
Suid-Koreaanse vlag: Pixabay
- Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek op LitNet.
Die kortste mislukte poging om ’n demokrasie om te keer in ’n diktatorskap het hierdie week in Suid-Korea plaasgevind.
Die aand van 3 Desember 2024 het die president van Suid-Korea, Yoon Suk Yeol, krygswet aangekondig in ’n televisie-uitsending. Deur krygswet word ’n verkose regering met militêre beheer vervang. In effek word ’n land se weermag teen sy eie burgers gebruik. Daarmee saam word enige opposisie onderdruk. Ook in Suid-Korea was daar ’n poging om dit te doen. Die President het alle politieke aktiwiteite verbied, enige byeenkomste van die wetgewende gesag verbied, en die vryheid van die pers is opgeskort. Hy het ook arrestasie sonder lasbriewe goedgekeur. Met ander woorde, die algehele opskorting van ’n regstelsel is beveel.
........
Deur krygswet word ’n verkose regering met militêre beheer vervang. In effek word ’n land se weermag teen sy eie burgers gebruik.
........
Krygswet word onder normale omstandighede net gebruik wanneer daar een of ander noodtoestand heers. “Noodtoestand” is natuurlik ’n woord warmee ouer Suid-Afrikaners goed bekend is.
Wat het Yoon daartoe aangespoor? Hy het beweer, sonder veel getuienis, dat die Demokratiese Party, wat ’n meerderheid in die nasionale vergadering het, besig is met aktiwiteite wat teen die staat gerig is.
Die Demokratiese Party het aangevoer dat hulle hulle demokratiese reg uitoefen om teen begrotingsvoorstelle te stem en om staatsaanklaers wat in skandale betrokke is, in ’n staat van beskuldiging te plaas. Yoon se eie vrou word ook ondersoek, wat sekerlik ’n groot motiveerder sou wees vir hom om op te tree. Verder was daar, selfs voor hy krygswet verklaar het, oproepe dat hy self in ’n staat van beskuldiging geplaas moet word.
Politici is toegang tot die parlementêre gebou geweier. Toe hulle steeds toegang verkry deur oor die heinings te klim en probeer om te stem om krygswet tot niet te verklaar, het Yoon probeer om die leiers te laat arresteer. Ten spyte daarvan het die kongres steeds voortgegaan en eenparig besluit om krygswet te beëindig. Yoon se eie party, die People Power Party (PPP), was ook gekant teen die verklaring van krygswet.
Binne ses ure is krygswet beëindig.
Hou in gedagte dat die land maar eers redelik onlangs, in 1987, ware demokrasie ervaar het. Toe het miljoene mense protes aangeteken teen die beheer van die weermag. Presidente was nie direk verkies nie, maar aangewys deur die weermag. Burgers het genoeg gehad, en het en masse geprotesteer. Daar word geraam dat daar in 1987 tussen vier en ses miljoen mense aan protesoptogte deelgeneem het.
Suid-Koreane is dus deeglik bewus van die mag van protes.
........
Wat is tans aan die gebeur? Die Demokratiese Party het aangedui dat hulle Yoon in ’n staat van beskuldiging wil plaas. Dit sal waarskynlik nie gebeur nie, want hulle het die PPP, Yoon se party, se steun nodig daarvoor.
........
Wat is tans aan die gebeur? Die Demokratiese Party het aangedui dat hulle Yoon in ’n staat van beskuldiging wil plaas. Dit sal waarskynlik nie gebeur nie, want hulle het die PPP, Yoon se party, se steun nodig daarvoor. Die PPP het op 5 Desember aangedui dat hulle dit nie gaan ondersteun nie.
Intussen het Suid-Korea se grootste sambreelvakbond, die Korean Confederation of Trade Unions, aangedui dat hulle staak totdat Yoon bedank. Alle Hyundai-werkers is deel van hierdie sambreelvakbond. Indien hierdie situasie dus nie redelik vinnig tot ’n einde gebring word nie, kan ons binne maande dalk tekorte aan die gewilde voertuie, en hul onderdele, begin ervaar.
Maar wat kan ons hieruit leer?
- Demokrasie is broos en moet konstant beskerm word.
- Dit het hier basies twee persone, die president en die minister van verdediging, gekos om krygswet te verklaar, al was dit kortstondig.
- Protes deur gewone burgers, en politieke ingeligtheid en betrokkenheid deur gewone burgers, is absoluut belangrik om seker te maak demokrasie word nie ondermyn nie.
Kom ons hoop dat openbare druk genoeg is om Yoon te noop om te bedank.
Lees ook:

