Wat sê Bettina? Oor Swart Vrydag-winskopies

  • 1

Foto: Unsplash

  • Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek op LitNet.

Swart Vrydag en Halloween is vir my twee tradisies wat in dieselfde WhatsApp-groepie tuishoort – Amerikaanse verbruikersvakansies wat ons sonder konteks of enige sin vir ironie, plaaslike gebruike en tradisie oorneem.

Dit word net nog ’n verskoning om geld uit verbruikers se sakke te probeer pluk. Maar al meer is daar ’n gevoel dat verbruikers ook nie meer dom is nie. Nie te lank gelede nie was daar elke Swart Vrydag nuusberigte oor hoe mense Game se deure afgebreek het om eerste binne te wees, of hoe hulle vuis geslaan het oor die laaste pak toiletpapier. In Shoprite het mense baklei oor bottels koeldrank.

Dit gebeur nie meer nie.

Groothandelaars het besef dat hulle in plaas van een dag van verbruikersgekheid, dit kan uitrek na ’n week of twee.

Maar is pryse regtig goedkoper op Swart Vrydag, of in Swart Week, soos dit al meer bekend staan? Die Britse verbruikersgroep Which? waarsku op die BBC dat die meeste Swart Vrydag- spesiale aanbiedinge eintlik maar dieselfde prys is as deur die jaar, of in sommige gevalle selfs duurder as ander tye.

........
Met stygende lewenskostes draai mense hulle sente om en koop eerder die goed wat hulle nodig het as wat hulle luukshede koop. Al ooit gewonder hoekom daar nie eintlik Swart Vrydag- spesiale aanbiedinge op vleis en groente is nie?
........

Verbruikers het ook slimmer, of dalk armer, geraak. Hulle besef dat hulle spesiale aanbiedinge dwarsdeur November en Desember kan kry, en nou nie meer met groot dringendheid op een dag hoef te koop nie. Ander, soos ek self, wag tot Januarie wanneer baie winkels regte besparings bied. Die gesaghebbende Forbes-tydskrif haal een kenner, Brystal Rosensweig, aan wat sê dat verbruikers al meer aan “discount fatigue” ly en daarom op Swart Vrydag uit die winkels wegbly. Tong-in-die-kies gesê, dié wat in vuisgevegte betrokke geraak het, het seker ook agtergekom dokters se spreekkamers bied nie Swart Vrydag-afslag nie.

Die laaste paar weke doen daar een spesifieke meem die rondte met die bewoording: “We all have big screen TVs now, give us Black Friday specials on groceries.” Met stygende lewenskostes draai mense hulle sente om en koop eerder die goed wat hulle nodig het as wat hulle luukshede koop. Al ooit gewonder hoekom daar nie eintlik Swart Vrydag- spesiale aanbiedinge op vleis en groente is nie? Groothandelaars weet mense moet dit in elk geval koop. Dus dryf hulle verkope  van luukse goedere wat verbruikers dalk andersins nie sou aankoop nie.

Ek neem nie deel aan Swart Vrydag-malligheid nie. As daar ’n item is wat ek in elk geval wou koop, en ek weet die spesiale-aanbod-prys is wel aansienlik goedkoper as die normale prys, dan sal ek dit oorweeg om dit te koop. Anders bly ek ver weg.

.........
Daar is wel een Swart Vrydag-aanbod wat ek elke jaar ondersteun: Woordeboek van die Afrikaanse Taal  (WAT) se “borg twee woorde vir die prys van een” ... Soveel mense sê hulle veg vir Afrikaans, maar hoeveel ondersteun WAT se werk?
.........

Daar is wel een Swart Vrydag-aanbod wat ek elke jaar ondersteun: Woordeboek van die Afrikaanse Taal  (WAT) se “borg twee woorde vir die prys van een”. Daar is ook ander aanbiedinge, soos om woorde te koop, of om dié dele van die WAT wat voltooi is, in boekvorm te koop.Ek wag tot wanneer hulle al die letters van die alfabet voltooi het (hulle is nou by U), dan gaan ek die leergebinde stel koop. Intussen borg ek twee woorde vir die prys van een. Dis ’n regte winskopie, en dis ’n konkrete manier om in die behoud van Afrikaans belê.

Soveel mense sê hulle veg vir Afrikaans, maar hoeveel ondersteun WAT se werk? Dalk is hierdie Swart Vrydag-aanbod, wat boonop nog tot in Desember strek, die ideale geleentheid om geld aan iets blywend te bestee.

Die grootste aantrekking vir my? Ek kan dit aanlyn doen. Geen gevaar dat iemand my gaan pot omdat hulle dieselfde woord wil borg nie. Plus: Daar is geen gevaar van discount fatigue nie.

Lees ook:

Persverklaring: Swart Vrydag-winskopies by die WAT – alles nou halfprys

WAT: Die letter U is nou aanlyn beskikbaar

Toespraak gelewer by die WAT-bekendstelling van U: 14 Oktober 2024

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Oor die jare het ek verskeie woorde geborg. Die WAT en soortgelyke inisiatiewe is egter, soos ek verstaan, net 'n bose, rassistiese, koloniale, eksklusiewe, reaksionêre, onderdrukkende en diskriminerende instrument van apartheid, waarmee mense verontreg was en steeds word. Ou wit ooms wat besluit wat is Afrikaans en wat nie. En Europeaanse setlaar wat ek is, het ek lustig meegedoen aan hierdie dinge so oor die jare.

    Blykbaar is daar byvoorbeeld net 10 of wat Arabiese woorde oogeneem destyds. Dit het intussen verander. Noudat dit te laat is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top