
Foto van Solet Scheeres: verskaf
Die meisie met uitroeptekens in haar oë
Skrywers: Verskeie
Pan Macmillan South Africa
ISBN: 9781776250387
Die meisie met uitroeptekens in haar oë is ’n lekkerleesboek vir tieners.
Onderwysers vir graad 7, graad 8 en graad 9 kan ook die stories met vrug in die klas aanwend as hulle op soek is na voorbereide leesstukke of begripstoetse.
’n Paar van die skrywers vertel vir Naomi Meyer van hul kortverhale in die bundel.
Solet Scheeres praat met Naomi Meyer oor haar storie “Egeltjie” wat opgeneem is in die bundel Die meisie met uitroeptekens in haar oë.
Solet, jou storie, “Egeltjie”, handel oor twee karakters uit verskillende lande wat op mekaar verlief raak. Jy ken albei die lande waarvandaan die karakters kom! Vertel my wie jy is en ook wie jou karakters is?
Ek kom oorspronklik uit die Bosveld; skoolgegaan by Affies in Pretoria; joernalistiek geswot op die PUK; by die SABC gewerk en in 2004 saam met my man en drie kinders Noord-Brabant toe verhuis. Sindsdien het ek gekwalifiseer as "docent Engels 2de graad" en hou ek skool in die dorp waar ons woon. Die twee karakters in my verhaal is losweg gebaseer op my dogter, Janneke, se studentelewe op Wageningen-universiteit. Sy werk in so 'n gemeenskapstuin waar dit wemel van internationals en dit het my laat dink: Wat sou gebeur as daar 'n plaaskind uit Suid-Afrika kom studeer en wat dan as die groot verlange huis toe hom sou tref? Die res het vanself gebeur.
..........
Die twee karakters in my verhaal is losweg gebaseer op my dogter, Janneke, se studentelewe op Wageningen-universiteit. Sy werk in so 'n gemeenskapstuin waar dit wemel van internationals en dit het my laat dink: Wat sou gebeur as daar 'n plaaskind uit Suid-Afrika kom studeer en wat dan as die groot verlange huis toe hom sou tref?
.........
Wat was die inspirasie vir jou storie?
Beslis die "egeltje". Ek is dol op krimpvarkies en het nou reeds al die truuks in die boek gebruik om enetjie in my tuintjie in te lok, maar tevergeefs. Daar heers al etlike jare 'n dodelike siekte onder krimpvarkies in Nederland en die "dierenambulans" het hulle hande vol om soveel moontlik van die diertjies te red voor dit te laat is. Janneke het my ook al dikwels vertel hoe hulle siek krimpvarkies in die tuin ontdek het en dan die diereambulans se hulp ingeroep het. In ons gesin is die diereambulans 'n groot bron van vermaak, want die meeste Suid-Afrikaners glo jou nie as jy vertel dat daar 'n hele ambulansdiens is wat net vir diere uitgeroep kan word nie. En dat hulle selfs opdaag vir doodgewone common duiwe!
.........
Ek is dol op krimpvarkies en het nou reeds al die truuks in die boek gebruik om enetjie in my tuintjie in te lok, maar tevergeefs. Daar heers al etlike jare 'n dodelike siekte onder krimpvarkies in Nederland en die "dierenambulans" het hulle hande vol om soveel moontlik van die diertjies te red voor dit te laat is.
.........
Vertel my in 'n paar sinne waaroor jou storie handel, asseblief.
Die storie gaan oor hoe moeilik dit soms kan wees om ver van die huis af te studeer, hoe woke gemeenskaplike groentetuine is en wat gebeur as 'n man hom in 'n kwaai Hollandse meisie vasloop. Want glo vir my, Hollandse meisies is legendariese tawwe tienas!
Lees ook:
Die meisie met uitroeptekens in haar oë: Cliffordene Norton oor haar storie, "Die kind smaak jou"
Lesmateriaal vir Afrikaans-onderwysers: Chase Rhys se Kaapse kortverhaal oor buitengewone mense