Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal het onlangs die letter U aanlyn gepubliseer. Hierdie nuutste trajek van die WAT strek vanaf die inskrywing vir die letter U as die 21ste letter van die alfabet tot by die woord Uzzi-masjiengeweer. Dit bevat 2 144 lemmas, 5 351 betekenisonderskeidings, 13 962 voorbeeldsinne, 792 poëme en 252 uitdrukkings.
Die bekendstelling het by Stias op Stellenbosch plaasgevind. By die geleentheid het Gerhard van Wyk, eindredakteur van die WAT, die gehoor ingelig oor die omvang van die U-trajek en ’n verskeidenheid interessante voorbeelde uitgelig. Phillip Louw, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT, het hierna uitgebrei oor die suksesse van die afgelope jaar en sy toekomsvisie vir die WAT gedeel.
Kyk na die video’s:
Lees ook Gerhard van Wyk se volledige toespraak hier.
By dieselfde geleentheid is Rudie van Rensburg aangewys as die nuwe beskermpersoon van die WAT se Borg ’n Woord-projek. Volgens Van Rensburg is dit ’n groot voorreg om as beskermpersoon aangewys te word en sy liefde vir Afrikaans ook op dié manier uit te leef: “Dit is vir my ondenkbaar om in ’n ander taal as Afrikaans te skryf, want dit is my hartstaal. Solank ons skryf, dig, sing en praat in Afrikaans en al sy variante, sal die taal lewend bly. Maar om dit na behore te doen het ons woordeboeke soos die WAT nodig wat voortdurend vernuwe om die volle spektrum van ons pragtige taal te weerspieël. Jy kan ook daarby betrokke raak deur jou gunstelingwoord te borg of te koop.”
Besoek www.wat.co.za om ’n woord te borg of te koop. Teen slegs R100 om ’n woord te borg, kry jy ook vir ses maande toegang tot die aanlyn WAT.
Lees ook:
Toespraak gelewer by die WAT-bekendstelling van U: 14 Oktober 2024
Persverklaring – WAT: Rudie van Rensburg as nuwe beskermpersoon aangewys
Foto’s en video’s: WAT stel T bekend op luisterryke T-partytjie
Foto’s en video’s: WAT stel T bekend op luisterryke T-partytjie