige tekens dat dit wel die geval is nie. Die effektiwiteit van die kommissie sal eers gesien kan word nadat die verslag gelewer is. As koppe rol, nou ja, dan is dit goed so, maar ek hou nie asem op nie.
.......
Mthethwa was lank genoeg in die binnekringe van die ANC- politieke rolspelers dat hy geheime weet wat niemand uitgelap wil hê nie.
.......
Beteken dit hy het hulp en aanmoediging gehad om by daai venster uit te kom? Die Franse polisie se aanvanklike ondersoek wys daarop dat daar nie enige tekens van ’n worsteling was in die hotelkamer nie. As hy gemartel is, dan sou ’n val uit die twee-en-twintigste verdieping van ’n gebou enige beserings vooraf opgedoen voldoende kon verberg. Niemand sal weet ’n gebreekte arm, byvoorbeeld, is vooraf opgedoen of as gevolg van die val nie. Die impak van die val sou katastrofiese beserings tot gevolg gehad het.
Dit laat die vraag: Hoekom sou iemand hom wou dood hê? Mthethwa was lank genoeg in die binnekringe van die ANC- politieke rolspelers dat hy geheime weet wat niemand uitgelap wil hê nie.
Of dit genoeg rede is om hom te defenestreer, is ’n ope vraag. My vermoede is die Franse polisie gaan skouers ophaal en sê hulle kry geen bewys van vuilspel nie.
Ons sal nooit regtig weet nie, sal ons?
Lees ook:
Wat sê Bettina? Regse op regse geweld in Charlie Kirk se sluipmoord
Wat sê Bettina? Myburgh, Malaka en die Dior-sak met R60 000 kontant


Kommentaar
Die insident het my aan dié gedig laat terugdink:
“In Detention” – Chris Van Wyk
He fell from the ninth floor
He hanged himself
He slipped on a piece of soap while washing
He hanged himself
He slipped on a piece of soap while washing
He fell from the ninth floor
He hanged himself while washing
He slipped from the ninth floor
He hung from the ninth floor
He slipped on the ninth floor while washing
He fell from a piece of soap while slipping
He hung from the ninth floor
He washed from the ninth floor while slipping
He hung from a piece of soap while washing.
Depressie is maar een van vele redes vir selfdood; voltooide lewe of lewensmoeg is nog een: dus selfbeskikking.
Die ironie van die nabyheid van die woord sinister aan minister ontsnap my nie.
Bheki Cele is geskors as nasionale kommissaris gedurende die gewese minister se termyn.
Politieke moorde in Kwazulu Natal het nou hele kommissie van ondersoek oor die korrupsie in polisiegeledere. Dit bring die sinistêre deel na vore in Bettina se skryfsel: Wie beweer, moet bewys.